Gesprek oor grondkwessie op Woordfees lok honderde

Prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbou aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die presidensiële paneel oor landbou en grondhervorming. (Foto: Twitter via @AEASA_LEVSA)

ʼn Gesprek oor die grondkwessie op die Woordfees op Stellenbosch het honderde feesgangers gelok.

Die deelnemers onder voorsitterskap van die joernalis Tim du Plessis was die regskenner dr. Phephelaphi Dube, die landbou-ekonoom prof. Johann Kirsten en prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbou aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die presidensiële paneel oor landbou en grondhervorming.

Dube het begin met ʼn oorsig van waar die parlementêre proses oor ʼn moontlike grondwetlike wysiging nou trek. Sy het uitgewys dat dit nog geruime tyd gaan duur voordat die proses tot ʼn einde kom.

Tans is dit voor die grondwetlike hersieningskomitee wat met ʼn konsepbewoording vir ʼn wysiging vorendag moet kom. Dan moet ʼn omvattende openbare deelnameproses volg voordat die Nasionale Vergadering oor die kwessie moet stem.

Dube het gemaan dat die bewoording van enige grondwetlike verandering deurslaggewend sal wees, en dat dit tans nog nie bekend is nie. Sy het belanghebbendes in die landbou aangeraai om ook die bewoording van die Onteieningswetsontwerp na te gaan. Haar eie lees daarvan is oorwegend positief vir kommersiële landbou.

Du Plessis het vervolgens aan Kirsten en Karaan gevra of hy dit reg lees dat die hitte in die gronddebat afgeneem het vergeleke met verlede jaar, soos vergestalt in die EFF-plakkate wat lui “Jobs and land now” eerder as “Land and jobs now” – kiesers gee meer om oor werkgeleenthede as oor grond.

Karaan het opgemerk dat die huidige onsekerheid oor grondhervorming ʼn negatiewe invloed het op sakevertroue sowel as op die hoeveelheid grondverkope en grondaankope, maar veral op grondpryse. Hy is veral bekommerd oor die afname in landboubelegging in die huidige onseker klimaat.

Kirsten het aan die gehoor gesê die implikasies van Karaan se inset is belangrik, naamlik dat die georganiseerde landbou nie, nou dat die hitte van die grondstryd afgeneem het, moet sit en niks doen nie. Hy meen die korporatiewe en landbousektor moet juis nou pro-aktief optree wat grondhervorming betref sodat dit, op hul eie inisiatief, so suksesvol as moontlik kan afloop.

Die regskenner dr. Phephelaphi Dube. (Foto: www.sun.ac.za)

“Die debat oor onteiening sonder vergoeding het ʼn dringendheid in die debat oor grondhervorming gebring,” het Kirsten gesê.

Op ʼn vraag van Du Plessis of die huidige proses wetlik uitgedaag kan word, het Dube gesê dit sal te vroeg wees solank die parlementêre raadplegingsproses en die konsepbewoording vir enige moontlike grondwetwysiging nie voltooi is nie.

Slaggate waarin die proses kan beland sluit in dat daar nie genoegsame of korrekte openbare raadpleging was nie, insluitend dat vrae by openbare verhore nie gefokus het op die voorgestelde grondwetwysiging nie, maar eerder op swart mense se pyn uit die verlede.

Andersins kan ʼn verkeerde aanwending van die beperking van regte ook die proses kortwiek.

Kirsten het op hierdie punt herhaal dat boere en die georganiseerde landbou pro-aktief moet optree eerder as om te wag dat dinge met hulle gebeur.

Du Plessis het die probleem met grondhervorming opgesom met die stelling dat grond wel in die verlede van mense weggeneem of gesteel is – maar nie deur die mense wat dit tans bewoon nie.

Karaan meen ʼn oplossing is wel moontlik, en veel meer so as twintig jaar gelede omdat daar nou twintig jaar se ervaring as rigsnoer is.

Hy meen daar is drie groot vrae oor grondhervorming, te wete of die Grondwet moet verander, of daar onteiening sonder vergoeding moet wees, en wat die teiken met grondhervorming moet wees.

Hy het dus gevra dat mense wegbeweeg van emosionele argumente en eerder op die tegniese bestuur van pro-aktiewe grondhervorming konsentreer.

Die landbou-ekonoom prof. Johann Kirsten. (Foto: www.up.ac.za)

Volgens Karaan is dit belangrik dat die beginsel van regverdige en regverdigbare vergoeding (waar die hof oor die vergoeding besluit) behoue bly, maar as elke grondeis voor die hof eindig vat dit te lank, wat nie polities raadsaam is nie.

Hy het gemaan dat daar tans geleenthede vir die kommersiële landbou opgesluit lê daarin dat pres. Cyril Ramaphosa aandring dat enige grondwetlike wysiging bloot eksplisiet maak wat reeds implisiet in die Grondwet is.

Karaan het gemaan dat die land twintig jaar ná die aanvang van die proses nog net 10 tot 12% van grond oorgeskuif het van wit na swart besit – deels weens onbeholpenheid van die staat en deels omdat grondpryse te hoog is. Daar is nie genoeg geld van die staat se kant om die nodige hoeveelheid grond aan te koop met die beskikbare geld nie.

Hy meen ʼn uiteindelike doelwit van 50% grondoordrag van kommersiële wit na kommersiële swart boere sal die politieke koors breek, maar dit sal ʼn langtermyndoelwit moet wees.

In wat Karaan toegee ʼn omstrede standpunt is, het hy sy mening gelug dat hoë grondpryse ‘gans te hoog is’, en dat laer grondpryse in die landbou se belang is omdat dit investering aanmoedig terwyl hoë grondpryse in praktyk uittrede uit die landbou aanmoedig.

Kirsten het daarop gewys dat die gronddebat nie net op landelike grond van toepassing is nie, maar ook op stedelike grond.

Dube het daaraan toegevoeg dat alle kwessies oor grond nie in howe opgelos gaan word nie. Die kwessie is groter as dit en weens die emosie betrokke is dit eintlik ʼn tweede Waarheids-en-versoeningskommissie.

Tim du Plessis. Foto: Facebook/Tim du Plessis

Karaan het gesê na sy mening is dit voorsienbaar dat ʼn plafon op grondpryse geplaas kan word, maar dat daar nie ʼn enkele oplossing vir die probleem aan die hand gedoen sal word nie – verskillende gebiede kan verskillende werklikhede weerspieël, insluitend voormalige tuislandgrond, stedelike grond, boerderygrond en staatsgrond in die middestad.

Wat laasgenoemde betref, verwag hy dat die regering voor die verkiesing van aanstaande maand af kaart en transport op sulke eiendom in groot getalle gaan begin uitdeel.

Karaan het boere voorts gerus gestel met die stelling dat alle belangrike politieke rolspelers – ook die ANC en EFF – besef grondhervorming moet sensitief hanteer word omdat die landbousektor tot 250 000 werkgeleenthede kan inboet as dit swak hanteer word.

Kirsten het boere aangeraai om die geleenthede in die huidige situasie te sien en aan te gryp om hul besighede te vergroot – veral deur self op plaaslike vlak beheer te neem oor ʼn proses van pro-aktiewe grondhervorming.

Hierby het Dube aangesluit deur te waarsku dat die burgerlike samelewing nie die Onteieningswetsontwerp moet brandmerk as ʼn grondgrypery nie, want dit is volgens haar nie die geval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Asjas ·

Is dit nou dieselfde woordfees wat reken die wereld is ‘n beter as voorheen???

Deon ·

Hier in Daggafontein dink ons ook die wêreld is ‘n beter plek.

Jerry ·

“Dont panic, just organise and unite against the ANC and its NDR transformation programmes! They will be the ones who start panicking!

Leser ·

Ja dit is nou dieselfde Woordfees wat se die wereld is n beter plek.
Die ouens met die eie Ek probleem.
Almal dink hulle woord dra gewig maar o genade hulle dra ongelukkig almal oogklappe.
Die eie Ek is alomteenwoordig en dit is al waaroor dit gaan

lewies ·

As jy vandag ‘n motor het al is dit ‘n krokkie of jy het warm water en ligte is die wereld ‘n beter plek, veral as jy dit nie voorheen gehad het nie. Dit is die dilemma waarmee ons hier in SA sit. Dit is wat die adjunk president bedoel het toe hy gese het dat beurtkrag ‘n teken is van ontwikkeling. Hierdie uitsprake is blatant en gewetenlose politieke uitsprake vir ‘n sektor van die samelewing)

D B ·

Ry Maandag noodgedwonge deur Pretoria. Mense, die stad is reeds donker, met of sonder kaart en transport, en nie die DA of die VF+ of wie ookal sal dit ooit weer kan herstel tot sy glorie jare nie.

Wat wel lekker gaan wees is dat al hierdie mense beslis nie Suid-Afrikaners is nie. Miskien, net miskien, gaan ons tog net terug hoef te sit en kyk hoe hulle mekaar uitsorteer. Uitlanders groei by die dag, en net soos in die “ou dae” word hulle nie gemonitor nie…

dr. Sakkie van der Merwe ·

Karaan – die dekaan van landbou op Skelmbosch? Tim du Plessis jare die verloopte linkse koerant redakteur. let op Kirsten se opmerking – nie net landbougrond nie – jou eiendom in die dorp is ook in die visier. Hoe kan grond onteiening nie neerkom op grondgryp nie? Dit is diefstal in Afrikaans.

grondgryp ·

Neewat, hierdie eie Ek ouens moet verby hou………………….
Sien dwarsdeur hulle.

Dries Moolman ·

Wat help hierdie eensydige besprekings? Laat mense van regoor die spektrum van belanghebbendes daaraan deelneem, dit sal dan meer geldig wees.

Waarheid ·

Stem saam .Dit is totaal eensydig.
En dan dink die lot nog hulle is reg.
Lagwekkend.
Sien hoe skarrel hulle land uit wanneer dinge drasties verander.
Hulle sal almal op die tarmack wag vir die eerste vliegtuig….

Andre ·

Ken die voorsitter en sy paneel die geskiedenis van Suid Afrika ? Lees dit saam met die geskiedenis van die res van Afrika , en daar was nie Apartheid en n Jan van Riebeeck nie.
Wat het gebeur met die “mandjie” van Afrika nadat die plase weggegee is aan mense gegee wat nie bevoeg was om dit te ontwikkel nie. Waarom gaan dit anders wees in Suid Afrika ? Kyk na die Regering wat die voorbeeld moet stel. Bewerings van korrupsie, wanpraktyke, wanbesteding, onbevoegdheid.

Jacques du Toit ·

Is Tim nog steeds ontsteld dat sy seun ‘n slagoffer van regstellende aksie was?
Sy laaitie wou mos iets in die lugvaartbedryf doen, maar die knaap was toe te wit.
Ek onthou nog die rubriek wat Tim daaroor geskryf het, hoogs beswaard (nes ou Genis van Kooperasiestories).

JAN ·

Hoekom word die grootste grondroof ooit nooit genoem nie? ABO.
Ook word die myndorpe huise ens nie genoem nie?
Waarom word landbou geteiken wat meestal sekuriteit op skuld is?
Die bates wat onteien sal word is mynbou sobyso die landbougrond onbruikbaar besoedel soos die sianied van goud myne oa.
Is dit nog steeds mynbouers wat landbou vernietig?
Niks maak sin nie…

Afrikaner ·

Cyril Ramaphosa het in die dae gesê die episentrum van die landbourevolusie lê in Suid-Afrika se landelike gebiede. Nou wil hy ook mense in die stede, na grondonteiening, vestig om hulle nader aan die ‘ekonomie’ te bring.

Is lae behuising in stede en voorstedelike woongebiede, ook in parke en oop ruimtes ons voorland? Wat van misdaad wat goedkoop hoë digtheidbevolking saambring? In al die stede/voorstede is daar nie tekort aan werkers nie, daar is reeds ‘n ooraanbod van mense.

En Munisipale dienste?

Ek het al die afgelope twee of drie maande ‘n kennisgewing/proklamasie op ‘n parkie in ons woongebied langs ‘n winkelsentrumpie, ‘n paar honderd meter van ons af, gesien.

Dan is daar nog een, ‘n entjie op die Kaapsehooppad uit, vir sodanige nedersetting, nogal ‘n groot gebied, ons stap weekliks daar verby, nie ver van waar hulle ‘n groot winkelsentrum met konferensiegeriewe beplan nie, die grondwerke is al aan die gang.

In die omgewing is merendeels Lodges, ‘n kwekery, kleinhoewes, ‘n groot eksklusiewe wildomheinde woongebied teen die koppe uit. Ook is Core daar, ‘n gimnasium. Die ou vliegveld en plase is ook op daardie pad uit. Dit lyk asof hulle die dorp na daardie kant toe wil uitbrei.

Ek is van mening Cyril het sy idee van Patricia gekry.

En as diegene wat reeds in die stede werk, maar wat van buite af kom, nou daar gaan woon om nader aan die werk te wees, het Cyril dan nou nuwe werk geskep, of het hy net mense verplaas?

Verkiesingsfoefie?

Jaco ·

Die sogenaamde Woordfees het ontaard in ‘n forum vir linkse Liberaliste wat daarop uit is om die Afrikaner Volk af te takel en “Boerebashing” te bedryf. Ek het geen idee wat mense daar gaan soek nie. Ek boikot hulle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.