Foto’s: Opruiming duur voort ná Simonstad-brand

(Foto: Working on Fire/Facebook)

Opruimingswerk duur voort ná ʼn verwoestende brand in Simonstad, Kaapstad.

Working on Fire se brandbestrydingspan van Vredenburg aan die Weskus het Sondagaand ook bystand gelewer met die opruiming by Castle Rock.

“Dit was ʼn ware teken van spanwerk. Hulle het ingegryp om hul kollegas ʼn welverdiende blaaskans te gee ná ʼn week se intense brandbestryding,” het Working on Fire in ʼn plasing op sosiale media gesê. Die span was Sondag by die basis in Silwermyn gestasioneer en het onverpoosd gewerk om die moontlikheid, dat die brand weer kan opvlam, te vermy.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdiens, het gesê die brand in Simonstad en Glencairn was Sondagmiddag grootliks onder beheer.

“Kernbemanningspanne bly op die grond om in te gryp waar die brand moontlik kan opvlam – of dit nou Glencairn of Simonstad se kant is,” het Carelse bygevoeg. Een helikopter is Sondagoggend ontplooi om die ontoeganklike gebied bo die volstruisplaas naby Kaappunt te blus.

“Dit was ʼn enorme poging deur alle spanne. Ons glo die ergste is agter ons,” het Carelse gesê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen waarskuwings uitgereik vir baie warm temperature, droë toestande en sterk wind oor die volgende paar dae. Dit kan moontlik tot veldbrande lei.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om waaksaam te bly en uiters versigtig te wees met oop vlamme of vlambare stof. Sodra jy enige teken van ʼn moontlike brand sien, meld dit asseblief aan by 021 480 7700 van ʼn selfoon of 107 van ʼn landlyn,” het Carelse bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.