Gautengers teen ernstige donderstorms gewaarsku

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Tshwane-metro se nooddiensdepartement sê hulle is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag ná ʼn geel vlak 2‑waarskuwing vir erge donderstorms Donderdag deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) uitgereik is.

Volgens die SAWD word erge donderstorms Donderdagaand oor dele van Gauteng tot by die suidelike dele van die Tshwane-metro voorspel.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, sê die impak van erge donderstorms kan die volgende insluit:

  • Gelokaliseerde oorstromings van laagliggende gebiede, informele nedersettings en paaie.
  • Voertuigongelukke as gevolg van swak bestuursigbaarheid en gladde padtoestande.
  • Gelokaliseerde diensonderbrekings as gevolg van kragonderbrekings.
  • Gelokaliseerde skade aan voertuie sowel as strukturele skade aan onder meer huise, motorafdakke en skutmure.

Hy stel voor dat inwoners die volgende instruksies volg waar moontlik:

  • Bly binnenshuis en weg van metaalvoorwerpe.
  • Moenie onder bome of hoë voorwerpe skuil nie.
  • Moenie gaan visvang of gholf speel nie, want gholfstokke en visstokke is goeie geleiers van elektrisiteit.
  • Vermy laagliggende paaie en brûe.
  • Wees bewus daarvan dat storms met hael, sterk winde, swaar reën en/of oormatige weerlig gepaard kan gaan.

Inwoners word ook aangemoedig om op hoogte te bly van waarskuwings wat deur die SAWD en ander regeringsinstellings uitgereik word en onmiddellik aanbevole veiligheidswenke te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.