Foto’s: Groot skade in Krugersdorp ná storm

Hoërskool Monument (Januarie 2021) (Foto: Storm Report SA/Facebook)

Groot skade is Vrydagaand in Krugersdorp in Gauteng aangerig tydens storms in die gebied.

Gerhardt Nieuwoudt, streekhoof van die brandweer, het aan Maroela Media gesê dit het omstreeks 21:00 begin reën. “Ons het baie reën oor ʼn groot area in ʼn baie kort tydjie gehad,” het hy gesê. Binne ʼn uur ná dit begin reën het, het die brand- en reddingsdiens reeds noodoproepe van inwoners begin ontvang.

Volgens Nieuwoudt het die storm die N14, van Brandvlei na Krugersdorp, die hele Krugersdorp, Kagiso en Munsieville getref. “Dele noord van Krugersdorp, insluitend Muldersdrift en Kromdraai, het ook groot skade opgedoen, alhoewel daar nie baie reën geval het nie.”

Inwoners in Krugersdorp-Wes het die brandweer laat weet dat hul huise reeds tot by die vensterbank opgedam het.

Nieuwoudt het verduidelik daar is ʼn kanaal wat deur die dorp loop en die kanaal het vinnig sy walle oorstroom. Dit het tot grootskaalse infrastruktuur-skade gelei.

In Kagiso, waar die reën in die laagliggende dele geval het, is taxi’s in die storm vasgekeer en vloedwater het tot by die voertuie se vensters opgedam.

Volgens hom is geen sterftes tot dusver aangemeld nie.

“Hoërskool Monument het struktureel ook baie skade opgedoen en mure het by Môreglans Ouetehuis omgeval,” het hy gesê.

ʼn Gekoördineerde opruimingspoging deur Mogale Response Services, die SAPD, die brandweer, die reddingsdiens, gemeenskapspolisiëringsforum en AfriForum is reeds van stapel gestuur om almal ná die oorstromings te help.

Nieuwoudt het gesê die kelder by die Leratong-hospitaal het ook oorstroom en water moes uitgepomp word.

“Die reddingsdiens het Vrydagaand ook by Bergsig naby Mulderdrift ʼn persoon, wat daar gekamp het, bygestaan. Sy voertuig het in die vloedwater weggespoel.”

Volgens hom het die weer vanoggend omstreeks 02:00 eers begin opklaar.

“Ons is vandag steeds besig om die volle omvang van die skade te probeer bepaal.”

Sharday van den Berg, ʼn direkteur by Friends of Emergency Services NPC, koördineer verligtingsprojekte vir die gebied. “Persone wat bystand wil lewer, word versoek om kos, klere (van baba tot volwasse ouderdom vir mans en vroue), komberse en honde- en katkos te skenk,” het Van den Berg gesê.

Friends of Emergency Services kan gekontak word by 064 169 7922 of 082 926 1327.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.