Gemeenskap bou eie Afrikaanse skool

Die MOS Inisiatief en Doxa Deo Opvoedkundige Trust het hande gevat met die ontwikkeling van ’n Afrikaanse privaat skool by die Hartland Landgoed in Hartenbos in die Wes-Kaap (Foto: Verskaf)

Dié gemeenskap wil hul kinders in hul moedertaal onderrig. Omdat die getal Afrikaanssprekendes in die gebied boonop toeneem, kan skole nie byhou met die behoefte aan Afrikaanse onderrig nie.

Daarom het die MOS Inisiatief en Doxa Deo Opvoedkundige Trust hande gevat met die ontwikkeling van ’n Afrikaanse privaat skool by die Hartland Landgoed in Hartenbos in die Wes-Kaap.

Hartland Akadamie is Dinsdag as Christus-gesentreerde Afrikaanse skool bekendgestel en die plan is om sy deure amptelik in Januarie 2024 oop te maak.

“Daar is ’n groot behoefte aan Afrikaanse onderwys in die Mosselbaai- en Hartenbos-omgewing weens die groeiende Afrikaanse gemeenskap. Die skool se doelwit is om dié omgewing as groeipunt op die Tuinroete van ’n gehalte- Afrikaanse skool te voorsien,” sê Roedolf van der Westhuizen, die uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief.

Die bestuur beplan om sowat 350 kinders in die eerste jaar in te neem. Daar sal aanvanklik voorsiening gemaak word vir ’n voorskoolse en grondslagfase van die laerskool vir leerders van gr. RRR tot gr. 3. Die skool sal daarna jaarliks organies graad vir graad, tot gr. 7 groei.

(Foto: Skermskoot)

Die MOS Inisiatief is ’n privaat maatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is, met die doel om ’n Afrikaanse skolenetwerk daar te stel om onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.

Dié maatskappy en Doxa Deo Opvoedkundige Trust het afsonderlik die idee gehad om ’n Afrikaanse skool in die omgewing oop te maak.

“Ons het met mekaar gesels en besluit ons staan vir dieselfde doel, daarom sal dit beter wees om saam te werk om die skool vir die gemeenskap te bou,” sê Van der Westhuizen.

Die twee organisasies het toe met die bestuur van die landgoed in gesprek getree waarop besluit is om die skool op die landgoed se terrein te bou. Die landgoed is tussen George en Mosselbaai geleë.

“Die bestuur van die landgoed het ’n stuk grond geoormerk vir ’n Afrikaanse skool. Daar is ’n aanvraag na ’n skool onder inwoners met kinders.”

Van der Westhuizen sê daar is planne vir verdere private finansiering, asook leningfinansiering by banke namate die skool gaan uitbrei.

Moedertaalonderrig

Roedolf van der Westhuizen, die uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief, aan die woord tydens die bekendstelling van Hartland Akademie (Foto: Verskaf)

Volgens Van der Westhuizen het ’n demografiese studie aan die lig gebring dat die meeste kinders in die Mosselbaai-omgewing Afrikaanssprekend is en dat Afrikaanse skole in hierdie omgewing onder druk is met hoë getalle en inskrywings van leerders.

“Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het in sy brief aan Charlize Theron daarna verwys dat mense wat Afrikaans praat aan’t toeneem is. Hy het gesê Afrikaanssprekendes word meer in getalle, maar kleiner in persentasie.

“Hierdie fenomeen is dan ook te sien onder kinders wat Afrikaanse onderrig wil ontvang. Soos die aantal Afrikaanse leerders toeneem, word die Afrikaanse skole voller, maar daar word nie nuwe skole vir hierdie leerders opgerig nie.”

Luidens internasionale navorsing is dit beter vir ’n kind om in sy of haar moedertaal onderrig te word tot die minimum ouderdom van 12 jaar, sê Van der Westhuizen.

“Die ideaal is egter om jou kind tot die ouderdom van 18 jaar in sy moedertaal te laat onderrig, want dan is jou kind se fondament in sy moedertaal goed gelê. Dan is jou kind ook in die heel beste posisie om te skuif na onderrig in ’n tweede of derde taal.

“Dit is ’n mite dat ’n kind op skool in Engels onderrig moet word om meer suksesvol op tersiêre vlak, waar alles in Engels is, te wees.”

Leuse en wapen

Die leuse “Wys die Weg” dui op die skool se oortuiging dat elke kind in sy of haar unieke weg na volwassenheid begelei moet word.

Die skoolwapen met die drie bane simboliseer die verskillende aspekte van opvoedkunde: gees, siel (intellek, wil en emosies) en liggaam.

“Ons wys leerders die weg, leer hulle die waarheid en berei hulle voor vir die toekoms. Hulle moet groei in hul geloof, in hul liefde vir mense en hulle moet ’n hoopvolle toekoms omarm,” sê Muller van Loggerenberg, voorsitter van Doxa Deo Opvoedkundige Trust.

“Akademie, sport en kultuur sal kinders help ontdek wie hulle is, maar ook geleenthede vir intellektuele groei skep, hul kreatiwiteit aanwakker en hul fisieke vermoëns versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Pragtig! Nou ‘n laerskool, môre ‘n hoërskool, dan ‘n tegniese sentrum en ‘n universiteit. En alles in Afrikaans en in die Wes Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.