Gimnasium Pretoria ‘nog ʼn antwoord vir Afrikaanse onderwys’

Gimnasium Pretoria word bestempel as ‘nog ʼn antwoord vir Afrikaanse onderwys’. (Foto: Verskaf)

ʼn Splinternuwe onafhanklike skool sal binne die volgende paar jaar sy deur in Pretoria oopmaak. Gimnasium Pretoria is Woensdagoggend, op Moedertaaldag, by die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel.

Die skool sal uiteindelik leerders van kleuterskool tot in matriek inneem en het onder meer ten doel om ʼn oplossing te bied vir die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur.

“Die staat bou nie meer Afrikaanse skole nie, daarom moet ons (die gemeenskap) dit doen, ter wille van ons kinders,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit tydens die funksie gesê.

Gimnasium Pretoria sal ʼn skool wees in eie reg, maar deel vorm van die groter Solidariteit Beweging. “Ons wil ʼn skool bou wat wêreldklas is, maar die uiteindelike doel is om ʼn konsessie te ontwikkel wat gemeenskappe in staat sal stel om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms van hul kinders,” sê Hermann.

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is daar ʼn groot behoefte aan Afrikaanse skole, veral in die Wes-Kaap en Gauteng. “Afrikaanssprekendes groei, maar stadiger as die res van die bevolking, daarom kry dié taalgroep minder hulpbronne van die regering. Omdat die regering in Gauteng uiters vyandig teenoor Afrikaans is, is die behoefte hier veral groot.”

Die skool, wat Woensdag bekend gestel is, sal uiteindelik leerders van kleuterskool tot in matriek inneem en het onder meer ten doel om ʼn oplossing te bied vir die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur. (Foto: Verskaf)

Die SNI het navorsing gedoen om te bepaal waar in Gauteng die grootste behoefte aan Afrikaanse skole binne die volgende 20 tot 50 jaar sal wees, en tot die gevolgtrekking gekom dat Pretoria in dié tyd die meeste Afrikaanse kinders van skoolgaande ouderdom sal hê.

“Teen 2031 sal daar tussen 550 000 en 600 000 Afrikaanssprekendes in die Tshwane-metro wees,” sê Mulder. “Hierdie mense woon in die noorde, ooste en suide (Centurion) van Pretoria, met ʼn aansienlike uitbreiding in die ooste.”

Die SNI het later Silver Lakes in die ooste van Pretoria as die beste gebied vir die nuwe skool geïdentifiseer, met ʼn vooruitskatting van sowat 17 000 Afrikaanse kinders in dié gebied, oor die volgende 20 tot 50 jaar. “Nog ʼn rede waarom dié gebied as geskik beskou word, is weens die aansienlike ontwikkeling en opgradering van infrastruktuur hier,” sê Mulder.

Die presiese terrein waarop die skool gebou sal word, asook wanneer die skool sy deure amptelik sal oopmaak, sal volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, binnekort aangekondig word. Die skool sal volgens hom “deur die gemeenskap” befonds word.

Fourie sê die nuwe skool bied een van die antwoorde vir die onderwysuitdagings binne die huidige konteks. “Daar is verskeie antwoorde, waaronder die strewe na selfstandigheid van ons skole, om ʼn volhoubare Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap te verseker. Gimnasium Pretoria bied ook van hierdie antwoorde.

“Afrikaanse skole is die hartklop van die Afrikaanse taal‑ en kultuurgemeenskap. Ons moet hulle beskerm en uitbou.”

Volgens Fourie het die SOS reeds die afgelope drie jaar indringend navorsing gedoen oor hoe onderrig by Gimnasium Pretoria moet lyk. Navorsers het ʼn studie van internasionale beste praktyke gemaak en die model van onderrig sal veral geskoei wees op dié van skole in Finland, Singapoer, Japan, Australië en Nederland. Die nasionale kurrikulum (Caps) sal die basis van die skool se kurrikulum vorm, maar sal verryk word. Leerders sal uiteindelik die Onafhanklike Eksamenraad se eksamen in matriek skryf.

Louis Dekker, tans die hoof van Laerskool Wierdapark in Centurion en met meer as 16 jaar ervaring in die bestuur van skole, is as uitvoerende hoof van Gimnasium Pretoria aangestel. “Gimnasium Pretoria, met die gemeenkapskonsessie wat volg, sal ʼn baken vir Afrikaanse moedertaalonderrig wees en ʼn vooruitsig van ʼn hoopvolle toekoms vir ons kinders. Met tradisionele, dog moderne beginsels en strategieë, sal Gimnasium Pretoria gebalanseerde kinders die wêreld instuur.”

Johan Koekemoer, hoof van onderrig en leer aan die SOS, sê Gimnasium Pretoria sal kinders nie net voorberei om werk te kry nie, maar om werk te skep. Hy sê tegnologie sal deel vorm van die manier hoe kennis oorgedra word, maar dat dit slegs die middel tot ʼn doel is. “Bekwame onderwysers wat ʼn sleutelrol in die onderrigproses speel, bly die sleutel tot gehalte‑onderwys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Te oordeel aan Gauteng nommerplate en nuwe intrekkers verhuis Afrikaners in groot getale na die Wes-Kaap. Dit sluit semigrante in wat die vervalle Gauteng verlaat. Kom bou eerder skole hier.

Anel ·

Maar sal gewone mense dit kan bekostig? Baie goeie plan en moet ondersteun word. Maar soos ek sê, sal ons gewone mense dit kan bekostig.

Arend ·

Baie goeie nuus. Kan nie onthou wanneer laas n nuwe afrikaanse skool in Pretoria oopgemaak het nie?

Boatsie ·

Mense, ek praat as oud Kapenaar en stem saam dat die Blanke groei nou daar drasties toeneem, maar realiteit is almal kan nie soontoe trek nie, so ek haal my hoed af vir Solidariteit vir die inisiatief en hul het met Sol-Tech gewys dat hul doen wat hul sê.
Alle voorspoed met die bou vd skool.
Trots Suid Afrikaans

houopkruip ·

Welgedaan Solidariteit, Akademia, Afriforum, Soltech, PtaFM, Afri Menlyn teater, Monumemt, ens, ens, ens. Moenie tyd mors op die Suide nie – hulle leef in droom onafhanklike woke-land.

Net-my-opinie ·

Bravo! Kom bou asb. ook in die fraaie Kaap ñ Gimnasium Kaapstad en dan ñ Gimnasium George.

Ilena ·

Kan ons dalk heeltemal wegbeweeg van die 2005 Curriculum waarin die staat ons gedruk het en die regte terme ook gebruik: Ons kinders is nie leerders nie, maar leerlinge wat opgevoed moet word en nie gefassiliteer moet word nie.

Adriana ·

Dit gaan in elk geval vir die uitgesoekte rykes wees, gewone mense sal dit nie kan bekostig, al is jou kind hoe goed, nes in die vroeë jare met die universiteite, was net ryk mense se kinders wat universiteit toe kan gaan, as jy arm was is jy weggewys.

Adriana ·

Dit gaan in elk geval vir die uitgesoekte rykes wees, gewone mense sal dit nie kan bekostig, al is jou kind hoe goed, nes in die vroeë jare met die universiteite, was net ryk mense se kinders wat universiteit toe kan gaan, as jy arm was is jy weggewys al was jou punte beter as daardie kinders.

Republikein in die Wes Kaap ·

houopkruip, ons sal self hier in die suide. Geniet die lewe in die vervalle Gauteng.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.