Geliefde Afrikaanse sanger, skrywer sterf

Annalise Wiid. Foto: Facebook

Die geliefde Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, skrywer en spreker, Annalise Wiid, is Woensdag in die ouderdom van 57 oorlede.

Wiid, ʼn gebore Kapenaar, het in ʼn hospitaal in Somerset-Wes gesterf.

Burgert le Roux, Wiid se projekleier, het aan Maroela Media gesê Wiid het in Desember ʼn breinoperasie ondergaan nadat sy erge pyn in haar gesig ervaar het. “Die operasie was suksesvol, maar ongeveer ʼn maand gelede het vog op haar brein weer opgebou. Verlede week het hulle haar dus weer geopereer om die vog te dreineer,” het Le Roux gesê.

“Sy het weens die narkose baie naar geraak en moes daarom heeltyd lê. En toe sy daar opstaan, het ʼn bloedklont losgekom. Sy is omstreeks 12:00 vanmiddag dood.”

Le Roux het gesê ʼn gedenkdiens vir Wiid sal Saterdag 7 Julie om 11:00 in die NG Helderberg in Somerset-Wes gehou word. Die gedenkdiens is oop vir enigiemand wat dit graag wil bywoon.

Die Helderberg-gemeente het Woensdagmiddag die nuus van Wiid se afsterwe op Facebook gedeel. “Ons hou elkeen vas aan persoonlike herinneringe van haar unieke en kosbare lewe. Ons innige meegevoel met haar ouers, familie en vriende,” lui die inskrywing.

Wiid het ná skool grafiese kuns studeer, maar as sanger bekendheid verwerf. Sy het sedert 1993 ses solo-CD’s die lig laat sien, asook ʼn DVD/CD-kombinasie wat in samewerking met die ATKV vervaardig is. Groot name in die vermaakbedryf soos Jannie du Toit, Christa Steyn, Matthys Maree, Johan Heystek, Mauritz Lotz, Denis Lalouette en Susan Mouton het al saam met haar aan produksies gewerk.

Wiid is ook die skrywer van vier boeke, waaronder Abjater is ʼn Kuierkat, Dis Weer Daai Kat!, My Eie Wysie en Skewe Snytjies Brood. Sy was ook medeskrywer van 18 ander boeke.

Benewens haar werk as sanger en skrywer, het sy landwyd opgetree as geleentheidspreker asook Christelike kampe en seminare aangebied. Sy het van 2008 tot 2011 as direksielid van Bybel-Media sowel as lid van die Taakspan vir Kerklike Media van die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien.

Wiid was ongetroud en het geen kinders gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Annmemaré vd Merwe ·

Rus in vrede Annalise. Dankie vir die voorreg dat my kleindogter in jou Ouma Sue Video kon wees.

Johan Oosthuizen ·

Hulle wat in Christus sterf sal lewe al het hulle gesterf, leer die Woord ons. Sy jubel en juig want sy is waar Jesus vir haar plek berei het. Ek jubel en juig oor haar ryke nalatenskap. Baie, baie dankie!

H. Coetzee ·

Baie groot verlies. Hartseer saam met almal vir wie haar musiek so baie beteken het. Rus sag pragtige vrou!

Abe ·

Kry van haar musiek en luister daarna. Lees wat Corrie Hugo hieronder se.

Corrie Hugo ·

As jy nooit iets gehoor het wat sy gesing het nie, het jy oneindig baie gemis. Sy het suiwer Afrikaanse liedjies – veral met ‘n geestelike strekking geskryf en ook self getoonset. ‘n Pragstem wat min van die hedendaagse Afrikaanse “sangers” haar kan nadoen . Luister na ‘n ou Cd van haar – KAALVOET – en kry koue rillings oor Verlore Seun en The Land shall be glad. Maar gaan soek ook na een van haar boeke en jy sal die res ook wil lees!

Lukie Carelsen ·

‘n Baie besonderse talentvolle komponis. Sy het soveel uitstekende liedere gekomponeer wat vir ewig gaan voortleef!
Baie dankie Annalise, jy het inderdaad ons lewens verryk.
Rus sag en in vrede, jy het jou roeping vervul.

Laetitia du toit ·

Dankie Jesus dat U ons deur so ‘n kosbare verteenwoordiger van U kom bederf het op soveel verskilkende terreine . En wat ‘n uitnemende vriendin was sy nie, deur dik en dun. Dankie dat ons weet sy leef vir ewig by U en ons glo sy sing heilig, heilig, heilig.

Casper Labuschagne ·

Dit is tragies. Sy was ‘n gereelde spreker wat gereeld in Kroonstad opgetree het. Baie plaaslike mense sal haar mis.

Die mens wik, maar die Here beskik.

Popsa ·

Ai… Sy was die allerkosbaarste mens wat die kosbaarste dinge op die kosbaarste manier kon sê! Annelise het onverwags die wenpaal bereik. Sy het die wedloop voltooi. Ons verlies is haar ewige wins. Sy is veilig by haar Koning in haar hemelhuis. Vir altyd. Ons kan nou net in haar diep, mooi voetspore volg… Dankie Vader vir haar pragtige lewe.

Riouna Martin ·

Sy was n pragtige mens sterkte aan die gesin. Sy sal gemis word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.