Gesondheidsminister ignoreer aanbevelings oor regulasies

Die minister het die aanbevelings van die advieskomitee klaarblyklik verontagsaam. (Foto: Maroela Media)

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, en die departement wat hy beheer, het in weerwil van aanbevelings van die ministeriële advieskomitee oënskynlik steeds deurgedruk met bepalings oor die dra van maskers, voortgesette beperkings op byeenkomste, sowel as vereistes aan reisigers wat Suid-Afrika wil binnekom.

Maroela Media het vroeër berig die departement en sy amptenare het die feit dat 97% van voorleggings gekant was teen die gesondheidsregulasies geïgnoreer, terwyl senior amptenare boonop minagtend na openbare kommentaar verwys het.

Luidens hofstukke in die organisasie Sakeliga se aansoek om die omstrede gesondheidsregulasies ter syde te laat stel, het die komitee – nadat hy gevra is om ʼn hersiening te doen van reisregulasies – op 15 Februarie aanbeveel dat toegangsvereistes vir alle internasionale reisigers na Suid-Afrika “verminder en selfs verwyder word” en dat die land “oopgestel moet word vir verhoogde inkomende reise vir ekonomiese en toerismedoeleindes”.

Aanbevelings van advieskomitee

Op 16 Februarie het die komitee – nadat hy gevra is om die vereistes vir byeenkomste te hersien – aanbeveel dat die “huidige bepalings oor buitelugbyeenkomste opgehef word” en die 50%-kapasiteitsbepaling ook geskrap word.

Sakeliga sê in sy hofstukke dit is ooglopend duidelik uit die advieskomitee se aanbeveling dat die minister aangeraai is dat geen beperkings vir byeenkomste of die dra van maskers in die buitelug nodig is nie.

Die komitee beveel aan dat maskers aanvanklik binnenshuis gedra moet word, maar dat dié bepaling gereeld hersien moet word. “Die uiteindelik doelwit moet die ophef van ʼn binnenshuise maskermandaat wees,” lui die komitee se aanbeveling.

Die komitee beveel voorts aan dat die stand van sake (teen die middel van Februarie vanjaar) nie langer die dra van maskers in die buitelug vereis nie, dat die dra van maskers binnenshuis geleidelik uitfaseer moet word en dat geen reis- of byeenkomsbeperkings hoef te geld nie.

Sakeliga sê in sy hofdokumente daar hoef net na die konsepregulasies, wat op 15 Maart bekend gemaak is, gekyk te word om te besef dat dit “salig onbewus” blyk te wees van die advieskomitee se aanbevelings.

“In teenstelling met die ministeriële advieskomitee se advies oor ʼn wegbeweeg van die drakoniese Wet op Rampbestuur-regulasies en ʼn terugkeer na normaliteit, probeer die konsepgesondheidsregulasies om ʼn permanente, deurdringende openbare gesondheidsbestel in werking te stel waarvan die aard nog nooit tevore in Suid-Afrika gesien is nie.”

Sakeliga, nes duisende ander mense en instellings, het teen die konsepregulasies kapsie gemaak, maar dit is nietemin op 4 Mei in werking gestel.

Dit bepaal onder meer dat almal in ʼn binnenshuise openbare ruimte verplig word om ʼn masker te dra en dat niemand van openbare vervoer gebruik mag maak indien hulle dit nie doen nie.

Wat betref byeenkomste het die departement steeds beslis dat net 50% van ʼn venue se kapasiteit gebruik mag word, en dat besoekers teen Covid-19 ingeënt moet wees (en dit kan bewys), of ʼn negatiewe PCR-toets moet toon.

Ingevolge die regulasies kan die minster van gesondheid besluit om die regulasies op te hef indien hy voel dit is nie meer nodig nie, maar hy kan dit ook sonder meer weer in werking stel indien hy voel dit is wel weer nodig.

Die regulasies bepaal voorts dat diegene wat Suid-Afrika binnekom teen Covid-19 ingeënt moet wees, of ʼn negatiewe PCR-toets moet toon.

Mense het geen kennisgewing gekry oor die inhoud van die bepalings voor dit in werking gestel is nie – en dit het boonop oornag gebeur.

Geen verduideliking vir afwyking

“Die benadering wat die minister gevolg het, was onsamehangend, irrasioneel en agterbaks,” lui Sakeliga se hofstukke.

En, voer die organisasie aan: “Geen verduideliking is gegee oor waarom die minister die kennersadvies van sy eie ministeriële advieskomitee, soos uiteengesit in die aanbevelings van 15 en 16 Februarie 2022, heeltemal verontagsaam het nie.”

Sakeliga voer aan die regulasies is nie net irrasioneel in die lig van die aanbevelings van die advieskomitee nie, maar kan ook nie versoen word met ʼn aanbeveling wat op 25 April gedoen is nie. Dié aanbeveling lui dat Covid-19 waarskynlik endemies gaan word, met ernstige uitbrekings van tyd tot tyd. Die komitee beveel aan dat ʼn versagtingsbenadering gevolg moet word, en meer ingrypende optrede, indien nodig.

Die advieskomitee beveel in so ʼn geval maatreëls aan wat insluit ʼn voldoende voorraad medisyne en suurstof, ʼn veldtog om skraagdosisse teen Covid-19 te bevorder, sowel as beperkings op die verkoop van drank, sowel as beperkings op skoolbywoning.

Die komitee beveel nie aan dat die dra van maskers verplig word nie, en ook nie vir beperkings op byeenkomste of reise in die geval van ʼn akute uitbreking van Covid-19 nie.

Luidens die hofstukke het Phaahla versuim om te verduidelik hoekom hy steeds die bepalings ingestel het, óf hoekom hy gekies het om die advies van sy eie raad te verontagsaam.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Toy ·

Daar is baie lande wat weggedoen het met maskers, wat is dit met Suid-Afrika se ministers. Mens is nou al behoorlik dik vir hierdie maskers, Mens moet terugkeer na normaal, hierdie is nie normaal om orals met maskers te loop nie, mens maak jou imuunstels swak. Dit is regtig belaglik nou.

LIEZL ·

onder andere Morocco in Noord Afrika dra geen maskers nêrens nie

Willem ·

Dit stop wanneer ONS dit stop, maar ons is te slap om op te staan vir ons regte!

Harley Davidson ·

Dit is moeilik vir party ministers om hulle werk te doen want in Suid-Afrika werk dit gewoonlik so ek is die minister van gesondheid en my niggie het die tender om maskers aan die staat te voorsien teen ‘n belaglike prys want ek moet my gedeelde van die wins kry,nou hoekom gaan ek die verpligtende dra van maskers ophef?

domheks ·

cANCer wil ons wys wie is baas. Maak hulle naam net BOLLIE!

Walda ·

Geen regerings departement steur hulle aan publieke of nagevorste advies nie.

Koeksuster ·

“Geen verduideliking vir afwyking” + “Die benadering wat die minister gevolg het, was onsamehangend, irrasioneel en agterbaks” = hy moet luister na en die opdragte uitvoer van ‘n skadu regering. Hy is maar net ‘n marionet pop, en dit een van vele ander.

Miena ·

Ag kan ons nie maar die goed weggooi of wegbere erens daar diep agter in n kas waar mens nie sommer soek na iets nie?

Dries ·

En wie gaan geld verloor as daar nie meer maskers gemaak word nie. Die kaders

Manie ·

As ek so na die TV nuus kyk en ek lees daar onder , nuwe covid sterftes is 10 . En net daar na dan lees ek moorde in SA gepleeg vir die dag is 52. Dan wil ek my dood lag. Want die mense het nie ‘n clue hoe hulle aa die neuse gelei word deur die covid klug en korrupsie wat in die wereld aan gaan nie. SIT N MUSKER OP EN KRY IN INENTING. DALK WORD JY NIE DEEL VAN DIE MOORD STATISTIEKE NIE. ????????????

Kokerboom ·

Dis ‘n skande dat SA uitgelewer is aan die grille, giere, arrogansie van onbevoegde nuttelose kaders wat teer op magsmisbruik en vertoon wat GEEN benul het waarom hul sekere goed afdwing. Die arrogansie laasweek ervaar op SA grens met Namibia waar doeane amptenaar ons soos kriminele hanteer het oor dra van maskers. In Namibia nie meer van toepassing

Jacobus ·

Tweedelaaste paragraaf: bewys van psigopatiese magsbeheptheid! Geen, maar geen gesonde verstand. Bewys ook dat toutjies van buite getrek en in werklikheid NIKS met pandemie te make! Verder is Digital Vibes doodstil!

Miskruier ·

Net soos die wegneem van sigarette nie covid gekeer het nie, doen die maskers ook nie. Hierdie is n magspel wat op die aan die slaap, bang vir die dood publiek af geforseer word.

Korrelkop ·

Hoe op aarde is dit moontlik dat hierdie verdomde ministers, ens bloot eenvoudig hofbevele en reels verontagsaam en net eenvoudig aan ploeter soos hulle lekkerkry. Ek, as individu, sou nooit met sulke gedrag kon wegkom nie. Gaan my verstand te bowe!

Petrus Albertus ·

Sakeliga, lê asseblief terselfdetyd ‘n klag teen dr. Nicolas Crisp by die staatsdienskomissie. Alla wêreld, die man kan nie met hierdie minagting van die belastingbetalende publiek wegkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.