‘Geen kitsoplossing’ vir KZN-rioolkrisis

Riool in eThekwini. (Foto: DA via Twitter)

ActionSA het die KwaZulu-Natalse hooggeregshof Woensdag genader om die nasionale en plaaslike regering sowel as die eThekwini- plaaslike munisipaliteit te dwing om die rioolkrisis in Durban op te los. ʼn Waterkenner het egter aan Maroela Media gesê daar is geen kitsoplossing vir dié probleem nie, en dat die munisipaliteit eintlik ʼn noodtoestand moet afkondig.

ActionSA sê in hul hofstukke dat die nasionale, provinsiale én munisipale regerings ten spyte van openbare pleidooie en aanmaningsbriewe oor die afgelope sewe maande steeds versuim om iets te doen aan riool wat in die see en riviere inloop, waterbronne besoedel en mense se gesondheid in gedrang plaas. Die respondente in die saak is Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, die provinsiale regering en die munisipaliteit.

Die R1 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa in April beloof het vir die herstel van kritieke infrastruktuur  na grootskaalse vloede in dié provinsie, het ook nie ʼn werklikheid geword nie – selfs al is ʼn  ramptoestand in die gebied afgekondig.  Nou vloei riool onverpoos deur inwoners se huise terwyl eertydse spogstrande al meer besoedel word, aldus ActionSA.

Die party stem ook nie saam met die munisipaliteit se besluit om strande weer oop te stel nie, aangesien onafhanklike watertoetse wys dat E. coli‑vlakke, wat deur riool veroorsaak word, amper ʼn duisend keer hoër as die veilige, aanvaarbare vlak is.

“KwaZulu-Natalse gemeenskappe is reeds buitengewoon kwesbaar, en hierdie voortdurende mislukking van bestuur bedreig nie net inwoners se gesondheid nie, maar ook die lewensbestaan ​​van diegene wat afhanklik is van toeriste wat die strande besoek,” het Zwakele Mncwango, ActionSA se voorsitter in KwaZulu-Natal, gesê.

Die party versoek verder dat die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings se versuim om infrastruktuur in stand te hou, ongrondwetlik verklaar word. ActionSA wil ook binne 30 dae nadat die hofbevel toegestaan is, ʼn lys hê van al die afvalwaterpompstasies, afvalwatersuiweringsaanlegte en ander waternetwerkstelsels wat tans buite werking, vervalle of beskadig is.

Tussentydse maatreëls moet ook ingestel word om strande so gou moontlik skoon te kry, terwyl onafhanklike sanitasiespesialiste of soortgelyke deskundiges binne 60 dae aangestel moet word om ʼn verslag vir die hooggeregshof voor te berei – onder meer oor die toestand van infrastruktuur en watter stappe gedoen moet word om die situasie te beredder.

“ActionSA vertrou dat die hof die uitvoerende gesag sal dwing om op te tree en die gemors wat hulle laat voortduur het, op te los.”

‘Gesonde ekonomie, samewerking nodig’

Benoit le Roy, hoof van die Suid-Afrikaanse Waterkamer, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy verstaan dat regsaksie seker die laaste uitweg is wanneer ʼn mens desperaat raak, maar dat daar inderwaarheid geen kitsoplossing vir die reuseprobleem op hande is nie.

“Regsaksie gaan nie werklik ʼn verskil maak nie. Die probleem is dat metro’s ineenstort. Die laaste ding om in te konk is gewoonlik die rioolstelsel. Rioolstelsels kry gewoonlik ook die minste aandag, hoewel dit eintlik een van munisipaliteite se grootste beleggings moet wees.

“Daar is geen alternatief vir water nie,” het Le Roy gesê.

Hy meen rioolstelsels is gemaak om uiterste weerstoestande te weerstaan, maar dat swak of geen instandhouding nie – soos in KwaZulu-Natal se geval – dié stelsels kwesbaar laat. In dele van eThekwini sal rioolstelsels heeltemal herbou moet word.

Le Roy sê die probleem lê ook op politieke vlak, en dat samewerking op alle terreine – ook met die private sektor – nodig is om rioolprobleme te pak.

Hy meen as hy die munisipale bestuurder van eThekwini was, sou hy ʼn noodtoestand in die munisipaliteit verklaar.

“Dit beteken egter dat jy moet erken en aanvaar jy het gefaal, en dis waarom daar polities gesproke niks gedoen word nie.

“Ek dink egter ʼn noodtoestand is nodig, aangesien die munisipaliteit dan in die toekoms bykomende befondsing kan ontsluit – hoewel die noodfonds in dié stadium uitgeput is. Wanneer daar ʼn noodtoestand is, kan internasionale agentskappe en organisasies ook betrokke raak en probeer help. Die private sektor moet ook betrek word. Die regering verteenwoordig immers die samelewing – wat die private sektor insluit.”

Hy meen ʼn spanpoging en nuwe, vars idees is nodig op die probleem op lang termyn volhoubaar op te los, asook ʼn sterk ekonomie, wat tans nie die geval is nie.

Om te herbou kan egter jare neem.

“Ons [die regering en Suid-Afrikaners] kan nie langer probleme ignoreer nie. Ons moet verbeter en meer doen. Dit is moontlik om te herbou deur saam te werk, maar jy het ʼn gesonde ekonomie nodig om dit te doen.

“Die mense wat die verval in Suid-Afrika veroorsaak het, moet verwyder word, en daar moet nuwe dinge gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Waar is daardie miljoene rampfonds? Ek kry die mense wat geraak is jammer.Die skending van ons natuur en diere lewe tel mos niks.

Nie Verbaas ·

Wat anders oor die R1 miljard wat Ramapokker belowe het? As hy sy mond oopmaak lieg hy. Die ANC is net die een mislukking op die ander.

Nie Verbaas ·

Maar vra die ANC om n plan van aksie bymekaar te sit oor hoe om beter en nog meer te plunder en jy het dit binne minute.

Andrew ·

As iemand bankrot is help dit nie jy probeer hom in hof dwing om die werk te doen nie. Hoeveel keer van te vore het dit gewerk, nog nooit. Dit kos geld om die goed op te knap, en duidelik is SA se infrastruktuur en polulasie aanwas nie op die selfde groei koers. En as julle wil self betaal doen dit, ma kyk wat gebeur met als wat self reg gemaak is na n jaar.

Pietertjie ·

Hulle moet maar weer teruggaan na put-toilette of ‘n emmer-stelsel. Laasgenoemde sal help met werkskepping.

Harley Davidson ·

Die inwoners betaal elke maand ‘n fooi aan die munisipaliteit om die riool veilig en doeltreffend te verwerk, waar word daardie geld dan gebruik en hoekom moet die inwoners betaal vir iets wat nie bestaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.