Gelukkige einde ná donkie-drama

(Foto: Sammy Tarrant-Phillips)

’n Paartjie se besluit om ondanks gure weer te gaan piekniek hou, het drie donkies wat in ’n modderput vasgeval het van ’n gewisse dood gered.

Nicola Wilson, ʼn inwoner van Kaapsehoop in Mpumalanga, vertel dat haar susterkind Jody Sondag saam met haar kêrel na die Peerboord is om daar te gaan piekniek hou. Die Peerboord is Kaapsehoop se gewilde piekniekplek.

Die weersomstandighede was beslis nie ideaal vir piekniek nie want dit was koud en reënerig. Tog wou hulle gaan. Op pad na die Peerboord het hulle die drie donkies gesien. Dit was gou duidelik dat die drie vasgesit het. Hulle het dadelik vir Nicola gebel om van die moeilikheid te vertel.

“Ons wou eers nie die jongmense glo nie en het gedink hulle grap met ons. Maar toe ons die foto’s van die donkies sien, het ons gou besef dat hulle doodernstig was. Teen die tyd wat ek en my vriend Rod, en nog ʼn vriend Harm daar aangekom het, kon ons sien die donkies was regtig in die nood. Die gebied waarin hulle vasgekeer was, lyk asof die grond stabiel is, maar die modder onder die water het hulle behoorlik vasgesuig.

(Foto: Sammy Tarrant-Phillips)

“Hoe meer hulle gespartel en baklei het om uit te kom, hoe dieper het hulle in die modder ingesink. Hulle kon net nie vastrapplek kry om uit te kom nie, dit was te diep daar. Hulle het later die modder tot ʼn totale pappery getrap. Ons het besef ons sal gou moet spring as ons hulle wil help,” vertel Nicola.

Rod het ʼn sleeptou in sy viertrekvoertuig gehad. Almal het dadelik ingespring en gehelp en die tou agterom die donkies se boude vasgemaak, hulle dan ʼn ent vorentoe gesleep, op hulle sye gekeer en op die manier kon die donkies se voorvoete los kom. Só het hulle een vir een vry gekom.

“Twee was al vry, maar ons het behoorlik gesukkel met die derde een. Hy of sy was teen die tyd so moeg, sy kop het telkens in die modder ingesak, en ons was bang hy sou verdrink. Ons het nog ʼn tou gekry en Jody het daarmee sy kop in die lug gehou. In sy poging om die derde een te red, is Cameron op sy arm gebyt. Gelukkig nie te erg nie. Die verligting was groot toe die outjie ook uiteindelik kon regop kom, en tussen die bome verdwyn. Teen daardie tyd was die eerste een al by sy vyf maters wat hoër op, na die plantasie aan die oorkant van die teerpad, beweeg het,” sê sy.

Nicola lag en onthou dat daar oomblikke van histerie was. Elke keer wat hulle so hard trek, maar dan gebeur daar niks nie, het almal ook in die modder platgeval, en dan moes hulle maar weer opstaan en nog ʼn keer probeer.

“Op ʼn punt het ek nogal gewonder wat ons sou doen as ons hulle nie uitkry nie. Hulle was al so moeg, en sou nooit die nag daar in die modder oorleef het nie. Die oomblik wat hulle losgekom het en weggedraf het, was kosbaar. Ons was dankbaar om te sien nie een is beseer nie, en hulle sal oukei wees. Hoe wonderlik is dit nie dat Jody hulle, ten spyte van die koue, wel na die Peerboord uitgery het nie,” sê Nicola.

ʼn Heerlike verrassing

(Foto: Alison Gouws)

Inwoners van dié bergdorpie en besoekers aan Kaapsehoop is gewoond aan die vrylopende perde wat al langer as honderd jaar in hierdie omgewing voorkom, maar vir baie was die donkies ʼn heerlike verrassing.

Johan Gouws, die dorp se voëlkenner wat onder meer toeriste op voëlkyk-uitstappies neem, het Sondag vroegoggend ’n besonderse foto van agt donkies op die groen gras by die Peerboord op die Hoop vir Kaapsehoop-WhatsApp-groep aangestuur.

Gouws vertel dat hy en sy vrou, Alison, vanaf Kaapsehoop na Ngodwana gery het om hulle kleindogter daar te gaan haal. Toe hulle op die teerpad verby die Peerboord ry, het hulle die donkies daar sien staan. Dit was net te mooi om dit nie te gaan afneem nie, sê hy. Uit die aard van sy liefde vir voëls, is sy kamera met ʼn lang lens altyd byderhand.

“Ek het die donkies nou al twee maal vantevore gesien. In 2016, terwyl ek en ʼn groep voëlkykers op die Blouswaelvlakte was, het ons die donkies tussen die adelaarsvarings gewaar. Hulle was ongeveer 100 m van ons af weg en dit was vir my kostelik. Ek het nog nooit sulke donkies gesien nie. Kersfees 2020 het ons ook vier donkies op die pad tussen Kaapsehoop en Ngodwana gekry, maar ons kon ook nie naby hulle kom nie.

“Sondag het die donkies ons gelukkig toegelaat om veel nader aan hulle te kom in die Peerboord. Ons het agt getel en Alison kon hulle goed met haar kamera afneem. Die klompie donkies met hulle wit neuse was so mooi, ek moes dit net op die dorp se groep deel,” sê Johan.

(Foto: Johan Gouws)

Hy is ʼn rukkie later af Nelspruit toe saam met sy kleinkind, en was iewers in ʼn winkelsentrum toe hy ʼn oproep van Wilson gekry het. Sy het hom vertel van die drie donkies wat in die modder vasgeval het. Hy was egter bly om te hoor dat daar ʼn reddingspoging aangewend sou word om te kyk of die donkies nie gered kon word nie.

Rudi du Plessis, nog ʼn inwoner van Kaapsehoop, sê die paar donkies is ook al ʼn hele paar jaar in die gebied, maar meer aan die kant van die Blouswaelvlakte en Coetzeestroom, ʼn ou bosboustasie wat nou nie meer bestaan nie. Daar was selfs ʼn tyd toe een van die donkiehingste gereeld saam met die wilde perde na die dorp gekom het. Die perdehingste het hom snaaks genoeg verdra, solank hy net van hulle merries af weggebly het.

“In al die jare wat ek op Kaapsehoop woon, is dit egter die heel eerste keer wat ek hoor van donkies, of van perde, wat in die modder vassit. Hulle beland soms in ou prospekteergate, wat natuurlik nie goeie gevolge het nie, maar hierdie was beslis ʼn eerste,” sê hy.

Later die dag het die mis weer dié bergdorpie versluier en van die donkies was daar nie meer ʼn teken nie. Wie weet waar hulle volgende opgemerk sal word? Een ding is egter seker: by die volgende donkiesaamtrek sal daar met kleur en geur vertel kan word van die dag toe mens se kind tot hulle redding gekom het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JM ·

‘n Mooi verhaal: positief! Dankie vir die mense wat soveel omgegee het.

Wielspore ·

Lekker storie en ‘n mooi plek om te besoek, Kaapsehoop bied jou rustigheid, vryheid, lekker stap roetes so tussen die klippe en bome, baie mooi uitkyk plekke, begrafplaas van mense wat jare terug afgesterf het, waterval en dan die dorp self, eetplekke, slaap plekke, mooi geboue met unieke boustyle. Vir ‘n lekker wegbreek, boek in by een Kaapsehoop plekke en geniet die gasvryheid. Ja, en kom ry saam Rudi op sy fietse, dit is ‘n avontuur.
Ons bly al 24 jaar in die omgewing en Kaapsehoop bied jou met elke besoek iets besonders.

Janee ·

Ag,… watter wonderlike nuus!…..dit was absoluut net n bestiering dat hulle gevind is!

Eiervrug ·

So ‘n lekker storie om te lees. Dankie vir almal betrokke.

Skappie ·

Dankie vir almal wat die donkies uitgehelp het. Dit is lekker om bietjie sulke goed te kan lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.