Geliefde dokter van Witbank sterf

Dr. Gregory Charles Joynt (Foto: Verskaf)

Dr. Gregory Charles Joynt, ’n geliefde dokter van eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga, is vandeesweek in die ouderdom van 75 oorlede.

Joynt is Woensdag vroegaand in ’n Pretoriase private hospitaal weens orgaanversaking dood nadat hy lank ’n aneurisme gehad het.

Joynt het voor sy dood dekades lank as algemene praktisyn in eMalahleni gepraktiseer.

“Hy het altyd die ekstra myl vir sy pasiënte gestap,” vertel sy kleindogter Robyn Williams. “Hy was baie lief vir sy pasiënte en altyd vriendelik en behulpsaam. Hy was net ’n wonderlike mens oor die algemeen.”

As oupa was hy “natuurlik soms streng,” skerts Williams, “maar hy was ’n lieflike oupa. Hy was só lief vir sy kinders, kleinkinders en agterkleinkind.”

Joynt word oorleef deur drie kinders, sewe kleinkinders en een agterkleinkind.

Joynt het jare lank as algemene praktisyn by Joynt Venter & Associates in Rhodesweg in die middedorp gepraktiseer.

Boodskappe van medelye stroom sedert sy dood op sosiale media in.

“Gee hom die eer [wat hom toekom]. Hy was ’n persoonlike huisvriend en dokter. ’n Man wat baie mense se lewens al gespaar het. Hy was een van die bestes. Rus in vrede,” lui ’n inskrywing op Facebook.

“Beste ‘ruk-en-pluk’ rugregmaak dokter ooit,” het ’n ander sosialemediagebruiker geskryf.

“Rus in vrede dokter, ons gaan Dok mis,” lui nog ’n inskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.