Gautrein ʼn ‘wit olifant’ – AA

(Argieffoto: Gautrein)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het Donderdag die provinsiale regering se plan om nóg roetes tot die Gautrein-netwerk te voeg, verwerp, aangesien dié treindiens oënskynlik ʼn wit olifant is.

Die AA het in ʼn voorlegging aan die Gautengse provinsiale regering gesê die huidige vraag na die spoorstelsel is relatief laag en dat die lewensvatbaarheid van nog roetes nie binne redelike risikoparameters vasgestel kan word nie.

“Die Gautrein vervoer doodeenvoudig nie soveel passasiers soos aanvanklik voorspel is nie. Om nou waardevolle finansiële hulpbronne te bestee op ʼn vervoerstelsel wat ʼn mislukking is, ten koste van een wat beter en meer bekostigbaar is, maak nie sin nie,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

“Ons is ten gunste van alternatiewe vervoermiddels wat besoedeling en opeenhopings verminder, maar die Gautrein is nie die oplossing nie.”

Volgens die AA plaas die Gautrein bykomende druk op die provinsie se vervoerbegroting aangesien dit nie so gereeld gebruik word soos destyds voorspel is nie.

“Die sogenaamde beskermingswaarborg wat die Gautengse regering onderteken het, verseker dat Bombela – die sakeonderneming wat die Gautrein bedryf – vergoed word indien hulle nie die minimum totale inkomste genereer nie. Indien hulle nie hierdie doelwit bereik nie, kan hulle op die provinsiale regering staatmaak om die verskil te betaal.”

Dié ooreenkoms het belastingbetalers sedert 2012 sowat R12 miljard gekos, juis omdat daar nie genoeg mense is wat gebruik maak van die Gautrein se dienste nie. Die waarborg veroorsaak ook dat ander vervoeropsies wat deur die groter bevolking gebruik word, nie behoorlik befonds word nie.

Luidens die AA se voorlegging moet die provinsiale regering eerder in die oprigting van ʼn provinsiale busstelsel belê en veilige fietspaaie voorsien. Dié voorstelle is volgens die AA ʼn goedkoper alternatief vir die groter bevolking en kan met ander vervoermiddels geïntegreer word.

“Jare voordat die kabinet die Gautrein in 2005 goedgekeur het, het die destydse parlementêre portefeuljekomitee vir vervoer sy kommer oor die finansiële volhoubaarheid van die belegging uitgespreek. Byna twee dekades later is hierdie bekommernisse bewaarheid, maar in plaas daarvan om die ernstige vervoerkrisis in die provinsie op te los, het die Gautrein ʼn stelsel geword vir welgestelde persone wat in elk geval toegang tot ander vervoermiddels het,” het die AA gesê.

Daar is talle ander besware in die AA se voorlegging ingesluit, waaronder die ongegronde vooruitskattings van die ekonomiese voordele wat die Gautrein op gebiede om die stasies inhou, asook die gebrek aan identifiseerbare teikengebruikers vir nuwe roetes en die hoë koste daaraan verbonde om grond te onteien om die uitbreidings te bou.

“Die Gautrein is ʼn mislukte stelsel wat nie ʼn massavervoeroplossing vir die mense in die provinsie bied nie. Dit sal ʼn mislukking weens so lank as wat dit deur belastingbetalers befonds word.

“Om die Gautrein-dienste nou uit te brei, is ekonomies onaanvaarbaar en die proses moet onmiddellik gestaak word,” het die AA gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Jacques ·

Yep, die ding is te duur om te gebruik, want ons wil mos net skep.

Pieter ·

Betaal of ry fiets of klap ‘n toon. Hoeveel dink jy kos jou kar?

Belinda ·

Miskien die ritte en/of parkering goedkoper maak dan sal meer mense belang stel om die wit olifant te gerbuik…

Wakker ·

Stem 100%, ek is seker as hulkle pryse halveer sal hulle meer geld maak as nou. ek ry die trein en op die oomblik het ek soms n hele Kart vir myself in spits tyd. dan nie eers gepraat van bus diens.

Perdeby ·

As ek so na al die treinstasie in Pta kyk en altyd vol voertuie staan dan wonder ek wie ry dan op die trein. Seker die mense wat daar stop se geeste! Dit is ‘n miernes jy voor die Centurion een wil verby kom.

Marius Gerhardus ·

Hoeveel van daai voertuie is werknemers sin? Of een persoon per voertuig? Trein loop hoeveel keer n dag. Daai voertuie dalk van oggend tot aand daar…..al die ritte tussen in loop dalk leeg?

Anel ·

Ek het nog nooit met dit gery nie. Sou baie graag nog wou, maar kan dit net nie beskostig nie. En as ek nie kan nie, glo ek daar is duisende ander wat ook nie kan nie. So, ja, dit is ‘n wit olifant en hoopeloos te duur vir die mense vir wie dit blykbaar oorspronklik gebou is. Beplaning en marknavorsing het hier agtet gebly. Net my opinie.

JohanR ·

Dis omtrent die enigste trein spoor in 27 jaar, wat nog min of meer werk! Kry al die ANC minister, hulle families en vriende ook vry vervoer op die Gautrein?

koos ·

Ek het in Vancouver vir ‘n paar maande gewerk. Hulle Skytrain is met die busstelsel verbind, Jy het net een kaartjie nodig wat vir 90 minute op enige trein en/ of bus werk. Verder moet die stelsel net vir homself kan betaal asook toekomstige opgradering/ vervanging. Die voordeel is dat feitlik almal die stelsel gebruik, parkering is nie problematies nie want die busse vat jou stasie toe, die stelsel is goedkoop, veilig en betroubaar. Kyk nou na Gautrain daarenteen – ag assebief, dis amper naweek, ek gaan nie my tyd met nog ‘n cANCer F-op mors nie. Sies man, African National Corruption!

Esme ·

Wie kan werklik die Gautrain bekostig? Ek het gereeld tussen Kempton Park en Sandton gependel en na ‘n paar maande besef, dat ‘n saamrygeleentneid, baie makliker, billiker en gemakliker was. Toe maar die Gautrain Vaarwel toegeroep.

Blits ·

Kan nie dink mense gaan fiets ry nie. Die word mos nou ook gekaap.

Magda G ·

Die gautrein pryse is belaglik hoog. Bring die prys af dan sal daar meer pendelaars wees. Geldmaakstorie.

Pieter ·

Daar is duisende kilometers se spoorlyne in die land wat nie gebruik word nie, want dit was net te gemaklik gemaak vir maatskappye om eerder trokke op die paaie te sit.
Trokke op die paaie het wel die voordeel van werk skepping maar het ook ‘n negatiewe impak tot besoedeling en paai wat bykans in ry baar is vir baie mense.
Daar moet vir ‘n slag gesit word en beplan word wat wil hulle werklik beruik en hoe, voordat ons belasting betalers weer meer vir alles moet betaal wat die regering in die water gooi

Pieter ·

Daar is alternatiewe. Daar is ‘n kabelstelsel wat gebou kan word wat op bestaande pad roetes loop, meer op en aflaai punte het, vinniger is, goedkoper is om te bedryf en aansienlik goedkoper is om te bou. En eenvoudig is om uit te brei met ekstra roetes. Maar tot dusver het niemand dit geopper nie, en ek neem aan dit is omdat niemand nog aangebied het om iemand te betaal om dit te oorweeg nie. Plus natuurlik minder potensiaal om te skep as die projek goedkoper is.

Marius Gerhardus ·

Ja stem. Wit olifant. Beteken niks. Al n paar keer gebruik. Party keer was ek alleen ini kompartement. Anner kere twee of drie. Nog n geldmors projek.

My siening ·

So ook die tol op paaie in jhb. Alles misluk maar die ANC kan dit nie verstaan nie en gaan net aan!

Friedrich ·

Ek was ‘n gereelde Gautrein gebruiker. Het in Rosebank gewerk, so dit was gerieflik. Ek het ook saam met iemand wat in Engeland woon gaan koffie drink toe sy met ‘n konnekteer vlug oppad Engeland toe by ORTIA moes oor staan. My Pa het in Edenvale gebly, en ek is in Pretoria, so dit was maklik en vinnig.

Ek het ook ‘n klieent wat se kantore in Roodepoort is, so Gautrein van Pretoria na Johannesburg, dan tel hy my net daar op.

Gautrain is wel effens duur, maar as jy dit met petrol betaal vergelyk is dit baie goedkoper. Ek is pro die uitbreiding, en natuurlik sal die AA daarteen skop, want kry hulle nie geld uit die petrol heffing nie?

Kobus ·

Baie duur en dan sien ek busse ry met 4 of 5 passasiers rond.Parkering ook buitensporig duur

Annabelle ·

Te duur om te gebruik, en al gebruik jy die bus ook is dit nog ver om na jou werksplek toe te loop en dis gevaarlik. En dan sit jy ook met dat hulle al gestaak het en jy kan nie by die huis kom nie. Ry eerder met my eie kar.

Eclectus ·

Ag ek is so bly ek sien hierdie berig want dit herinner my dat dit tyd is dat ons paadjies skei. Na 33 jaar se lidmaatskap het ek hulle net twee keer nodig gehad en die een keer moes ek die grootste deel van die insleepkoste self delg. Dit kos nou al omtrent R1 500 per jaar en hulle bied niks meer as wat reeds by my korttermyn versekering ingesluit is nie. Het Maart eerste keer Gautrain gery en die 40 minute tussen Sandton en Hatfield is die koste werd. Dogter pendel Wits toe en dis duurder maar spaar tussen twee en drie ure pendeltyd. (Ander Jacques)

annie ·

Ek stem. Die trein verg nóg vervoer om dit te haal en weer aan die einde van die rit. Dit is ‘n gedoente om die stasie by die OR-lughawe te bereik. Dis verbasend dat die trokke nog nie gerol het nie want dit waggel soos ‘n dronkie op sy fiets. Beslis nie so opwindend soos ‘n rit op ‘n olifant se rug nie.

johann ·

Het Covid nie miskien ‘n aandeel in die (tydelike) vermindering van passasiers nie ?

Sarel ·

Laat die geagte Minister antwoord hy praat hoeka nie
Meer so baie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.