Foto’s: Tweede kans vir talle jong seeskilpaaie

Een van die skilpaaie wat vandeesmaand in die see losgelaat is. (Foto: Don Hunter)

ʼn Groep van 19 karetskilpaaie is die afgelope ruk saam met ʼn jong karetskilpad genaamd Donny en ʼn subantarktiese pelsrob wat Tweni gedoop is, in die warm Aghulhas-seestroom – 30 seemyl vanaf Durban – losgelaat.

Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mariene Biologiese Navorsing (SAAMBR) spoel daar elke jaar talle seeskilpaaie op Wes-Kaapse strande uit nadat hulle in die noorde van KwaZulu-Natal en Mosambiek uitgebroei het. Die skilpadjies, wat soms minder as 40 g weeg, is gewoonlik yskoud, ondervoed en het boonop plastiek ingekry teen die tyd dat hulle op die strand uitspoel.

Sommige van die jong seeskilpaaie wat behandel is. (Foto: SAAMBR)

Die Twee Oseane-akwarium het vanjaar soveel klein skilpad-pasiënte ingekry dat 42 van die jong skilpaaie na die SAAMBR se skilpadrehabilitasiesentrum by uShaka Sea World geneem is om daar verder versorg te word.

Die skilpadjies het daarna so goed herstel en soveel gewig aangesit dat daar besluit is om hulle in die see vry te laat en ʼn tweede kans op oorlewing in die natuur te gee.

Nadat elkeen van die skilpaaie ʼn gesondheidsondersoek ondergaan het, het hulle mikroskyfies gekry en is daar begin met die voorbereiding om hulle met die vaartuig uKwabelana tussen 20 en 30 seemyl van Durban af vry te laat.

Donny is vrygelaat saam met drie jong karetskilpaaie wat almal tussen 2019 en 2020 gered is, maar ook almal met gesondheidsprobleme gesukkel het.

Die Durbanse onderwaterfotograaf Don Hunter het Donny haar naam gegee en “aangeneem”. Sy het ʼn skamele 44,3 g geweeg toe sy in Maart 2020 in die Oos-Kaap gered en na die Twee Oseane-akwarium geneem is. Daar het sy net meer as twee jaar lank rehabilitasie ondergaan.

Sommige van die jong seeskilpaaie wat behandel is. (Foto: Don Hunter)

Weens haar verswakte immuunstelsel het sy metaboliese beensiekte ontwikkel en het sy gesukkel om te duik of selfs te eet. Sy is geruime tyd in die intensiewesorgeenheid vir skilpaaie gehou waar sy onder andere UV-ligbehandeling ondergaan het.

(Foto: SAAMBR)

“Donny se liggaam het groot eise aan haar gestel sodat sy kon gesond word en sy het die uitdaging met mening aanvaar. Ons skilpad-rehabilitasiespan kan almal ʼn sug van verligting slaak omdat hulle weet sy het self haar rehabilitasiepad gestap,” sê Talitha Noble, bewaringsbestuurder by die Twee Oseane-akwarium se onderrigstigting.

(Foto: SAAMBR)

Die Bateleurs, ʼn organisasie bestaande uit ʼn groep vrywilliger-vlieëniers, het boonop aangebied om Donny van Kaapstad na Durban ter voorbereiding van haar vrylating te vlieg. Daar is Donny met die satellietskyfie toegerus.

Malini Pather, die hoofakwaris en ʼn seeskilpadrehabilitasiespesialis, sê die skyfie sal tussen vier en agt maande lank inligting terugstuur en sal waardevolle inligting verskaf oor waar die jong skilpaaie hulle in hierdie tyd bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Ai dit is wonderlike nuus! Dankie aan almal betrokke met die rehabilitasie en hul weer veilig in hul natuurlike habitat los te laat.

Ronel ·

Elke keer as ek lees van die skilpaaie dan dink ek aan Yoshi, wonder of sy dit gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.