Geskiedkundige terugkeer van olifante na Bellevue-bosreservaat

(Foto: Facebook/Bellevue Forest Reserve)

ʼn Trop olifante van die Addo Nasionale Park het einde Augustus ʼn nuwe tuiste in die Oos-Kaap gekry.

Twee volwasse olifantkoeie – elk met ʼn kalfie – sowel as drie jong bulle, is na die Bellevue Forest Reserve naby Paterson, waar hul voorgeslagte eens vrylik rondgeswerf het, hervestig.

Dit was ʼn dag waarvoor hulle lank gewag het en ʼn droom wat vir Bellevue se eienaar, Loodt Buchner, verwesenlik is “omdat olifante nou uiteindelik weer in hul historiese tuisgebied kan spore trap”.

“Die reservaat se oorspronklike naam is Olifantskop en olifante het eens op ʼn tyd vrylik deur die groen berge en valleie vol ryk uiteenlopende Albany-ruigtes rondgeloop.

“Gaste wat nou by Bellevue se Elephants Lodge tuisgaan, sal die voorreg hê om die jongste aankomelinge van naby te sien,” sê Buchner.

Die private wildreservaat van 2 500 ha was dekades gelede ʼn tydelike tuiste vir twee olifante – die berugte Hapoor en Bellevue – wat uit die nabygeleë Addo‑olifant‑ Nasionale Park ontsnap het.

(Foto: Facebook/Bellevue Forest Reserve)

“Vandag is dit heeltemal moontlik dat hul eie nageslag weer in Bellevue spore sal trap,” sê Buchner.

SANParke het die olifante geskenk en hulle is deur die hoogs ervare wildvangspesialiste, Conservation Solutions, ʼn Suid-Afrikaanse span onder leiding van Kester Vickery, verskuif.

Die koste van die projek is deur die Wildlife Emergency Fund gedra. Dié internasionaal bekende diereliefdadigheidsorganisasie wat deur die Amerikaners John en Mary Lee Malcolm en hul seun, Andrew, gestig is en saam met Dereck Milburn, Suid-Afrikaanse direkteur van die Aspinall Foundation wat in die VK gesetel is, werk, ondersteun gereeld wildbewaringsinisiatiewe.

Addo het ʼn trotse geskiedenis van olifantbewaring en huisves ʼn gesonde en veilige bevolking van een van Afrika se mees ikoniese dierspesies.

Volgens Buchner is die hervestiging van die manjifieke diere ʼn grensverskuiwende gebeurtenis in die evolusie van Bellevue Forest Reserve.

“Hervestiging tussen reservate binne en buite Suid-Afrika is ʼn gevestigde praktyk om genetiese diversiteit te verseker en die beskikbare habitat uit te brei. Dit is ons visie om deel te wees van die groter prentjie, wat deur baie natuurbewaarders en naburige eiendomseienaars gedeel word.

“Die Oos-Kaap is ryk aan toerismepotensiaal en is ʼn uitstekende malariavrye wildbestemming. Ons is uiters dankbaar vir die ondersteuning van SANParke en die Wildlife Emergency Fund, tesame met die bystand van talle ander veeartse en spesialiste, wat ons toelaat om nader aan die verwesenliking van ons gesamentlike visie te beweeg.”

Nick de Goede, bestuurder van die Addo-olifant‑ Nasionale Park, is verheug oor die sukses van die hervestigingsprojek.

“Om soveel diere gelyktydig te verskuif, is ʼn eerste vir Addo. Ons het nog net individuele diere in die verlede uit die park hervestig. Ek is dankbaar dat die projek so suksesvol was.”

(Foto: Facebook/Bellevue Forest Reserve)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê maar net ·

Bravo en baie geluk!! Manjefieke poging. Hoop hulle bly gesond en veilig daar!

Kirst ·

Ek dog ons het geleer uit Pilanesberg dat jong bulle nie sonder ‘n volwasse bul hervestig moet word nie.

Johan ·

Ek hoop regtig hulle gaan dit beter bestuur as in die KNP, wat nou maar net n oliefantplaas geword het ten koste van al die ander diere en plantegroei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.