Gevreesde reeksmoordenaar doen aansoek om parool

Steward “Boetie Boer” Wilken (Foto via Facebook)

Stewart Wilken (55), ook bekend as Boetie Boer, ’n veroordeelde reeksmoordenaar van Port Elizabeth, het aansoek gedoen om parool.

Wilken is op 20 Februarie 1998 skuldig bevind op sewe aanklagte van moord en twee aanklagte van sodomie en is sewe lewenslange vonnisse opgelê. Hy word by die St Albans-gevangenis aangehou.

Nobuntu Gantana, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het aan Maroela Media bevestig Wilken kom nog nie in aanmerking vir parool nie.

“Die oortreder het aansoek gedoen om parool en sy profiel is by die minister van justisie en korrektiewe dienste ingedien vir aanbeveling kragtens die Wet op Korrektiewe Dienste,” het Gantana bygevoeg.

ʼn Besluit is dus nog nie gemaak nie.

Wilken word beskou as ’n uiters ongewone reeksmoordenaar omdat hy twee verskillende groepe mense vermoor het: vroulike prostitute en jong seuns. Hy het ook sy eie dogter en stiefseun vermoor. Wilken het in 1990 begin moor en is in Januarie 1997 aangekeer. Hy was in Port Elizabeth aktief.

Die forensiese sielkundige dr. Micki Pistorius, het tydens Wilken se verhoor in die hooggeregshof gesê Wilken voldoen aan die “klassieke profiel van ʼn reeksmoordenaar” en “sal weer moor wanneer die geleentheid hom voordoen – of hy in die tronk of buite is”. Sy word beskou as een van die land se voorste kenners oor reeksmoordenaars.

Pistorius het aan regter Chris Jansen gesê die rehabilitasievooruitsig van reeksmoordenaars is “nul”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Richard ·

Net in Suid-Afrika is daar enigsins ‘n kans dat ‘n monster soos die selfs net kan aansoek doen om parool. Hy moet VIR SEKER nooit weer uit die tronk kom nie.

KatjieDeKat ·

Regtig???? The absolute jumped-up shameless Temerity of this man, to even Think of requesting parole!! Dit wys my alreeds hy het Geen maar Geen berou oor wat hy gedoen het nie. Soos die forensiese sielkundige, Micki Pistorius ook weet, hy Gaan dit weer doen. That is a 100% certainty.

Tracey ·

Wat sal die doel van 7 lewenslange vonnisse as jy kan parool kry? Lewenslank beteken tot jy nie meer lewe nie. 7 x lewenslank beteken seker 7 x erger m.a.w. onder geen omstandighede vrygelaat nie? Hoe dink hy, hy kan aansoek doen? En ons wag so ewe vir n besluit om gemaak te word? Wat moet besluit word? Die antwoord is NEE, geen besluitneming of oorweging is nodig nie. NEE!!!!
Gooi die aansoek in die asblik en sê net NEE!!!

Swerwer ·

Beslis ‘n Psigiatriese geval en kan nie sonder toesig funksioneer/vrygelaat word nie.

Natasha ·

Kan nie sien dat so persoon kan vrygelaat word nie, dis plain weg net moeilikheid soek!!
Ons praat van een van die min, as dit nie die enigste reeks moordenaar wat sy eie bloed ook vermoor het.

Sarel ·

Dit is hierdie ouens wat in SA Parool kry.
Kyk maar wat gebeur…

TRP ·

Die arrogansie om net aansoek te doen!!! Sy krininele aksies is onmenslik, 7 x lewenslank beteken net dit. Hy sou die doodstraf opgele gewees het as dit nog bestaan het en na 25 jaar wil hy parool he…nee maggies. Vrot waar jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.