Foto’s: Wildtuin-bestuur geloof oor hantering van vloede

Die oorstroomde krokodilbrug (Foto: Jennifer Berkemeyer/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Gaste wat Saterdag weens swaar reën vasgekeer was en uit verskeie kampe in die Kruger Nasionale Park ontruim moes word wat, besing die wildtuinbestuur se lof oor hoe goed hulle die situasie hanteer het.

Veldwagters het gaste in ʼn konvooi van tussen 50 en 100 motors van Onder-Sabie, Biyamithi, Talamati en Krokodilbrug op ʼn sowat 70 km-grondpad na Skukuza begelei. Die wagters in Toyota Land Cruisers het heeldag gespook om die motors deur die modder te sleep, waar nodig.

Gaste beskryf dit as die “langste 70 km in hul lewe”, maar sê in dieselfde asem dit was ʼn ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie.

“’n Rit en roete wat ek nooit sal vergeet … wat my ook sal bybly is almal wat so hulpvaardig en geduldig was tydens hierdie uittog uit ‘die paradys’ [sic],” vertel Wollie Pieterse op die Kruger Nasionale Park se Facebook-blad.

“Ek en my broer sal dié ervaring vir altyd onthou en ook die wildtuinpersoneel se uitstekende versorging en ondersteuning,” sê Riaan Naude.

Die gaste was nie in gevaar nie, maar hul voorraad het voor die naweek begin laag raak. Die wildtuin se bestuur het voorraad per helikopter na hierdie gaste geneem.

(Foto: SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Die Krugerwildtuin se welstandsafdeling het van die personeel se kinders wat in die koshuis is, Vrydagmiddag ook met helikopters gaan haal en na die Biyamiti-kamp geneem om met hul ouers herenig te word. Hulle was besig om na gaste om te sien en kon nie die kinders gaan haal nie.

Linda Grimbeek, hoof van die Kruger-Laeveld-sakekamer, sê sy haal haar hoed af vir die wildtuin se bestuur wat dié ramp tot dusver suksesvol bestuur het deur voorkomend op te tree en goeie kommunikasie te handhaaf.

“Hulle ontruim gaste en sluit paaie voordat gaste of personeel in die moeilikheid beland. Hulle monitor die rivier se vloei noukeurig en kan sien wanneer water ʼn kamp, pad of brug moontlik kan bedreig,” sê Grimbeek.

Verskeie kampe en paaie in die Kruger Nasionale Park is van Sondag af vir die publiek gesluit weens die swaar reën wat sedert verlede week in Mpumalanga geval het.

Boonop word nog reën tot Vrydag vir die wildtuin voorspel en die wildtuin se rampbestuurspanne en eksterne rolspelers sal heel week slaggereed staan om die impak van die swaar reën te monitor en skadebeheer toe te pas waar nodig.

Die hoofpad tussen Skukuza en Onder-Sabie en alle paaie in die suide was teen Maandag steeds vir die publiek gesluit. ‘Geen toegang’-borde of padversperrings is op dié paaie geplaas om besoekers in kennis te stel van die padsluitings.

Alle toegangshekke is wel nog oop vir die publiek behalwe die ingang by Krokodilbrug.

Volgens Oscar Mthimkhulu, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, is van die paaie en afgeleë kampe as ʼn voorsorgmaatreël tydelik gesluit om besoekers se veiligheid te verseker.

“Gaste word aangeraai om ten alle tye op die teerpaaie in die park te hou, wat tans nog oop is vir die publiek,” sê Mthimkhulu.

Van die teerpaaie – tussen Pretoriuskop en Skukuza, asook die een tussen Malelane en Skukuza – is Sondag wel vir ʼn kort tydperk gesluit, maar is intussen weer vir die publiek oopgestel.

Die motor wat in die water vasgesit het (Foto: Wicus Jacobs/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Mthimkhulu het bevestig dat geen beserings of sterftes die afgelope naweek aangemeld nie. Besoekers het wel Vrydag in hul motor by een van die brûe in die park in die water vasgesit.

“Ons wil gaste weer eens versoek om nie te probeer om enige brûe wat oorstroom word oor te steek nie, omdat hul motors deur die sterk strome weggespoel kan word.”

Vlugte na die Skukuza-lughawe word nog bedryf, maar passasiers word aangeraai om hul verblyf te kontak om inligting te kry voordat hulle reis.

Die lughawe verwerk tans passasiers na en van die lughawe deur middel van die Shelati-brug; en alle passasiers word by die Skukuza-dagbesoekersterrein op- en af gelaai. Dit is omdat die Sabie-laevlakbrug tans oorstroom is.

Vloedskade

Volgens Grimbeek kan die omvang van die skade eers op ʼn later stadium bepaal word, sodra meeste van die vloedwater gesak het.

“Daar is laagwaterbrûe wat heeltemal weggespoel het en herstelwerk nodig het. Van die groter brûe sal eers deur ingenieurs geassesseer word voordat dit weer oopgestel word. Geen kamp is tot dusver heeltemal verwoes nie.”

Die skoonmaak van oorstroomde paaie – onder leiding van die Ereveldwagters – het ook reeds begin.

Volgens Grimbeek is dit ʼn troospunt dat dit nie nou ʼn besige seisoen vir die wildtuin is nie en die bestuur weet ook al hoe om oorstromings te hanteer omdat dit op ʼn gereelde basis voorkom.

“Dit sal ook nie gaste regtig keer om wildtuin toe te gaan nie en die wildtuin herstel gewoonlik baie vinnig na só ʼn ramp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Patch ·

Uitstekende rampbestuur KNP! Mag hierdie goeie werk van julle lank onthou word. Hierdie is nou nuus wat wêreldwyd versprei moet word.

Carl ·

Baie goeie diens! Dis ongelooflik hoeveel rommel steeds in die park gestrooi word. Mens sou dink die tipe mens wat die wildtuin besoek sal meer respek hê vir die natuur!

Renier ·

Bottels an ander plastiek kan van ver af met die rivier kom,veral in so vloed.

George ·

Hahah Saffas het geen respek vir natuur nie, maak nie saak waar hulle is nie. Gaan kyk op al die strande na Desember ook, jip, selfs hier in die WK hoe vuil hulle maak.

M ·

Watter tipe “Natuurliefhebber” bemors/besoedel die Park so ? Genugtig, dit is ‘n skokkende hoeveelheid gemors.

Saartjievandiebosveld ·

Die gemors kom van vêr af…spoel van die settlements in die rivier af.
In KNP Kan jy nie so naby die rivier kom om dit te besoedel nie….

Joseph ·

Baie goeie werk en welgedaan aan die bestuur en werkers van die KNP. Dit is altyd lekker om so ‘n storie te lees.

Nico ·

Dit is die besoekers wat so mors, kry ‘n plastieksak in jou motor en gooi die vullis daarin, nee, die mens is mos gemaklik gooi dit deur die motor ruit, hou op om te kla dat dit so lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.