Geen krismisboks vir vullisverwyderaars, vra Jhb, Tshwane

(Foto: Pieter Cloete)

Hoewel Kersfees in die algemeen ʼn tyd van gee is, word inwoners van die Tshwane- en Johannesburg-metro versoek om geen geskenke aan vullisverwyderaars te gee nie – hetsy uit hul eie of op aandrang van dié werkers.

Die versoek volg ná verskeie klagtes dat munisipale of gekontrakteerde werkers by belastingbetalers vir ʼn Kersfeesgeldjie of -geskenk skimp, of sommer prontuit daarop aandring.

In Johannesburg het inwoners gekla dat werkers van die stad se vullisverwyderingskontrakteur, Pikitup, inwoners vir Kersgeskenke teister.

“Pikitup-werkers mag geensins op geskenke aandring nie en inwoners word versoek om ook nie enige geskenke vir dié werkers aan te bied nie,” het Muzi Mkhwanazi, woordvoerder van die Johannesburg-metro, gesê.

Volgens Mkhwanazi het dié verskynsel intussen ook ʼn gulde geleentheid vir opportuniste geword om hulself as Pikitup-werkers voor te doen en dan geld of geskenke vir hul krismisbokse te eis.

“Indien legitieme Pikitup-werkers Kersgeskenke van inwoners eis, moet die betrokke inwoners ʼn foto van dié werker neem, die registrasienommer van die voertuig neerskryf en dit by Pikitup se inbelsentrum aanmeld (010 055 990).

Die Tshwane-metro sit met soortgelyke klagtes van vullisverwyderaars wat vir ʼn ietsie vir krismis bedel.

“Die stad wil dit onomwonde stel dat inwoners onder geen verpligting is om enige geskenke vir vullisverwyderaars te gee nie. Inwoners word aangemoedig om enige bedrieërs, munisipale werkers of kontrakwerkers wat hulle lastig val vir geskenke of donasies aan te meld, aangesien dit teen die metro se beleid is.

“Die verwydering van vullis by inwoners se huise of sakeondernemings is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit. Inwoners kan nie twee keer vir die verwydering van hul vullis betaal nie, aangesien dit reeds deel van hul maandelikse munisipale rekeninge is.”

Nes dié van die Goudstad word Tshwane-inwoners ook versoek om foto’s van werkers te neem wat op geskenke aandring, en dit saam met die registrasienommer van die vullisverwyderingsvoertuig na [email protected] te stuur.

“Geen munisipale werker of kontrakwerker mag ʼn geskenk ontvang of deur inwoners betaal word om hul vullis te verwyder nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.