George-tragedie: ‘Dit was die donkerste week in ons lewe’

Delvin Safers (Foto: Facebook/Delvin Safers)

In die 25 uur wat Delvin Safers (29) onder die puin van die ineengestorte gebou in George gelê het, was dit die gedagte aan sy tweejarige seuntjie wat hom help moed hou het.

Safers, ʼn elektrisiën, is een van 81 mense wat binne die gebou was toe dit Maandag ingetuimel het.

Vir sy ouers was dit 11 angswekkende ure terwyl hulle gewag het op nuus. Delvin se pa, Deon (52), was om 17:00 op pad huis toe in Mosselbaai toe hy die radionuus hoor. Hy was onseker of dit die gebou was waar sy seun werk.

Kort daarna het hy by sy huis in Hoofwegpark in Mosselbaai ingehardloop en vir sy vrou, Delmari (52), gesê: “Ek dink Delvin is in daai gebou!”

Delmari het aanvanklik geglo dit moet ʼn ander gebou wees, maar die gedagte dat sy kind onder die puin lê, het in sy gedagtes vasgesteek. Oomblikke daarna het Delvin se werkgewer Deon se ergste vrees bevestig. Delvin wás in die gebou, maar het oorleef.

Deon en ander familielede is inderhaas George toe, maar Delmari het nie die moed gehad om saam te gaan nie. Net ná 19:00 het hulle by die toneel aangekom, waar hulle in die ure wat gevolg het, angstig gewag het op nuus.

Om 04:00 het Delmari haar man gebel en laat weet hul seun het haar van sy selfoon af gebel: “Delvin het vir haar gesê hy is lief vir ons, sy meisie en vir sy seuntjie, Zayer (2), en dat hy sy foon gaan afskakel om batterykrag te spaar, maar voor hy dít gedoen het, het sy ma vir hom ʼn foto van Zayer aangestuur.” Hy het vir sy meisie ʼn stemnota gestuur.

Deon Safers, Delvin se pa. (Foto: Verskaf)

Om 05:30 het Deon opnuut hoop geskep toe ʼn neef hom laat weet Delvin het aan hom ook ʼn stemnota gestuur. Deon is na die operasionele sentrum waar hy gehoor het sy kind is op die derde verdieping van die gebou gevind.

Reddingswerkers het met masjinerie deur die beton gesny. Toe hulle nader aan hom was, het hulle vir hom water, sjokolade en jellielekkers aangegee.

Kort daarna is Delvin by die gebou uitgebring. ʼn Reddingswerker het vir Deon geskree: “Ons het hom! Ons het hom!”

Deon beskryf die afgelope dae as die “donkerste week in hul lewe”.

Delvin het op die toneel mediese hulp ontvang voordat hy na die Mediclinic op George geneem is en later na ʼn ander hospitaal oorgeplaas is.

Sy rug en bene is die ergste beseer. Een van sy ribbe is gebreek, hy het ʼn stukkende plek op sy kop en hy is vol bloukolle. Hy het vir sy ouers vertel die ineenstorting het ná etensuur gebeur. “Hy sê hulle het Dinsdag net teruggekom in die gebou. Voor hulle aan hul gereedskap kon vat, sak die gebou inmekaar,” sê Deon.

Uit sy hospitaalbed het Delvin vir sy ouers gesê die oomblik van die ineenstorting het “ʼn duisend goed deur sy gedagtes gegaan”.

Deon sê baie bourommel het op sy kind se bene geval. Woensdag het sy naastes hom uit sy hospitaalbed opgehelp en hom gehelp om te stort.

Delvin in die hospitaal nadat hy uit die puin gered is. (Foto: Verskaf)

ʼn Liggaam van ʼn kollega het onder die puin digby Delvin gelê. “Delvin het terwyl hy daar gelê het elke uur of wat met ʼn stuk beton teen ʼn aluminiumleer gekap om aandag te trek.”

Delvin het in die ure onder die puin gehoor hoe ander vasgekeerdes ook skree en kap.

Delvin se eerste vraag aan sy ouers uit sy hospitaalbed was of hulle iets van sy kollegas gehoor het.

“Ek het gister vir my kind gesê hy is ons hero. Hy sê die foto van Zayer het hom geïnspireer.” Deon sê sy kind het die ure onder die puin oorleef danksy God, sy seuntjie en sy selfoon.

Delvin sê hy het by homself gedink hy kán nie daar doodgaan nie en hy móét oorleef ter wille van sy kind. Oor wat die toekoms inhou, weet hulle nie, maar Delvin se naastes is positief. “Ons is vol vertroue hy gaan weer loop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeubekkie ·

Baie dankbaar jy lewe. Sterkte aan julle almal. Mag die Here gee dat daar nog oorlewendes gevind word.

Protea ·

Aan God alle eer. Is so jammer oor die ander mense wat dood is. Mag God die families krag gee om deur hierdie verlies te werk

Bolandse Nooi ·

Sy ouers het die regte ding gedoen om vir hom ‘n foto van sy seun aan te stuur. Dit het hom die WILSKRAG gegee om aan die lewe vas te klou. Ek hoop hy maak ‘n volledige, spoedige herstel.

Intussen – so hartbrekend as wat dit mag wees – dink ek daar kan nie meer oorlewendes wees nie. Dit is reeds amper 92 uur na die gebou ineengestort het. Net ‘n wonderwerk sal nog oorlewendes laat. Dit het nou ‘n “search & recovery” i.p.v. ‘n “search & rescue” geraak,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.