Foto’s: Mense, diere nog in die slik gesoek

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die polisie se soek-en-reddingspanne en die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Donderdag nog na twee mense en talle diere in die slik gesoek nadat ʼn myndam se wal Sondag in Jagersfontein in die Vrystaat gebreek het.

Dit is die vierde dag sedert dié ramp die myndorp platgeslaan het.

Lede van die DBV vertel van hartroerende tonele waar verlore diere gevind word en hartverskeurende oomblikke wanneer hulle op dooie diere afkom.

Ook personeel by die hospitaal op die dorp sê hulle het nog nooit soveel mense op een slag behandel nie. “Jy sien hierdie goed gewoonlik net op TV,” het van die personeel aan Maroela Media gesê.

In die Itumeleng-nedersetting het die slik al op plekke begin droog word en van die inwoners het hul verspoelde huise besoek om te kyk watter besittings hulle kan red. Twee jong mans het by die een huis sitkamerstoele, toe onder die slik, met die hand uit die huis gedra.

“Dit is ons ouma se sitkamerstel. Sy worry oor dit,” het hulle aan Maroela Media gesê.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Reddingpogings

ʼn Paar huise verder was die polisie se soek-en-reddingseenheid asook hul honde-eenheid besig om nog vir twee vermiste persone, ʼn 50-jarige vrou en ʼn bejaarde man van onbekende ouderdom, in die slik te soek.

ʼn Polisiebeampte het op voorwaarde van anonimiteit op die toneel aan Maroela Media gesê die soektog raak al hoe moeiliker hoe droeër die slik word.

“Ons gaan tot Saterdag soek en dan weer ʼn assessering doen oor wat die pad vorentoe is,” het die beampte gesê.

Bloemfontein se polisie se berede eenheid help ook met die soektog en hommeltuie word ingespan. ʼn Lugsoektog is ook vroeër die week uitgevoer.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

ʼn Werknemer van Jagersfontein Developments het ook op voorwaarde van anonimiteit gesê die maatskappy – wat die diamantverwerkingsaanleg besit – help die polisie om van die huise se mure wat omgeval het weens die vloedwater met masjinerie op te lig om te kyk of daar liggame is.

’n Entjie van waar die polisie te voet na slagoffers soek, het twee inspekteurs van die DBV in Bloemfontein, Duan Matthee en Werner Botha, op ʼn huis se dak geklim om ʼn vermiste kat te red. Hulle het Donderdagoggend ook ʼn hond en hoenders gered.

Die Bloemfonteinse DBV het met die hulp van die DBV in Kimberley, Virginia en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) altesaam 589 diere gered, waarvan tussen 130 en 140 nou by die DBV in Bloemfontein versorg word. Dit sluit in honde, katte, varke, bokke, hoenders en eende.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die res van die diere moes genadedood toegedien word.

“Party van die diere het te veel slik ingekry en dan vrek hulle. Die diere se longe pak op of die slik word hard in hul mae,” sê Matthee.

Die reddingsproses eis ook ʼn emosionele tol.

“Party honde spring in jou arms van blydskap wanneer hulle gered word. Die meeste van die diere is bang en getraumatiseerd. Die ergste is wanneer jy daardie hondeketting uit die slik optel en sien die hond het dit nie gemaak nie. In my hart hoop ek die hond is op slag dood en het nie gely nie.”

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die DBV gaan vir die volgende twee weke nog elke dag op die toneel wees om diere te red.

Volgens Reinet Meyer, ʼn senior inspekteur by die DBV in Bloemfontein, loop die inspekteurs van huis tot huis om die diere te soek.

“Baie van die diere is in die huise en die huise se deure kan weens die modder nie oopmaak nie.”

Volgens Matthee kom van die diere wat vermis was nou weer terug na hul huise en soek skuilplek in klein ruimtes. “Dit is waar ons dan gewoonlik eerste gaan soek.”

ʼn Oorvol hospitaal

Altesaam 78 pasiënte is in die Diamant-hospitaal op Jagersfontein opgeneem vir geringe tot meer ernstige beserings. Al die pasiënte is sedertdien ontslaan.

“Sondag was hier chaos in die hospitaal. Ons moes ekstra beddens en banke in die hospitaal se noodgevalle-eenheid insit. Ons personeel het nie grond gevat nie,” vertel Charlene Daniels, ʼn verpleegster by die hospitaal.

Volgens Daniels was die eerste pasiënte kinders wat “grys van die modder was”.

“Ons moes hulle skoonmaak en salf in hul oë sit, want die slik het hul oë gebrand. Later het pasiënte met oop wonde en frakture ingekom.”

Charlene Daniels (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Lebogang Phoofolo, ’n verpleër, sê baie van die pasiënte moes vir hipotermie, lae bloedsuiker en skok behandel word. Die personeel het ook ʼn swanger vrou en vrou met erge maagpyn – nadat sy vermoedelik slik gesluk het – behandel.

Phoofolo sê hy sal nooit die vrouepasiënt vergeet wat sowat 12 km ver deur die slik meegesleur is nie. “Sy was van kop tot tone toe onder slik. Sy het gebewe van die skok,” vertel Phoofolo.

Lebogang Phoofolo (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Vir die verpleegpersoneel was dit ook ʼn traumatiese en emosionele dag.

“Maar ons moes ons emosies onderdruk en help waar ons kan. Dit was sleg om te sien hoe die mense saam met wie jy grootgeword het in pyn is.”

Die personeel van hierdie hospitaal het nog nooit só baie noodgevalle op een dag hanteer nie, sê Daniels.

Nog foto’s van die ramptoneel:

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

En ons land se weermag skitter in hul afwesigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.