Geringe skade ná skepe in Kaapstad-hawe bots

Die Ambience-passasierskip. (Foto: Facebook / Ambassador Cruise Line)

Geringe skade is aangerig toe twee skepe Vrydagoggend in die Kaapstad-hawe gebots het.

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het bevestig dat die voorval gedurende vasmeringsoperasies plaasgevind het.

Die vaartuie betrokke is die Ambience-passasierskip en die Grey Fox-vragskip.

Volgens Samsa het die Ambience gedurende die vasmeringsproses kontak met die tweede vaartuig en die kaai gemaak.

“Ons is verlig om te bevestig dat niemand in die voorval beseer is nie. Daar is ook geen risiko’s vir die omgewing óf die veiligheid van die vaartuig en hawe nie. Die Ambience het geringe skade opgedoen.

Die Kaapstad-hawe. (Argieffoto/ Transnet)

“Die hawe-owerheid is aktief besig om die situasie te bestuur. ʼn Samsa-inspekteur doen ʼn deeglike assessering op die toneel om ʼn beter begrip te kry oor die omstandighede wat tot die voorval gelei het, en om die omvang van die skade te bepaal,” het Samsa gesê.

Ambassador Cruise Line, wat die Ambience besit, het in ʼn verklaring gesê ondanks die hulp van twee sleepbote en ʼn loodsboot kon die skip nie sy posisie in die sterk rukwinde handhaaf nie.

Passasiers is ná die voorval toegelaat om aan land te gaan en die skip vaar Vrydagaand steeds verder, het die maatskappy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.