Geliefde pastoor verloor stryd teen Covid-19

Pastoor Henk Koch (Foto: Verskaf)

Die Nuwe Lewende Christus Bedieninge-gemeente in Pretoria is in rou gedompel nadat hul geliefde herder en leraar, pastoor Henk Koch, Woensdag weens Covid-19 oorlede is.

Koch (61) het Woensdag 07:00 ná amper twee weke in die hospitaal sy stryd teen Covid-19 verloor. Hy is op 27 Julie in die Mediclinic Heart in Pretoria opgeneem.

Koch was die senior pastoor van die Nuwe Lewende Christus Bedieninge-gemeente. Dit is ʼn jong gemeente wat sowat vier jaar gelede op die been gebring is.

Chantelle Prinsloo en Linda du Toit, Koch se dogters, vertel hul pa was baie geliefd onder sy gemeentelede.

“Hy was baie lief vir mense. Hy sou berge verskuif om iemand in nood te help. Hy sou die klere aan sy lyf vir mense gee as hulle dit nodig gehad het,” vertel die dogters.

Pieter Kalp, Koch se medepastoor, sê die gemeente het gehoop en geglo dat Koch van die virus sou herstel.

Pastoor Henk en twee van sy kleinkinders (Foto: Verskaf)

Kalp sê Koch se liefde vir mense het altyd vir hom uitgestaan. “Hy was my mentor en laat vir seker ʼn groot leemte in die gemeente,” vertel hy.

Kalp vertel Koch het as dekaan by die Koinonia Christensentrum in Pretoria ʼn groot invloed op studente se lewe gehad. Hy het ook ʼn voltydse werk as produksiebestuurder by Wrapsa Packaging & Manufacturing in Centurion gehad.

Prinsloo en Du Toit sê hulle het respek gehad vir hul pa en hoe hy die Here gedien het. “Hy het mense se lewe verander.”

Medelye het vir Koch op Facebook ingestroom.

“My geestelike pappa is nou by my Hemelse Pappa en ek is seker hy kan nie vir ʼn oomblik stil sit of staan nie. Hy was altyd so opgewonde oor die vooruitsig om eendag, wat vir ons te gou aangebreek het, by die Hemelse Vader en Jesus Christus te wees,” lui een van die inskrywings.

Koch word oorleef deur sy twee dogters, vrou, Annatjie, en vier kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moerby1212 ·

Ons inigo meegevoel met pastoor se familie en lede van die kerk. Sterkte.

Matilda ·

My geliefde oom. Die artikel is so akkuraat. Dit is hoe ek hom geken het. Familie kuiers, vakansies en verjaarsdae. Hy was altyd daar. Altyd dieselfde. Liefdevol en altyd reg om te luister na al ons stories en ervarings. Mooi kind van die Here. Ons gaan hom mis.

Androclus ·

Ja dis iets waaraan ons as mens nie kan gewoond raak nie en dis die dood.
Hebreërs 9:27=’n Mens is bestem om net een maal te sterf….
Sterkte vir die familie.

koos10 ·

‘n Mens moet sterf of die Ewige Lewe te verkry.
Die verlies is altyd daar, maar my oorlede pa het altyd gesê dat die mens selfsugtig is. Die wat agterbly is hartseer maar ons vergeet dat die oorledene saam met God is en sy Wonders en Almagtigheid kan aanskou.
Baie sterkte aan die naasbestaandes, die dood is nie angenaam nie, maar hou vas aan Jesus en Sy beloftes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.