Geen ‘spesiale regulasies’ vir SAL – Lugvaartowerheid

(Argieffoto ter illustrasie: Michele Spatari/AFP)

Volgens die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het hy al herhaaldelik gesê hy het geen spesiale regulasies om kwessies wat spesifiek met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verband hou, te hanteer nie.

“Dit bestaan nie. Daar word van alle operateurs verwag om aan dieselfde stel burgerlugvaartregulasies te voldoen wat tot dusver verseker het dat ons land se veiligheidsrekord wat kommersiële en lugrederybedrywighede betref die afgelope 30 jaar ongeskonde is,” sê Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO.

Hy sê die BLO sal aanhou om alles moontlik te doen om hierdie merkwaardige rekord te handhaaf.

Maroela Media het vroeër berig die DA het gevra vir ʼn onafhanklike ondersoek na bewerings dat die BLO ʼn beweerde 90 ton-berekeningsfout probeer verdoesel het. Dié fout is glo gemaak op ʼn vlug van die SAL wat ʼn besending Covid-19-entstof in Brussel moes gaan oplaai.

Luidens berigte het die Airbus 340-600 ʼn sogenaamde “alpha floor”-voorval – wanneer ʼn vliegtuig tydens landing of met opstyging nie genoeg stukrag het nie en begin staak – ondervind. Dit het glo gebeur omdat die gewig tydens opstyging met 90 ton verkeerd bereken is en die spoed waarteen die vliegtuig opgestyg het, dus ook verkeerd was.

Die Airbus se veiligheidstelsel is ontwerp om in so ʼn situasie oor te neem en die stelsel het outomaties meer krag gelewer en die neus van die vliegtuig laat sak om te keer dat dit staak.

Die SAL se sakereddingspraktisyns het bevestig dat die voorval plaasgevind het. “In hierdie geval het die vlieëniers die aanduidings voor ʼn dreigende ‘alpha floor’ geïdentifiseer en die gepaste regstellende stappe gedoen,” lui ʼn verklaring van die praktisyns.

“Dit was die gepaste stappe van die bemanning wat enige verdere waarskuwings voorkom het.”

Volgens die sakeredders het die vliegtuig daarna aanhou styg en die vlug na Brussel is voortgesit.

“Daar was ʼn hele aantal oordrewe en onjuiste berigte in die media oor die voorval wat ongelukkig geplaas is, gegewe dat die voorval tans ondersoek word,” sê Siviwe Dongwana, een van die SAL-sakereddingspraktisyns.

Die voorval het op 24 Februarie plaasgevind en die BLO het bevestig dit is op 17 Maart by hom aangemeld. Die regulasies bepaal dat voorvalle, na gelang van die erns daarvan, tussen 24 en 72 uur ná die gebeurtenis aangemeld moet word.

“Met ontvangs van die verslag is ʼn ondersoekspan op die been gebring om die voorval te ondersoek, asook om vas te stel waarom daar ʼn vertraging met die kennisgewing aan die owerheid of sy ongeluk- en voorvalondersoekeenheid was,” sê Ledwaba.

Volgens die sakereddingspraktisyns gee die SAL sy volle samewerking aan die ondersoek. Die sakeredders sê sodra die ondersoek afgehandel is en die rede vir die voorval vasgestel is, sal die redery die gepaste remediërende stappe doen om enige moontlike tekortkominge te takel.

“Dit sal onverantwoordelik wees om te bespiegel waarom daar ʼn waarskuwing was voordat die ondersoek afgehandel is.”

Die BLO het op sy beurt ook bewerings verwerp wat daarop sinspeel dat hy voortgesette uitsonderings aan die SAL maak en hom “spesiale behandeling” gee wat teen die voorgeskrewe standaard is.

Hy sê elke versoek om uitsondering  word op eie meriete oorweeg.

“Die Brussel-vlug was ʼn eenmalige uitsondering en is toegestaan op grond van die risikoversagtingsmaatreëls wat in ooreenstemming met Suid-Afrika se burgerlugvaartregulasies en aanvaarbare internasionale standaarde was.”

Ledwaba sê die BLO is nie bewus van ʼn ondersoek wat ook in Brussel gedoen word nie en sê voorvalle wat buite Suid-Afrika se jurisdiksie val, word hanteer deur die land waar die voorval plaasgevind het.

“Ons rol in hierdie verband sou wees om die nodige samewerking en hulp aan ons eweknieë in hul ondersoek te gee. As daar wel nog ʼn ondersoek deur ʼn ander owerheid gedoen word, is die operateur in die beste posisie om duidelikheid daaroor te verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Eens die trots van Suid Afrika, en self in die wereld onder passasiers en ander lugredeye, en toe soos alles in 26 jaar ry die ANC hom in die grond in! En daar het jy Air New Zealand wat elke jaar of die beste of naas beste lug redery in die werel is.

Zacharias ·

90 ton is regtig baie! Dis drie swaar vragmotors se vragte en of een goedere trein – wa se vrag!
Dis ‘n ongelooflike groot fout!
My gevoel is dat dit nie AS is nie maar WANNEER een van sal sê vliegtuie VAL! Merk my woorde.
Wat was op daai vliegtuig wat so swaar was en waarvan die bemanning nie geweet het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.