Gesondheidsdepartement slaggereed vir feestyd

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: Facebook)

Die departement van gesondheid sal 1 350 ambulanse oor die land se hoofroetes met ʼn hoë verkeersvolume ontplooi as deel van die departement se feestydgebeurlikheidsplanne om Suid-Afrikaners se veiligheid dié komende feestyd te verseker.

Só het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in die Holiday Inn Hotel in Boksburg, Gauteng, gesê. Phaahla het tydens die konferensie verskeie gesondheidskwessies behandel.

Volgens Phaahla is feestydgebeurlikheidsplanne in lyn met die Arrive Alive-veldtog en die padveiligheidsbewusmakingsinisiatief, gelei deur die departement van vervoer. Die ontplooiingstydperke van die planne verskil in provinsies en sal tussen 14 Desember tot 20 Januarie geïmplementeer word.

(Foto: Gauteng EMS/Facebook)

“Die gepaardgaande risiko’s tydens die feestyd sluit in motorongelukke, voetgangervoertuigongelukke, huishoudelike ongelukke, gesinsgeweld, geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, verhoogde misdaad, alkoholvergiftiging, risiko’s wat verband hou met ontspanning- en sportaktiwiteite, verdrinkings, bendegeweld en massa-ongevallevoorvalle,” het Phaahla gesê.

“Ons het strategiese hulpbronne ontplooi volgens die behoeftes en eise van elke gebied reg oor die land. Dit sluit in: ambulanse, vinnige reaksie-eenhede, lugmediese dienste en rampbusse. Ons het die private sektor se ambulansdienste ingespan om ons huidige kapasiteit deur bestaande diensvlakooreenkomste te vergroot.”

Die 1 350 ambulanse sal na die meeste hoofsnelweë (van N1 tot N14) ontplooi word.

Die uiteensetting of toekenning van ambulanse per provinsie is soos volg: Oos-Kaap – 209, die Vrystaat – 118, Gauteng – 384, KwaZulu-Natal – 222, Limpopo – 120, Mpumalanga – 72, Noordwes – 84, die Noord-Kaap – 67 en die Wes-Kaap – 74.

Hospitale en beurtkrag

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Volgens Phaahla is werk reeds aan die gang om prioriteitshospitale te laat wegbreek van Eskom as kragvoorsiener. Daar is reeds 77 hospitale wat van Eskom se kragvoorsiening vrygestel is.

“Die departement gaan voort om met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) te skakel om munisipaliteite te help om hul pogings te bespoedig om vrystelling van gesondheidsfasiliteite wat elektrisiteit direk van munisipaliteite ontvang, te implementeer.”

Die voorlopige netwerkontleding wat deur Eskom gedoen is oor die vrystelling van 46 hospitale oor die land heen, toon dat bykomende hospitale vrygestel kan word deur nuwe infrastruktuur te bou teen ʼn koste van sowat R356 miljoen. Dit terwyl die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR) besig is om ’n omsigtigheidstudie uit te voer vir die installering van sonpanele by al ons gesondheidsfasiliteite.

Covid-19

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die land het hierdie week die 38 miljoen-kerf oorgesteek met Covid-19-entstofdosisse wat toegedien is, het Phaahla aangekondig.

“Alhoewel die aantal Covid-19-gevalle reg oor die land baie laag bly, word subvariante van Omikron steeds op lae vlakke landwyd opgespoor. Ons gaan voort om sterftes op ’n weeklikse basis aan te teken.”

Covid-19-inentings is nou by primêre gesondheidsorgdienste geïntegreer, en die meeste van die spesiale inentingsterreine is gesluit.

Volgens Phaahla bly die teiken om 70% van die volwasse bevolking met die entstowwe te bereik met ’n spesifieke fokus op die bereiking van ouer persone en kwesbare groepe.

“Die departement het navrae ontvang oor of bykomende Covid-19-entstof-skraagdosisse beskikbaar gestel sal word om deurlopende beskerming teen die virus te bied, veral vir ouer persone en diegene wie se immuunstelsel onderdruk is omdat hulle die grootste risiko loop vir ernstige Covid-19-komplikasies.”

Op die oomblik kom volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 49 jaar in aanmerking om ’n totaal van drie dosisse te ontvang, terwyl diegene van 50 jaar en ouer kwalifiseer om vier dosisse te ontvang.

Die departement oorweeg om ’n bykomende skraagdosis aan albei ouderdomsgroepe aan te bied. Dit sal beteken dat volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 49 jaar in aanmerking sal kom om altesaam vier dosisse te ontvang, terwyl diegene van 50 jaar en ouer kwalifiseer om vyf dosisse te ontvang.

“Daar is min ervaring wat ideale skraagdosis-intervalle betref en daar is ’n hoë vlak van immuniteit in die gemeenskap. Op hierdie stadium is die bedoeling om nog ’n skraagdosis te verskaf met ’n interval tussen die vorige en die bykomende skraagdosis van ’n minimum van 180 dae (ses maande).”

Individue sal egter vrywillig hierdie dosis kry en dit vorm nie deel van die departement se inentingsveldtog nie.

“Die departement herinner Suid-Afrikaners egter daaraan dat die opheffing van inperkingsregulasies nie impliseer dat die pandemie verby is nie.”

Van vroeg in 2023 af sal alle kinders tussen die ouderdomme van vyf en elf jaar – wat onderliggende gesondheidstoestande het wat hulle in gevaar stel vir ernstige siektes weens Covid-19 – die Pfizer-entstof in twee dosisse kan ontvang, met ’n interval van 21 dae tussen die twee dosisse.

Dit sal kinders insluit met chroniese respiratoriese, hart-, neurologiese, nier-, lewer- en gastroïntestinale toestande, asook dié met sekere endokriene afwykings, toestande wat met immuunonderdrukking en ernstige genetiese abnormaliteite geassosieer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Daniel ·

Ek lag vir jou ou Phaahla jy het nie eers die helfde van die voertuie wat nodig is nie

Trotse Boervrou ·

Iemand is stapelgek en word by die dag maller. Ek het al gewonder of dit nie ek is nie want die wragtig weet…

Hennie ·

SLAGgereed… Kon nie ‘n beter woord hier gebruik nie…

Aggie ·

Ek het ook gewonder oor dié gonswoord! Ek dink nie hy het ‘n ideë wat die woord beteken nie!

Nie Verbaas ·

Het Joe die week as nar gekwalifiseer dat hy so iets kan kwytraak? Hierdie klomp het geen benul wat die woord slaggereed beteken nie. Joe, die Oos Kaap se hospitale is seker die beste voorberei nê?

Wendy ·

Ag asb, maar tog kan hulle klinieke, vir die wat afhanklik daarvan is , nie een maand die korrekte pille voorsien aan bejaardes nie, selfs nie eers n botteltjie hoesstroop v verkoues nie, str jou net terug en sè, ” almal is siek daar is nie genoeg nie” en dan boonop elke maand n verskilkende bloeddrukpil!!!! Mense met onderdrukte imuunstelsels behoort geen onbehoorlike inspuitings te kry , hou tog op om die goed so te promofeer, nou al 5 dosisse , ds mos n bewys die goed werk nie

Nie Verbaas ·

O ja Joe jy weet natuurlik waar jy jou “entstof” kan opdruk nê?

Susanna ·

Daaglikse noodgevalle/ongelukke kan nie eens hanteer word nie. En wat het geword van media konferensies in stadsale ipv hotelle wat ten duurste voor betaal word deur belasting betalers.

Strandloper ·

Nog n haelstorm geval. Die anc gevalle nou meer as Covid

Aggie ·

Almal s’n word deur die amptenary geskryf. Ek weet want ek was daar. Hy moet dit net aflees !!!

Danie ·

Gereed wat n grap!!Ondervinding ons al tussen 2en 4 ure gewag vir mediese hulp op motorongelukke?????Praat nie van ander gevalle waar n ou doodbloei en geen hulp.

Ilze ·

Hou tog op met julle COVID nonsens. Inperkings is al maande nie meer van toepassing nie, hoekom nou weer die dooie perd opsaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.