Geliefde tiener verdrink in Vleesbaai

Christopher Barnard (Foto: Helpmekaar Kollege)

Christopher Barnard, ʼn graad 10-leerder aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg, is Dinsdag tydens die gesin se vakansie in Vleesbaai oorlede.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die NSRI se span in Mosselbaai die oggend omstreeks 10:00 na Fransmanshoek in Vleesbaai ontbied. Die polisie en Wes-Kaapse nooddienste het ook op die oproep om hulp gereageer.

Volgens Lambinon het ʼn 47-jarige man saam met sy 16-jarige seun visgevang toe hulle van die rotse afgeslaan en deur die see meegesleur is.

Na verneem word was dit Christopher wat deur die golwe van die rotse afgeslaan is. Sy pa het agterna geduik om sy seun te red, maar het self in die moeilikheid beland.

“Met die nooddienste se aankoms, is ʼn soektog dadelik aan die kus en in die see van stapel gestuur. Die pa is gevind waar hy self uit die water gekom het. Hy is in die sorg van die polisie en die NSRI oorgegee. Die pa het nie enige beserings opgedoen nie.”

Die soektog na die tiener het voortgeduur.

“Hy is later in ʼn sloep tussen die rotse gevind en uit die water gehaal,” het Lambinon gesê. “Hy is ongelukkig deur paramedici op die toneel dood verklaar.”

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Volgens Lambinon sou die gesin Woensdag teruggekeer het huis toe. “Beraders sien om na sy pa, ma en twee broers. Ons betuig ons innige meegevoel met die familie.”

Louis Botha, die afgelope meer as twee jaar Christopher se graadvoog by Helpmekaar, het aan Maroela Media gesê hy was ʼn sterk akademiese kind wat baie lief vir die skool was. “Hy was ʼn kranige rugbyspeler, maar sal veral onthou word as saggeaarde, vriendelike en stil seun. Hy was baie gewild onder sy vriendekring. Sy heengaan laat ʼn groot leemte.”

Die skool het intussen ook sy meegevoel op sosiale media betuig. “Een van ons eie is na Jesus toe. Christopher het vanoggend by Vleesbaai verdrink. Ons harte is stukkend. Ons gaan jou mis, Christopher.”

In ʼn afsonderlike boodskap het die skool die gemeenskap gevra om vir Christopher se ouers, Barries en Nadia, en sy broers – Heinrich, ʼn graad 9-leerder aan Helpmekaar Kollege, en Luan, ʼn graad 6-leerder aan Laerskool Louw Geldenhuys –in dié moeilike tyd te bid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andries ·

Kan MaroelaMedia nie ‘n slag met mense wat die seë ken gesels en ‘n artikel(s) met praktiese raad en algemene voorsorg uitgee nie? Dit is die soveelste branderslag tragedie van die afgelope tyd.

Nadia ·

Ons harte is baie seer… rus sag “Per”. Jou Helpie-maats gaan jou baie mis! Baie sterkte Barnard-gesin, julle is in ons gebede.

Ronél ·

Sjoe, wat ‘n pyngedagte om jou Kind aan die dood af te staan. Mag Vader hulle troos en omvou.

Patch ·

So hartseer. ‘n Jongman wat nog soveel in die lewe kon doen. Innige meegvoel aan die gesin, familie en vriende.

Santie Gildenhuys ·

Hartverskeurend. Pragtige seun. Pragtige jong lewe. Pragtige herinneringe aan hom.

Skappie ·

Mag onse Liewe Heer julle as ‘n gesin deur hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.