Gestorwe polisieman by Uniegebou vereer

A.o Jan Esterhuysen. (Foto: Facebook)

Die adjudant‑offisier wat verlede jaar deur ʼn vermoedelik dronk motoris by ʼn padblokkade in Gauteng doodgery is, se naam sal nou op die polisie se muur van herinnering aangebring word.

“Vir ao. Jan Christoffel Esterhuysen, vir die eed wat jy afgelê het, jou braafheid om te beskerm en te dien, die Suid-Afrikaanse polisiediens bedank jou,” lui ʼn inskrywing op die polisie se Twitter-rekening. “In liefdevolle herinnering het die polisie dit gepas gevind om jou naam op die polisie se nasionale muur van herinnering te graveer.”

Die muur is by die Uniegebou in Pretoria. Polisiemanne wie se name op dié muur aangebring word, het besonders braaf en onselfsugtig opgetree in die uitvoering van hul diens om geregtigheid aan slagoffers van misdaad te laat geskied.

Esterhuysen was verbonde aan Fochville se eenheid vir sigbare polisiëring en het ten tye van sy dood 27 jaar van lojale diens aan die polisie gelewer.

Hy was op 16 Oktober 2021 besig om die vloei van verkeer by ʼn padblokkade in Khutsong aan die Wes-Rand te beheer, toe ʼn 20-jarige motoris deur die blokkade gery en Esterhuysen sowel as ʼn stilstaande motor getref het. Die bestuurder het van die toneel probeer vlug, maar ander polisielede kon daarin slaag om hom vas te trek.
Esterhuysen is na die hospitaal gehaas, waar hy aan sy beserings beswyk het.

Ao. Jan Esterhuysen se naam word by due Uniegebou se muur van herinnering aangebring. (Foto: Twitter/ Saps)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

En wat het van die 20 jarige bestuurder geword?Vrygelaat met n waarskuwing om nooit weer so te jaag nie of wat?

Di ·

Rus in vrede. Hoop geregtigheid geskied en dat die skuldige tronkstraf kry. Met die meeste ANC kaders wat in howe en NVG sit weet mens nie aldag nie. Het die program “Waarheid met Max” gekyk op Showmax en is GESKOK om te hoor wat presies in die land aangaan en HOE KORRUPT almal wat in hierdie instansies werk is. ALLES word toegesmeer en die grootste skelms sit nog steeds in die Parlement.

Cherokee ·

Met waardering dat A.o. Jan Esterhuyzen se naam geëer word, vra ek waarom ‘n insident wat verlede jaar (dit is einde Augustus nou) steeds verwys word na ‘n ‘vermoedelik’ dronk motoris’ wat Jan vermoor het. Teen hierdie tyd, selfs al is dit SA, behoort dit bekend te wees as hy dronk was tydens die insident.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.