Foto’s: Kiesers durf koue, reën aan om te stem

Mmusi Maimane, leier van die DA, het by die kiesstasie in Bramfischerville, Soweto gestem. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

Kiesers het Woensdag vroegoggend koue weer en selfs reën aangedurf om buite stemlokale in rye te staan om hul stem uit te bring.

By ʼn stemlokaal in Soshanguve, noord van Pretoria, het kiesers reeds sedert 04:00 in rye begin staan. Ook in Soweto, Wonderpark en verskeie plekke in Centurion was dit nog donker toe kiesers al buite stemlokale begin staan het.

Dit was egter nie alle stemlokale wat reeds van vroegoggend af besig was nie. Teen 08:00 was daar meer verslaggewers as kiesers by die Pinelands Primary School in Kaapstad waar die reën vermoedelik verhoed het dat kiesers in dié stemdistrik vroeg kom stem het.

Patricia de Lille, leier van die Good-party, was een van die eerste kiesers om by hierdie stemlokaal te kom stem. “Ons moet nooit ophou hoop nie. Daar is baie dinge fout in ons land, maar ons moet die geleentheid aangryp om dit reg te maak en Good het die planne om hierdie goed reg stel,” het De Lille aan verslaggewers gesê.

David Makhura, premier van Gauteng, by ‘n kiesstasie in Centurion. (Foto: ANA)

Stemdag het egter nie sonder probleme begin nie. By ʼn stemlokaal in Centurion waar David Makhura, premier van Gauteng, ook gaan stem het, is die stemmery vertraag omdat stembriewe laat eers na die stemstasie gebring is. Makhura het OVK-beamptes oor dié situasie berispe en gesê dit is nie regverdig teenoor kiesers dat die stemstasie nie 07:00 gereed was om hul stemme af te neem nie.

In Goodwood in Kaapstad se noordelike voorstede is die stemproses vertraag omdat die hoofkiesstasiebeampte nie betyds opgedaag het nie. Teen 07:25 het ongeveer 100 kiesers buite die JG Meiring Hoërskool in die reën gestaan en wag terwyl nog sowat 50 kiesers in die saal gesit en wag het.

Terwyl kiesers gemor het, het beamptes van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) desperaat probeer om streeksbeamptes in die hande te kry om hulle oor die situasie in te lig.

Die OVK het op sy amptelike Twitter-profiel gesê teen 08:00 was daar net minder as 10% van die 22 926 kiesstasies wat nog nie oopgemaak het nie weens verskillende uitdagings. Die OVK het om verskoning gevra vir dié vertraging.

Dit blyk dat daar enkele gevalle was waar kiesers gekla het dat die inkmerk op hul duim afgekom het kort nadat hulle gestem het. ʼn Leser van Murrayfield in Pretoria het Maroela Media teen 07:50 laat weet dat die inkmerk op sy duim reeds afgekom het, terwyl die DA teen 08:15 ʼn foto getwiet het van ʼn persoon wat dieselfde probleem by die party aangemeld het. Die DA het ʼn beroep op kiesers gedoen wat dieselfde probleem ervaar om dit aanlyn by die party aan te meld.

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het in Pinelands in Kaapstad gestem. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

Nog ‘n kieser het aan Maroela Media gesê dat daar by ‘n stemlokaal in Villiera, Pretoria nie ‘n volledige kieslys beskikbaar was nie en dat sommige kiesers se groen ID-boekies nie gestempel is toe hulle gestem het nie. ‘n Ander kieser het beweer haar groen ID-boekie is by dieselfde stemlokaal wel gestempel, maar nie op die korrekte plek in die ID-boekie nie.

Sommige kiesers het wel op sosiale media gedeel dat die stemproses vir hulle vlot verloop het. Van die terugvoer was dat OVK-personeel vriendelik en professioneel was, dat die stemproses binne die lokaal blitsvinnig verloop het en dat beamptes goed opgelei was om kiesers by te staan by die stemlokale.

Altesaam 26 736 805 kiesers is geregistreer om in vanjaar se nasionale verkiesing te stem. Meer as 60 miljoen stembriewe vir die nasionale en nege provinsiale verkiesings, byna 300 000 stembokse, 45 000 stemhokkies en 56 255 skryfbehoeftepakkies is na stemstasies geneem vir die dag se stemmery.

Geregistreerde kiesers het nog tot 21:00 vanaand kans om te gaan stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rina ·

So daar is 6,5 miljoen ekstra stembriewe, hmmm ek wonder wat gaan van hulle word.

JV ·

by Kameeldrift Primary School het die lokaal erg laat oopgemaak en die mense staan lang rye. Chaos

Sê maar net ·

Mense lees tog net ASB wat daar gesê word 27 mil wat kan stem en elk kry 2 stem briewe so afgerond kyk jy na so 60 miljoen makkik??

IK ·

‘Braamfischerville’? Ek weet van die kommunis ‘Bram Fischer’ maar nie ‘Braam Fischer’. Ja Floyd, ek wag net vir my lyfwagte dan gaan ook ek stem . . .

Sê net ·

Hulle het nie ons id boekie gestamo nie, maar alles anders het goed afgeloop.

Tershia ·

Myne is ook nie gestamp nie Weet nie of dit n probleem is nie Stemlokaal bietjie laat oopgemaak maar dit was darem nie te erg nie

Zenithia ·

Ekke….dit was jou verantwoordelikheid om toe te sien beide jou stem brie we het n stempel op!!!

Marinda ·

Zenithia, hulle het ons stem briewe gestamp voor hulle dit vir ons gegee het en gewys hoe om dit te vou ook. Sê net

Heksie ·

Alles het goed verloop hier in Farrarmere Benoni, die ry was lank to ek net na 6 gisteraand daar aangesit kom, maar dit het vinnig gegaan.
Die organisasie was baie goed, 10/10 vir die IEC.
Maar Northmead se stempunt het vroeg al uit stem briewe gehardloop.
En al het dit gister begin sneeu, sou ek steeds in die koue gaan staan het om te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.