Gesin beland met motor in rivier

(Foto: Verskaf)

Drie gesinslede het Maandag ’n noue ontkoming gehad toe hul sportnutsvoertuig van ’n laagwaterbrug in Endlaan in Centurion afgery en in die Hennopsrivier beland het.

Lede van die Stad Tshwane se nooddienste is om 17:45 na die toneel ontbied waar hulle die motor in die rivier aangetref het.

Die brug in Endlaan is Maandag vir verkeer gesluit deurdat versperrings in die pad geplaas is ná die aanhoudende reën wat sedert verlede week in dele van Pretoria uitgesak het.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die nooddienste, kon die insittendes van die motor nie op die toneel of binne die voertuig gevind word nie.

“Dit is aanvaar dat hulle deur die rivier meegesleur is,” sê Mabaso.

Polisiebeamptes het die eienaar van die motor geïdentifiseer en die persoon gekontak.

“Die eienaar, ’n man wie se ouderdom nie bekend is nie, het bevestig dat hy en sy tienerseun en ‑dogter daarin geslaag het om na veiligheid te swem nadat hul voertuig in die rivier beland het. Die motor is deur die sterk rivierstrome van die laagwaterbrug meegesleur.

(Foto: Verskaf)

“’n Lid van die publiek beweer die bestuurder van die sportnutsvoertuig het om die versperrings  – wat gebruik is om die pad toe te maak – gery voordat dit in die rivier verdwyn het.”

Dit was die tweede soortgelyke voorval wat in twee dae se tyd in dieselfde gebied plaasgevind het. ’n Isuzu-bakkie, wat steeds nie uit die Hennopsrivier gehaal is nie, is Saterdag ook deur rivierstrome meegesleur.

Verder is die nooddienste en polisie steeds op soek na vyf mense wat Saterdag deur ’n waterstroom in Olievenhoutbosch meegesleur is.

Aanhoudende reën het tot oorstroming in informele nedersettings in dele van Mamelodi, Atteridgeville, Soshanguve en Cullinan gelei. Talle paaie is Maandag ook in die suidelike, oostelike en westelike dele van Pretoria weens oorstromings gesluit.

“Ons doen weer eens ’n beroep op motoriste om nie oorstroomde laagwaterbrûe oor te steek nie en versigtig op die nat paaie te ry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pierre ·

Hoop as hy versekering het dat hulle nie betaal as hy self vir die skade verantwoordelik is weens sy nalatigheid.

Perdeby ·

Die mense van daardie area behoort mos nou al teen die tyd te weet die brue oorstroom, maar hulle vat nog kanse virhoekom en vir wat sal mens seker nooit weet nie. Onverantwoordelik.

Christina ·

Ai, stel nou ander mense se lewens in gevaar deur dalk ongeduld, of dink ek kan.

Porseleintjie ·

Hy verontagsaam die versperring en plaas sodoende sy kinders se lewe in gevaar. Poging tot moord. Punt.

Koen ·

Stem nogal saam hiermee. Dis tyd dat mense begin verantwoordelikheid vat vir hul dade.

Koen ·

Daar sal altyd ‘n slimjan wees was reken: “hou my bier vas. Kyk hoe tem ek die ou stroompie”.

bolletjie blom ·

Die mense is gelukkig om hulle storie met ander te deel. Daar was al gevalle wat die insittendes van die voertuig nie so gelukkig was nie. Water, vuur en wind is die elemente wat niemand moet onderskat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.