Gautengse boere gewaarsku oor varkpes-uitbreking

(Argieffoto: Pixabay.com)

Varkboere in Gauteng word gewaarsku teen ʼn varkpes-uitbreking in die provinsie waarvan die jongste geval naby die Wes-Rand aangeteken is.

Dr. Kgosientso Ramokgopa, LUR vir ekonomiese, landbou- en landelike ontwikkeling in die provinsie, het Woensdagaand in ʼn verklaring gesê die jongste uitbreking is by ʼn informele varkboerdery in die Swanieville-gebied aangemeld. Vyf varkplase word daardeur geraak en die besmette varke sal van kant gemaak word.

Volgens Ramokgopa is daar na raming sowat 1 000 varke in die omgewing.

Dít is die jongste van verskeie varkpes-uitbrekings wat sedert April waargeneem is. Volgens Ramokgopa is die eerste uitbreking in April vanjaar aangeteken toe informele varkboere op die buitewyke van Daveyton varke by ʼn veiling in Sundra in Mpumalanga gekoop het. ʼn Paar dae later het van die varke gevrek en varkpes is as die oorsaak van die vrektes bevestig.

Altesaam 257 varke wat aan 19 varkboere behoort het, is van kant gemaak.

In Mei is nog ʼn geval van varkpes egter aangemeld toe ʼn boer in die Vanderbijlpark-gebied se varke gevrek het toe hy op ʼn veiling in Vereeniging varke by ʼn Vrystaatse boer gekoop het. Die besmette varke het die boer se varke besmet en altesaam 96 varke op sy plaas is van kant gemaak.

Enkele weke later het nog varke by Alra Park naby Nigel weens varkpes gevrek en nog 91 varke wat aan 14 boere behoort het, is van kant gemaak.

Einde Junie is sewe varke van kant gemaak op ʼn kleinhoewe naby Nigel. Begin Julie moes nog 55 varke in die Alra Park-gebied van kant gemaak word omdat hulle naby die plek was waar besmette varke gevrek het.

Begin vandeesmaand is varkpes weereens by Leeufontein-plaas op die Lesedi-kant van Nigel waargeneem en 34 varke is van kant gemaak.

Varkpes is ʼn virus wat plaasvarke én wilde varke kan besmet. Wilde varke soos bos- en vlakvarke word as draers van die siekte geag, aangesien hulle nie kliniese tekens toon wanneer hulle besmet is nie, maar wel ander varke waarmee hulle in aanraking kom, kan besmet. Die virus kan ook deur sagte bosluise wat in vlakvarkgate woon, versprei word.

Boere is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die volgende tekens:

– Die meeste varke sal vrek nog voordat enige kliniese tekens waargeneem word.
– Varke kan lusteloos voorkom en saamdrom omdat hulle koors het.
– Varke sal heeltemal ophou eet of baie min eet. Diarree kan waargeneem word.
– Besmette varke sal ʼn rooi-blou verkleuring van die vel toon, veral rondom die ore, op die buik en die bene. Bloed by die neus en rektum kan ook waargeneem word.
– Dragtige sooie sal hul werpsels verloor.

Boere is aangemoedig om baie streng biosekuriteitsmaatreëls in te stel en enige vrektes by die naaste staatsveearts aan te meld. Boere moet dit vermy om varke te koop waarvan die oorsprong onbekend is, of varke wat uit ʼn siektegebied kom. Mense wat moontlik in aanraking met besmette varke was, moenie naby hul diere kom nie.

Die Gautengse departement van ekonomiese, landbou- en landelike ontwikkeling het reeds verskeie maatreëls ingestel om te probeer verhoed dat die siekte verder versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

se net ·

Ek werk met en tussen boere. Maar nou dink die ou dom mens vir haarself. Die belangrikste voorsorg is so maklik maar niemand lyk my dink daaraan nie. Alle varke moet eers getoets word, voordat hul op n veiling mag kom. Sodoende word boere met gesonde varke beskerm en vroegtydig kan besmette varke uitgeroei word.

Ben du Plessis ·

Die regte Afrikaanse term vir die siekte wat onder varke uitgebreek het is Afrika-varkpes (“African swine fever” in Engels) en nie varkgriep nie. Die gebruik van die term varkgriep in hierdie verband is verwarrend omdat varkgriep na ‘n siekte van mense verwys. Afrika-varkpes word nie deur ‘n griepvirus veroorsaak nie en kan nie mense aantas nie. Die verkeerde gebruik van die term berokken die varkbedryf skade omdat dit verbruik van varkvleis nadelig kan raak.

Ek ·

Ek wil net se. Die is nie varkgriep nie maar wel varkpes. Daar is n verskil.

Maroela leser ·

Ek glo dit moet “dragtige sôe” wees ipv “dragtige sooie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.