Gautengse onderwys-woordvoerder moet amper miljoen terugbetaal vir BBP-beskerming

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys (Foto: The Gauteng Department of Education/Facebook)

Die DA in Gauteng eis dat die Gautengse woordvoerder van onderwys, Steve Mabona, altesaam R865 058,98 moet terugbetaal wat die departement aan BBP-veiligheid betaal het. Hierdie diens het twee veiligheidswagte, voertuie en operasionele koste ingesluit.

Dié inligting is deur die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, onthul in ʼn skriftelike antwoord op die DA se vrae wat in die Gautengse provinsiale wetgewer ter tafel gelê is.

Volgens Chiloane is Mabona van die veiligheidsdiens voorsien op 399 ritte van ʼn afstand van 19 427 km.

Die DA eis dat Mabona die geld aan die departement moet terugbetaal.

Volgens Sergio dos Santos, die DA se woordvoerder vir onderwys, het die DA verlede jaar tydens ʼn skooltoesigbesoek gesien hoe Mabona deur BBP-veiligheidswagte vergesel word. Die party is toe by navraag daaroor ingelig dat Mabona bykomende veiligheidsdiens aangevra het nadat hy glo dreigende telefoonoproepe ontvang het.

Chiloane het aan die DA gesê dat die direktoraat vir veiligheidsdienste en bestuur van skoolveiligheid versoek is om Mabona van BBP-veiligheid te voorsien, wat hulle toe gedoen het.

Volgens Dos Santos het die Gautengse departement van onderwys geen mandaat of beleid om persoonlike veiligheid en beskerming te verskaf nie.

“Terwyl die premier se kantoor belas is om persoonlike veiligheid en beskerming te verskaf, het beamptes bloot ʼn eis by die departement ingedien. Hierdie geld wat deur die departement op Mabona se BBP-beskerming vermors is, kon gebruik word om skoolinfrastruktuur reg te stel en ʼn bevorderlike leer- en onderrigomgewing vir leerders en onderwysers te verseker,” meen Dos Santos.

“Die feit dat die departement geen beleid het om persoonlike veiligheid en beskerming aan personeellede te bied nie en dat hulle vir Mabona se BBP-beskerming betaal het, beteken dat hy ten koste van belastingbetalers onnodig bevoordeel is.

“Ons sal voortgaan om hierdie saak te monitor om te verseker dat Mabona die geld terugbetaal, en dat die departement se geld tot voordeel van ons kinders se opvoeding aangewend word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.