Foto’s: ‘Hartverskeurend’ toe hond, eienaar ná ongeluk herenig word

Rina Calitz herenig met Bulletjie (Foto: Verskaf)

Dit was ʼn hartverskeurende oomblik toe Bulletjie, ʼn pekinees, met sy eienaar herenig is nadat die verskrikte brakkie sowat twee dae lank ná ʼn tragiese motorongeluk vermis was.

Bulletjie en sy eienaars, Rina Calitz (79) en haar man, Tertius Calitz (80), was Maandagmiddag in ʼn ongeluk by Dubbeldrift in Meiringspoort in die Wes-Kaap betrokke. Die egpaar was op pad na Pretoria.

Tertius het in die ongeluk gesterf en Rina, by wie demensie gediagnoseer is, is na ʼn hospitaal geneem.

Bulletjie was skoonveld.

“Bulletjie se stertjie het onmiddellik gewaai toe hy sy eienaar sien. Hy het haar in die gesig gelek en gesoen,” vertel Marlene Mennie, algemene bestuurder van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), ʼn dierewesynsorganisasie.

Nadat hulle van die situasie te hore gekom het, het Mennie Woensdag saam met kollega Patrick Zemba die nat en koue weer trotseer om Bulletjie te gaan red.

Colleen Smith, hoof van ODIN, vertel hulle het ʼn inskrywing op Facebook oor Bulletjie se verdwyning gesien.

“Ons het Woensdagoggend ʼn oproep van een van die organisasie se ondersteuners, Lee-Ann Johnson, ontvang nadat sy ʼn swart en wit hond gesien het terwyl sy deur Meiringspoort gery het. Sy kon egter nie die hondjie in die huurmotor waarin sy gereis het, laai nie,” vertel Smith.

Johnson het ODIN ingelig oor presies waar sy die brakkie gesien het. Mennie en Zemba het summier in die motor gespring en na Bulletjie gaan soek.

“Op pad het ek Johnson se stemboodskap oor en oor geluister om presies seker te maak waar ons moet soek,” vertel Mennie.

Die mistige en reëntoestande het die soektog egter bemoeilik.

Bulletjie het sowat twee meter hoog bo-op ʼn krans, onder die oorhang van ʼn klip gesit (Foto: Verskaf)

Bulletjie het vir twee aande in die nat en koue oorleef (Foto: Verskaf)

In die omgewing waar die hondjie gewaar is, het Zemba vir Bulletjie gesien. Die hond het sowat twee meter hoog bo-op ʼn krans, onder die oorhang van ʼn klip gesit.

“Ons het die motor langs die pad parkeer en na Bulletjie toe gehardloop. Toe ons daar kom, was dit duidelik dat hy nat en verskrik was. Hy het ons nie naby hom toegelaat nie omdat hy erg getraumatiseerd en ons vreemdelinge was.

“Wanneer ons nader gegaan het, het hy vir ons gegrom.”

Mennie en Zemba het Bulletjie met ʼn baadjie probeer vang, maar die verskrikte hond het die hasepad bly kies en eindelik in ʼn rivier beland.

“Bulletjie het probeer om stroomop met die rivier te swem, maar die stroom was sterk weens die onlangse swaar reën. Die stroom hom in ons rigting teruggedruk totdat hy teen ʼn boomstomp vasgedruk is en ons hom kon vang.”

Steeds wou Bulletjie niks weet nie en hy het telkens na Mennie en Zemba gehap.

Patrick Zemba het Bulletjie in die krans opgemerk (Foto: Verskaf)

Bulletjie was verskrik en nat toe hy gevind is (Foto: Verskaf)

“Hy het in die motor die heeltyd vir ons gegrom en tande gewys.”

Terug by ODIN het veeartse Bulletjie deeglik ondersoek en bevestig dat hy nie beseer is nie.

Bulletjie is net ouer as twee en Rina se kleindogter het die hondjie vir haar geskenk gegee nadat demensie by haar gediagnoseer is.

Met die hereniging het Rina vir Bulletjie in haar arms geneem, vasgedruk en soene gegee.

“Dit was ʼn kosbare oomblik. Jy kon sien Bulletjie was baie bly om haar te sien en sommer rustiger ook. Hy het toe hy in Rina se arms was my selfs toegelaat om aan hom te vat.

Selma Calitz (regs) en haar ma, Rina Calitz (links) en Bulletjie (Foto: Verskaf)

Van links: Rina Calitz, Selma Calitz, Patrick Zemba en Marlene Mennie (Foto: Verskaf)

“Die tannie het reeds haar man verloor en dit sou haar breek om vir Bulletjie ook te verloor.”

Hulle is nietemin verstom dat Bulletjie twee aande in die nat en koue omgewing oorleef het, sê die span van ODIN.

“Ons is ook baie dankbaar dat ʼn wilde dier hom nie gevang het of dat hy in die rivierstroom beland en verdrink het nie. Bulletjie was ʼn klein fighter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Witwax ·

Wys jou maar net hoe gehêg n dier aan n mens kan raak as jy hom liefde gee.

Misky ·

Wat ‘n wonderlike storie met ‘n mooi einde vir Bulletjie. So jammer oor die arme oom wat afgesterwe het. Sterkte tannie Rina

Cheryl ·

Wat ‘n pragtige hondtjie, so bly hulle het hom gekry! Baie jammer oor die oom se afsterwe en sterkte aan die tannie en familie. Baie dankie ook aan die mense wat gehelp het om die hondtjie te red.

Juanita ·

Daar is nog goeie mense. Dit is so lekker om te sien. Baie dankie vir julle goeie daad. Dit maak my hartjie so lekker warm voel xxx

Delia ·

Ai, wat n wonderlike goedvoel storie.
Dankie aan almal.
Die fotos is ook pragtig. Meiringspoort is n mooi wereld

MARTIE ·

Ai wonderlik. Baie dankie dat julle hom gered het en met sy ma herenig het.

Charmaine ·

Oudsthoorn Dogs in Need doen absolute fanstastiese werk. Altwee my honnekinders is aangeneem daar. Hul gaan uit hul pad vir enige dier en het glad nie geskroom on in die storm uit te gaan om vir Bulletjie te gaan soek nie. Hierdie organisasie kry GEEN fondse van die regering nie en is afhanklik van die publiek se donasies. Op die oomblik het hul ‘n voedsel krisis aangesien die huidige storms al hul fondse opgedroog het in pogings om die fasiliteit te herstel om die diere op perseel te beskerm. Gaan kyk asb na hul facebook blad en indien u kan, help hul met voedsel donasies. Hul waardeer opreg elke liewe sent. Baie dankie ODIN vir alles wat jul doen!

Skappie ·

Hierdie was nou ‘n lekker storie om te lees, oor Bulletjie. Jammer oor die oom wat oorlede in die ongeluk is. Sterkte aan tannie. Rina. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd dra. Demensie is glad nie ‘n lekker siekte nie. My skoonma is oorlede asgevolg van dit.

Vanessa ·

Dit is wonderlike nuus dat die hondjie en tannie herenig is. Hy sal vir haar vertroosting bied na die oom se afsterwe. Baie sterkte aan tannie Rina. Sy en haar kind (hondjie) is weer saam en ek dink oom Tertius sou ook bly gewees het as hy dit kon sien.

Nettie ·

Mens kry trane in die oë. Dis goed om die omgee van mense te beleef, in ‘n wereld wat tans net haat na alle kante toe. Dankie aan almal vir jul onbaatsugtigheid.

Papsak ·

Ai n dier het maar n mooi persoonlikheid altyd vriendelik en bly om sy mense te sien regtig wens mense kon ook so wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.