Foto’s: Hemelvaart gevier met fakkels, vliegduiwe

Verushka Laubscher van Baba Liefies laat duiwe vry om vir die kinders van Hemelvaart te leer. (Foto: Maroela Media)

Helder kindergesiggies het vanoggend (Donderdag) opgewonde by die Baba Liefies-kleuterskool in Elarduspark, Pretoria, oor die betekenis van Hemelvaart geleer met ʼn hokkie vol spierwit vliegduiwe wat vrygelaat is.

Hemelvaart, wat elke jaar 40 dae ná die Eerste Paasdag plaasvind, is vandag (Donderdag) met verskeie byeenkomste en aktiwiteite oor die hele land gevier.

Hemelvaart vind jaarliks tien dae voor Pinkster plaas. Kleuterskole, asook laer- en hoërskole en selfs Voortrekkerkommando’s en ander instellings en instansies het dié belangrike dag op die Christen-kalender gevier.

Fakkellope, spierwit vliegduiwe, klere-insamelings, kostuumpartytjies en kerkdienste is van die inisiatiewe wat geneem is om Hemelvaart te vier.

Volgens Verushka Laubscher, skoolhoof van Baba Liefies, is Hemelvaart ʼn uitdagende konsep vir die peuters en kleuters om te begryp, maar is dit nog steeds vir die skool ʼn belangrike dag om met die kinders te deel.

“Ons moet dit prakties vir hulle uitbeeld en probeer inprent wat die dag beteken en waarom dit ʼn belangrike afsluiting is vir Paasfees, waaroor ons hulle natuurlik ook leer.

Hendri Gericke, Lucian Inggs en Alden Meyer van die Garsvallei Voortrekkerkommando se gr. 6-Leeuspan. (Foto: Verskaf)

“Al is dit nie meer ʼn openbare vakansiedag nie, word die dag steeds met oorgawe gevier. Voorheen het ons ballonne in die lug opgestuur, maar dit is nie omgewingsvriendelik nie, so ons het vanjaar besluit om die duiwe te kry,” verduidelik Laubscher.

Die Garsvallei Voortrekkerkommando het reeds Woensdagaand by die NG kerk Wapadrand bymekaargekom om Hemelvaart te vier.

“Ouers en kinders het ʼn kort Hemelvaartdiens gehad ná afloop van ʼn fakkelloop waar die kinders by verskillende punte meer geleer het oor die Onse Vader-gebed,” sê Riaan Els, kommandoleier. Die Hemelvaartvieringe is deur Corlia Jansen van Vuuren georganiseer.

Eduplex in Queenswood het ook oudergewoonte Hemelvaart gevier. Claudette Jooste het die leerders toegespreek oor Jesus se geboorte, lewe op aarde en hoekom Hy moes sterf.

Anje van Aardt en Ben Delport, hoofleiers van Hoërskool Waterkloof. (Foto: Verskaf)

Elke leerder het ook ʼn gehekelde kruis en boekie oor Johannes ontvang.

“Die simbool van die kruis dien as ʼn herinnering vir elke leerder dat Jesus lewe en dat ons elkeen ons lewe moet leef soos Jesus wil hê ons moet,” sê die skool.

Die leerders en onderwysers van Hoërskool Waterkloof het douvoordag op die skoolterrein byeengekom vir die jaarlikse Kaalvoetdag, wat die afgelope drie jaar saam met die skool se Hemelvaartvieringe plaasvind.

Dié Kaalvoetdag, wat nou ʼn Klofie-instelling geword het, het ten doel om onder meer skoene en klere in te samel vir minderbevoorregtes. Die leerders van die skool woon ook die dag sonder skoene by.

Die sanger Thabang Malan het die lofprysing gelei en sy inspirasieverhaal gedeel.

Die skool het vanjaar ʼn allemintige vyf ton klere ingesamel wat aan behoeftiges geskenk sal word.

“Klofies skroom nie om ʼn bydrae te maak in ander lewens nie,” het die skool aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leeubekkie ·

Dankie Here, daar is nog skole wat Hemelvaartsdag vier en aan ons kinders leer!

Riette ·

Dankie aan elke skool en instelling wat nog Hemelvaart vier. Pragtig!!

Danie ·

Wonderlike nuus so vroeg in die oggend.
Dankie aan die skoolhoof, onderwysers, kommandoleier en almal wat betrokke was om hierdie geleentheid te keer van uitsterwing.

Hendrik ·

Ons moet net die koppe optel en hemel toe kyk. Die Here is daar en ons plek is ook daar. Die wete maak maak die lewe draaglik.

Willem Wikkelspies ·

Dankie dat julle hemelvaart vier! Ek woon nie naby julle nie, maar sou beslis my kinders in julle kleuterskool en skool plaas as ek kon. Trots op julle! :-)

Maria M S ·

Baie dankie aan elkeen wat Hom eer en aan Hom dank betuig vir sy grootse offer aan ons as mensdom gebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.