Gemeenskap veg om Mosselbaai-vyeboom te red

ʼn Groot sandbedding met ʼn keerwal is ook rondom die boom gebou. (Facebook/Mosselbaai Munisipaliteit/Facebook)

Die ikoniese wildevyboom in Mosselbaai is besig om stelselmatig te herstel nadat ʼn onbekende verdagte dit probeer vergiftig het.

Elize Nel, direkteur van gemeenskapsdienste by die Mosselbaai-munisipaliteit, het in ʼn plasing op die munisipaliteit se Facebook-blad geskryf het dat iemand onlangs gate in die boom se stam geboor het en diesel daarin gegooi het in ʼn poging om dit te laat vrek.

Dié bekende boom is in Kerkstraat en inwoners het dié onlangse skade opgemerk toe die boom se takke begin vrek het.

Dieselfde boom is in Augustusmaand ook geweldig beskadig toe ʼn ander verdagte van die boom se takke probeer verwyder het.

Volgens Cornelle Carstens, kommunikasiebeampte by die Mosselbaai-munisipaliteit, is ʼn byl en saag deur munisipale wetstoepassers op die toneel gevind, waarna ʼn saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gemaak is.

Die motief vir die boom se beskadiging is volgens Carstens egter steeds onbekend.

Kundiges by die Mosselbaai-munisipaliteit se parke-afdeling behartig tans die boom se rehabilitasie.

Kundiges by die Mosselbaai-munisipaliteit se parke-afdeling behartig tans die boom se rehabilitasie. (Facebook/Mosselbaai Munisipaliteit/Facebook)

Carstens verduidelik dat die boom as deel van dié proses vir die volgende maand sowat 1 500 liter water weekliks sal kry en daarna bolangs selektief gesnoei sal word. ʼn Groot sandbedding met ʼn keerwal is ook rondom die boom gebou danksy ʼn skenking deur ʼn plaaslike konstruksiemaatskappy.

“Die water asook spesifieke voeding word tans toegedien om die boom se wortels ʼn hupstoot te gee. Kundiges in die parke-afdeling is hoopvol dat die boom sal herstel,” sê Carstens.

Dié boom word as ʼn erfenisbate beskou en is nagenoeg 60 jaar oud, aldus raadslid Lodewyk Coetzee.

Coetzee het ook aangedui dat die boom destyds met die dorp se ontwikkeling belangrik genoeg geag is dat hulle Kerkstraat se verlenging om die boom gebou het.

Kerkstraat het volgens Coetzee voorheen reguit boontoe geloop, maar swenk tans regs verby die ikoniese wildevy.

ʼn Ander vyeboom in dié dorp het ook onlangs onder vandale deurgeloop.

Mosselbaaise brandweerdienste is verlede week na die Milkwood Primary skool ontbied toe ʼn vyeboom op die skool se perseel aan die brand gesteek is.

Volgens Carstens kan dié voorval nie met die Kerkstraat-vyeboom verbind word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GWS ·

Hoekom moet daar altyd vandaliste wees? Ek hoop hulle word gevang en beboet!!!

Perdeby ·

Wat het die arme boom aan hierdie persoon gedoen. Ek kan dit nie glo nie!

Dr Pieter ·

Vraag: Dit is hopelik nie die geskiedkundige “Poskantoor” boom nie?

Francois ·

Nee, tensy die portugese seilvaarders 60 jaar terug nog briewe daar begin pos het

Jacobus ·

Gaab vra die nuwe eienaar van die huis regoor die straat van die boom of hy nie iets gesien het nie. Die boom versper dalk sy see uitsig.

wim ·

“n Ikoon wat net 60jaar oud is? Is daar ‘n skaarste aan bome in Mosselbaai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.