‘Gesonde jong man’ sterf skielik

Sashin van Eyk (Foto: Verskaf)

“Hy was aktief en gesond en het nog sy hele lewe voor hom gehad.”

Só vertel André van Eyk van Vanderbijlpark, Gauteng, oor sy 27-jarige seun, Sashin, wat verlede week oorlede is nadat hy breindood verklaar is.

Sashin was ’n week lank in ’n koma nadat hy skielik siek geword het. ’n Nadoodse ondersoek is aan die gang om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Sashin het as galery-direkteur vir Parkwest Galleries op verskeie skepe gewerk. Hy het nou die afgelope vier weke in Suid-Afrika by sy gesin gekuier en sou Maandag na Amerika terugkeer. Voor hierdie kuier het hy in Junie verlede jaar laas in Suid-Afrika gekuier.

“Dit is ’n groot vertroosting om hom nou hier te kon hê en die laaste tyd saam met hom deur te bring.”

Sashin saam met sy broer, Armand (Foto; Verskaf)

Sashin het regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer en sy klerkskap voltooi. Hy het egter 18 maande gelede besluit om op die skip te gaan werk omdat hy graag “die wêreld wou sien”.

“Dit was die gelukkigste 18 maande van sy lewe. Hy het in daardie tyd 19 lande besoek.”

Volgens André was sy seun se plan om vyf jaar op die skepe te werk en dan sy eie onderneming in Suid-Afrika te begin.

“Hy het reeds na ’n woonstel in Wynberg gekyk om moontlik te koop.”

Sashin het in 2013 aan Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gematrikuleer. Hy het as twee- en driekampatleet uitgeblink en het Gauteng ’n paar keer in hierdie sport verteenwoordig.

Volgens André het Sashin ’n groot liefde vir Afrikaanse musiek en kultuur gehad.

“Spoegwolf was vir seker een van sy gunsteling-bands.”

Sy kollegas op die skepe sê hy was ’n staatmaker en ’n man met waardes en respek.

“’n Man van min woorde, maar ware woorde,” vertel sy een kollega.

André sal sy seun as ’n liefdevolle man onthou wat ander se behoeftes altyd voor syne gestel het.

“Hy wou altyd mense help.”

’n Gedenkdiens word Maandag om 13:45 vanuit die Ou Apostoliese kerk op die hoek van Mendelsohn- en Sullivanstraat vir Sashin gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.