Gestrande brakkies binnekort tuis

Nyala en Isla kort nadat hul eienaar, Adam Young, hulle by die Egiptiese grens opgespoor het. (Foto: Verskaf)

Was dit ooit ʼn opsie om die gesin se twee Skotse terriërs, Nyala en Isla, in oorloggeteisterde Soedan agter te laat?

Hierop antwoord Ilse Young ʼn onomwonde “nee”. Daar was net geen manier nie.

Dan raak Young ʼn oomblik stil.

“… nou raak ek sommer hartseer … Ons het hulle Soedan toe gevat. Dit is nie hul skuld hulle was daar nie.”

Ilse, haar man, Adam, hul driejarige tweeling, Duncan en Isabella, en Nyala en Isla het in Khartoem gewoon toe gevegte twee weke gelede oor groot dele van Soedan uitgebreek het.

Ilse en die kinders het sedertdien veilig in Suid-Afrika aangekom. Adam is egter nog in die vreemde in ʼn poging om sy gesin se honde op ʼn vlug na Suid-Afrika te kry.

Nyala is die afgelope vyf jaar al ʼn lid van die Young-gesin. Isla is maar ses maande oud en was slegs twee maande in Soedan by haar nuwe gesin toe dit bomme begin reën en die klank van geweervuur deur die strate bulder.

“Isla vloek en skel ons seker nou,” skerts Ilse.

Nyala en Isla. (Foto: Verskaf)

Agtergelaat

Die Young-gesin het verlede week, terwyl duisende ander mense ook uit die land begin vlug het, ook die moeilike besluit geneem om eerder na hul tuisland terug te keer. Die gesin kon ʼn bus vanaf Khartoem na Aswan, ʼn stad in die suide van Egipte haal, maar moes noodgedwonge hul honde agterlaat.

Die gesin het met ʼn buurman gereël om na die honde by hul huis om te sien tot hulle ʼn ander plan kon maak.

Die Young-gesin het ʼn pleidooi om hulp op sosiale media geplaas en die hartverskeurende situasie het talle Suid-Afrikaners diep geraak.

Nyala en Isla op pad van Aswan na Kaïro. (Foto: Verskaf)

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers, het eindelik tot hul redding gekom en gereël dat die honde in twee kratte op ʼn ander bus gelaai word. Die honde is egter nie by die Egiptiese grens deurgelaat nie en moes noodgedwonge daar agtergelaat word.

“Daar is gesê dat daar fout is met hul dokumentasie, maar ons het intussen vasgestel dat dit nie die geval was nie. Ek dink hulle het eerder mense geprioritiseer en die honde toe net daar op die grens gelos.”

Die Young-egpaar was egter vasbeslote om hul honde veilig tuis te kry en het ʼn grenswag opgespoor wat ʼn sogenaamde bewys van lewe aan die gesin kon stuur. Nyala en Isla was egter in hierdie stadium redelik getraumatiseer.

Daar is toe besluit dat Ilse en die kinders ʼn militêre vlug na Suid-Afrika sou haal en dat Adam na die Egiptiese grens sou terugkeer om die honde te gaan haal.

Adam kon intussen sy én die honde se weg tot in Kaïro vind.

Die Suid-Afrikaanse departement van landbou het reeds die nodige permit uitgereik sodat die honde na Suid-Afrika gebring kan word. Dit is egter nog ʼn stryd om die honde se dokumentasie in Egipte af te handel en ʼn beskikbare vlug vir die honde te vind.

Adam, Nyala en Isla kort nadat hulle herenig het. (Foto: Verskaf)

Intussen is die Young-gesin “onvoltallig”, vertel Ilse.

“Die arme kindertjies kan nie verstaan waarom is pappa, Nyala en Isla nog nie hier nie.”

Ilse vertel van ʼn vriendin, wat by die Japannese ambassade in Khartoem werk, wat haar hond noodgedwonge in die sorg van ʼn veiligheidswag by haar huis in Khartoem moes agterlaat. Die veiligheidswag het intussen óók gevlug.

“Sy het sedertdien op ons WhatsApp-groepie gevra of daar nie dalk iemand is wat kos oor die muur kan gooi nie. Dit raak nou hartverskeurend.”

Ilse sê dat sy nie vir ʼn oomblik gedink het dat sy nie weer haar geliefde honde sal kan sien nie. “Ons het nog heeltyd planne gereed. Maar ʼn mens is net bietjie bang wanneer jy hulle sal kan sien en of hulle nog veilig is … of daar vir hulle kos is.”

“Maar ons is van die gelukkiges [om ons honde huis toe te kan bring].”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Dan is daar mense wat verhuis en die diere (veral honde) net so in ‘n lëe erf agterlaat! Dìt is die mense wat hierdie mooi artikel moet lees.

TruthDealer ·

Ek dink ook aan die gesin wat uit Sirië moes vlug, wat hul kat meer as 1 000km saamgeneem het. Hulle het net eenvoudig gesê hy is deel van hul familie en hy gaan waar hulle gaan. Het my sommer laat huil. Hier waar ons woon het mense getrek en hul hondjie agtergelaat in die erf. Het hul ander honde saamgeneem maar daai enetjie gelos. My jongste dogter was nog in die laerskool, sy en haar maatjie het my kom sê daar’s n hondjie alleen daar. Die maatjie het toe die hondjie aangeneem.

My siening ·

Ek haal my hoed af vir Adam en veral gift of the givers wat die op eie houtjie gedoen het, asb regering moenie eers probeer om die glorie te vat nie!

Ronel ·

Ag dit is so awesome! Ek sal enigiets doen vir my diere en sal hulle ook nooit ooit agterlaat nie. My diere is familie en verseker nie sommer net ‘n hond of ‘n kat nie!! Dis nou ‘n pragtige storie!

Lillian ·

As my diertjie nie saam met my kan gaan nie, dan bly ek ook. Daar is geen manier wat ek my diere sal los en gaan nie. GEEN!!!!

Nella ·

‘n Man en gesin so na my hart. Ek sal ook alles in my vermoë doen om my diere saam te neem waar ek gaan. Maar agterlaat, nooit. Ons het getrek, my kat het 2 weke tevore verdwyn. Ek het besluit ek bly agter (al slaap ek in my kar) tot hy kom. Die aand voor ons trek, het hy opgedaag. Was so verlig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.