Gesin verloor als ná stormwaterpyp bars

Die water was omtrent enkelhoogte in die huis (Foto: Verskaf(

“Om wakker te word en te sien hoe al jou besittings onder water is, is nie iets wat enigiemand moet deurmaak nie.”

Só sê Rozanne Pool nadat haar gesin se huis in Kleinmond in Maart vanjaar oorstroom het toe ʼn stormwaterpyp in die pad voor hul huis gebars het. Die gesin glo die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem vir die gebarste pyp omdat die pyp nie behoorlik onderhou is nie, maar dié trek skynbaar net sy skouers op.

ʼn Mengsel van reënwater en rioolwater het op 15 Maart in die gesin se agterplaas opgedam en in hul huis gestroom. Volgens Pool was die water in hul erf só diep dat hulle byna daarin kon swem.

Die gesin het met net die klere aan hul lyf uit die huis gevlug. Van hul besittings het erge waterskade opgedoen. Die skade beloop meer as R300 000.

Volgens Pool was die water in hul erf só diep dat hulle byna daarin kon swem (Foto: Verskaf)

Volgens Pool het die pyp met vullis verstop geraak omdat die munisipaliteit dit nie gereeld genoeg skoonmaak nie. Daar het boonop die betrokke dag meer as 60 mm reën op dié Wes-Kaapse kusdorp uitgesak. “Die water en vullis het in die pyp onder die grond opgebou. Toe dit boonop so baie reën, het die druk in die pyp net te veel geraak,” sê sy.

Omdat hulle glo die voorval is veroorsaak deur ʼn gebrek aan instandhouding, het die gesin ʼn eis vir die skade by die munisipaliteit ingedien. In ʼn brief wat op 5 Oktober gestuur is, sê die munisipaliteit egter dat hulle nié aanspreeklikheid vir die voorval gaan aanvaar nie, aangesien die voorval deur die swaar reën veroorsaak is en dus nie voorsien kon word nie. Die munisipaliteit voer ook aan dat die waterpyp veertig jaar gelede geïnstalleer is, en vóór 15 Maart nooit probleme gegee het nie.

Die munisipaliteit erken wel dat die stormwaterpype slegs twee keer ʼn jaar skoongemaak en onderhou word aangesien hulle ʼn tekort aan mannekrag ervaar.

‘Water staan enkelhoogte’

Die munisipaliteit trek net hul skouers op en het nog nie die gesin vir hul skade vergoed nie (Foto: Verskaf)

Pool vertel haar man, Theuns, het haar op die noodlottige dag omstreeks 03:45 wakker gemaak en gesê die huis is onder water.

“Theuns het opgestaan om vir ons vierjarige seuntjie melk in te gooi toe hy in water trap. Die water het toe reeds bietjie hoër as enkelhoogte gestaan.”

Volgens Pool het hul seuns, onderskeidelik vier, agt en nege jaar oud, se skooltasse en speelgoed in die water gedryf.

“Ek het die seuns wakker gemaak en hulle op die bank laat sit. Ons vierjarige het histeries gehuil, terwyl ons agtjarige hom probeer troos het.

“Ons krag het boonop om 04:00 weens beurtkrag afgegaan en ek moes in die donker begin red wat te redde was. Ek het gou met groot misnoeë besef die meeste van ons besittings het reeds skade opgedoen.”

Volgens Pool het die water in die erf tot by haar bobeen gestaan.

Pool sê haar man het ʼn DA-raadslid van die munisipaliteit oor hul skade ingelig en dié het munisipale beamptes na die huis uitgestuur. ʼn Span skoonmakers van die munisipaliteit is ook gestuur om met opruimingswerk te help.

“Ons is dieselfde dag ingelig dat ons drie dae het om die huis te ontruim, want die huis is as onleefbaar verklaar.”

Volgens Pool het hul bure ook effense waterskade opgedoen, maar hulle het die ergste daarvan afgekom aangesien hul huis in ʼn laagte geleë is.

Die meeste van die gesin se meubels, elektriese toestelle en ander waardevolle besittings het skade opgedoen.

Die gesin het omtrent al hul meubels en waardevolle besittings verloor (Foto: Verskaf)

“Ons yskas, wasmasjien, skottelgoedwasser en ander elektriese toestelle het opgepak. Die dreinwater het in ons matte, klere en selfs beddens ingetrek. Die kinders se speelgoed wat in kratte gestoor was, het ook nat geword.”

Pool het in dié tyd ʼn bakonderneming vanuit haar huis bedryf en haar toerusting is beskadig. Elektriese toestelle wat haar man vanuit die huis vir klante herstel het, het ook skade opgedoen.

“Van dié klante is nou op sy spoor daaroor. Ons het eenvoudig nie die geld om hul toestelle te vervang nie.”

Pool sê die skade strek veel verder as die geldwaarde. Sy sê die sentimentele besittings wat waterskade opgedoen het, is onvervangbaar.

“Theuns het ʼn tas vol waardevolle besittings van sy oorlede ma gehad. As hy die tas oopgemaak het, kon hy nog haar parfuum ruik. Ons moes die tas laat gaan.”

Pool vertel vriende van die gesin het ná die ramp tot hul redding gekom en vir hulle blyplek aangebied.

In Junie het ʼn vrou van Kleinmond haar woonstel in Kaapstad vir die gesin aangebied. Die woonstel is op die erf van ’n tweeslaapkamerhuis geleë en die gesin het onlangs in die huis ingetrek.

Volgens Pool is die kinders se lewens ontwrig omdat hulle ná die tragedie van skole moes verander.

“Die onderwysers en skoolhoof van die nuwe skool was ons darem goedgesind. Een onderwyser het selfs skooltruie vir die seuns gekoop.”

Maroela Media het navraag aan die munisipaliteit gerig en wag nog vir terugvoer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

James Curlewis ·

Die nuwe burgermeester moet hierdie berig sien en sy aandag daaraan gee dan sal jy sien of die Stadsraad rerig “for the people” is en of hulle pontius pilatus speel en net nog n klomp politieke leuenaars is

Jaco ·

Nogal ‘n DA-beheerde munisipaliteit. Ek sidder vir hoe sleg dit dan in ANC-beheerde munisipaliteite gaan.

Niklaas ·

Groot ramp vur hierdie gesin. Ek kan my voorstel hoe magteloos hul voel oor die munisipaliteit se houding

Chris dupreez ·

Geen stadsraad sal dit betaal nie , maak nie saak van watter politieke party ookal. Hoekom het die water opgedam in die mense se erf, is daar nie gate onderin die slabs dat die water wegloop nie. Ek het simpatie met hulle, maar hulle gaan nie regkom by die stadsraad nie. Ongelukkig is die onus op jou as erf bewoner dat die water nie moet opdam nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.