Gestrandes in SA: ‘Hier is niks meer vir ons oor’

(Foto: Unsplash)

Amper 4 000 Suid-Afrikaners wat in die Verenigde Koninkryk woon of werk, kon nog nie daarheen terugkeer nie omdat die visumsentrum wat hul visum- en paspoortaansoeke hanteer, steeds gesluit is. Die regering het in Mei aangekondig dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk, nou toegelaat word om die land te verlaat.

“Met die instel van die algehele afsondering, het die TLScontact-visumsentrum wat verantwoordelik is vir die aansoeke van paspoorte en visums van die Verenigde Koninkryk, ons paspoorte en visums teruggehou. Van die aansoeke was reeds klaar verwerk en goedgekeur. Van die aansoeke was steeds in die proses om goedgekeur te word. Die proses staan egter stil,” vertel Debbie Walton, een van die gestrandes wat ook betrokke is by die Locked in South Africa (Lisa)-veldtog wat deur die HomeAwayFromHome-inisiatief (HAFH) van stapel gestuur is. Die veldtog is begin om Suid-Afrikaners wat in Suid-Afrika gestrand sit, maar in ander lande woon en werk, te help en te ondersteun om terug te keer na die lande waar hulle woon en werk.

Van dié Suid-Afrikaners was besig om na die Verenigde Koninkryk te emigreer. Hulle het reeds in Suid-Afrika hul huise, meubels en voertuie verkoop, werke bedank en kinders uit die skole gehaal. Van hulle het ook hul mediese fondse in Suid-Afrika opgesê.

Van dié Suid-Afrikaners kry ook nie in dié tyd salaris nie omdat hulle nie kan werk nie of moes tydens die afsonderingstydperk by vriende of familie bly of by gastehuise inboek.

“Hier is niks meer in Suid-Afrika vir ons oor nie,” sê Walton.

Walton sê hulle weet nie hoekom die sentrums gesluit is, of wanneer dit weer gaan oopmaak nie.

Die groep kan ook nie die nodige sertifikate wat hulle toestemming gee om die Verenigde Koninkryk te kan binnegaan, kry nie. Die meeste visums en toelatingsertifikate wat in Februarie en Maart uitgereik is, het teen die tyd al verval.

Bedrywighede van visumsentrums, onderworpe aan streng gesondheidsprotokolle, word weer onder vlak 3 van afsondering toegelaat.

Volgens Walton het die TLScontact op sosiale media gesê die sentrums kan weer oopmaak wanneer afsonderingsregulasies dit toelaat. Die organisasie sê die nodige toestemming moet deur plaaslike owerhede en die regering gekry word voordat sentrums weer kan heropen, maar dat hulle nog nie bedrywighede in Suid-Afrika gaan hervat nie omdat hulle bekommerd is oor die veiligheid van hul personeel hier. Dit is nie duidelik wat hy met dié stelling bedoel nie.

Walton sê die afdeling van die sentrums wat paspoorte en visums vir België en Duitsland hanteer, het wel vroeër die week bedrywighede hervat. “Dit is nog net die aansoeke vir die Verenigde Koningryk wat stilstaan,” sê sy.

Intussen het Blaine Adams, wat ook in Suid-Afrika vasgekeer is, ’n petisie begin as pleidooi aan die TLScontact om die sentrums te heropen. Amper 5 000 handtekeninge is reeds vir die petisie gewerf.

Adams het die petisie begin in die hoop om weer sy vrou, wat in Londen bly, te kan sien. Hy is al maande lank van haar geskei. Sy twee kinders, wat onderskeidelik drie en sewe jaar oud is en saam met hom na Suid-Afrika gereis het, het ook nie in dié tyd hul ma gesien nie.

Die hele aansoekproses het die Suid-Afrikaners ook reeds duisende rande uit die sak gejaag.

Van die gestrande Suid-Afrikaners wat visums ontvang het, het die Verenigde Koninkryk se regering ’n verpligte nasionale versekeringsbydrae van 2 000 pond per aansoeker betaal, sowel as die hoë koste verbonde aan die visums.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief..

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alexander ·

Die regering voel vere, en nog boonop aspris ook. Dit is uiters teleurstellend.

Michael 1 ·

Die regering stel net belang in jou belasting geld en verder is jy op jou eie.

Jaco ·

waarom het julle dan teruggekom? meeste van julle is dan waarskynlik weg omdat julle hier swaargekry het weens regstellende aksie, BEE en misdaad. Dan het julle mos geweet julle kom na ‘n aaklige land toe terug.
Ek hoop julle kan wegkom. Die van ons wat agterbly se kwaai swaarkry dae le voor vir na lockdown met baie van ons besighede wat gaan toemaak en regstellende aksie en BEE wat meer intensief toegepas gaan word. Onteiening sonder vergoeding le ook nog voor.
Dis duidelik dat wit mense se belastinggeld NIE meer belangrik is vir ons anti-wit regering nie. Eks van plan om formeel by alle politieke partye van SA ‘n deportasievoorstel in te dien, wat min of meer die volgende sal behels:
deporteer alle wit mense. begin by die wat reeds dubbele burgerskap het. dwing hulle sommer vinnig na hulle lande van herkoms terug. die res kan ook op vliegtuie en skepe weggevat word. stempel groot in elke paspoort “return to SA forbidden”. Dan is Europa en ander lande gedwing om ons in te neem.

Michael ·

Ek stem met jou deportasie voorstel, alhoewel pleks van Europa sou ek eerder sê ons skuif na n eiland soos St.Helena. Ons pak daar af want eilande is onder die radar.

Michael ·

Dis iets onsin dat sulke belangrikhede nie voorang kry nie, mense lewens en behoeftes word hierdeur geskaad.

Barbara ·

My ma hul is ok gestrand hul kan nie terug keer Amerika toe nie. Ons sukkel net so. En haar vriend is ń Amerikaanse gebore burger.

Dana ·

My vriendin wat in Londen werk was gelukkig en kon verlede week teruggaan. Laaste plek op ‘n vlug gekry.

Corrie ·

Asb Liewe Maroela Media.
Ons is so baie mense wat vasgekeer is in Engeland.
Die een vlug na die ander word gekanselleer en net SAA repatriasie vlugte word toegelaat om te land in SA.
Help ons asseblief!! Ons is desperaat om huis toe te gaan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.