Foto’s: Nuwe spesies in Mosambiek gevind

Foto: Millie Kerr

Meer as 1 000 nuwe dier-, voël- en plantspesies is onlangs in ʼn biodiversiteitsopname in ʼn gedeelte van die Chimanimani-bewaringsgebied in sentraal-Mosambiek ontdek.

Soveel as 42 soogdier-, 231 voël-, 22 amfibiese, 45 reptiel-, 176 plant- en meer as 450 insekspesies is geïdentifiseer. Die dierespesies sluit in ʼn akkedis, ʼn padda en ʼn bossprinkaan wat waarskynlik nuwe spesies is wat nie reeds deur die wetenskap beskryf is nie. ʼn Vlermuisspesie, wat nie voorheen in Mosambiek voorgekom het nie, is ook gevind.

Die opname het slegs twee weke geduur en die span navorsers het bestaan uit besoekende kundiges en studente wat besig is met meestersgraadnavorsing.

Foto: Millie Kerr

Die Chimanimani- nasionale park is deel van ʼn bergagtige oorgrens-bewaringsgebied wat sowat 1 000 km2 in Mosambiek en Zimbabwe beslaan. Dit het ʼn unieke kombinasie van kwartsietrante, grasvelde en tropiese woude en speel ʼn kritieke rol in die funksionering van ekostelsels.

Die grondtipes, reënval, veldbrande en wissellende hoogte bo seevlak het plantegroei wat veral endemies is tot gevolg wat beteken dat die einste habitat wat hulle aan die lewe hou ook hulle kans op oorlewing beperk.

Unieke spesies is veral in die Moribane-bosreservaat gevind. Dié bos speel ʼn belangrike kulturele rol by plaaslike gemeenskappe wat reeds vir eeue in die bergagtige omgewing woon.

Foto: Millie Kerr

“Die sensus het bewys dat die ryk en biodiverse landskap teen mynbou, stroping en houtkappery beskerm moet word,” sê Lionel Massicane, ʼn wildbewaarder van die Chimanimani-reservaat. Duisende onwettige myners het die laaste jare op die Zimbabwe-grens van die bewaringsgebied toegesak waar hulle vir spoelgoud myn.

Die projek is onder die beskerming van verskeie Mosambiekse bewaringsorganisasies en die land se regering gedoen met die finansiële steun van private instansies en die Wêreldbank.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wonderlik! ·

Absolute fantastiese nuus. Hoop tog nou net nie stropers en goed wil nou die arme goed gaan probeer vang en so uitroei nie!

BaieKlein ·

‘n Nasionale park van ‘n 1000m2 is darem baie klein, omtrent die grote van ‘n gemiddelde residensiële erf in Pretoria.

Nico Strydom ·

Dagsê BaieKlein
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

humor ·

En die oranje blanje blou? Waar is die Mandelastigting? Seker reeds oppad hof toe! Ag my aarde die natuurwetenskap is baie agter die tyd. Baie van die sg. nuwe spesies word al vir jare al geeet.

Pieter ·

“bewaringsgebied wat sowat 1000m2” … moet seker wees 1000km2 wat ‘n wonderlike ondekking!!

Nico Strydom ·

Dagsê Pieter
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

remondo ·

sjoe wys net hoe min ons al op aarde ontdek het – kyk net vas in grondstowwe en nie bio diversiteit nie

Emile Steyn ·

Lekker stukkie nuus die. Oulike fotos van ons vriende in die natuur. :)

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet navorsing in die Parlement ogedoen word om te bepaal hoe die wind waai wat die getal verkleurmannetjies betref!?

Christa ·

Dink net hoe Gaan natuur liefhebbers dit in die Hemel geniet. Daar Sal dit Baie mooier wees as Nou op aarde.

Julie Jansen van Rensburg ·

My wêreld – wanneer laas het ek ‘n trapsuutjie gesien – as kind was hulle volop, maar soos dit met vele ander spesies gaan, “verminder” en “verdwyn” hulle eenvoudig. Welgedaan, en hou ons asseblief op hoogte met die vordering van huerdie kosbare spesies!

HPV ·

In plunder, stroop, moor en brand Afrika moes hulle dit liewer geheim gehou het.

Chris vd walt ·

Ivm die foto van die skoenlapper, hier in Ponta do ouro (suide) kom hulle ook voor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.