ʼn Gimnasium in Johannesburg moes Vrydag ontruim word nadat daar glo ʼn gaslekkasie plaasgevind het.
“Volgens inligting vanaf die toneel is daar glo ʼn sterk chloorreuk in die lug binne die gimnasium in Houghton Estate opgemerk en al die werkers en besoekers is vir veiligheidsdoeleindes uit die gebou ontruim. Dit is nog nie duidelik wat die beweerde lekkasie veroorsaak het nie en dit moet nog ondersoek word,” het Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, gesê.
Twee mans en ʼn vrou, almal werknemers, moes behandeling ontvang nadat hulle vermoedelik van die gas ingeasem het.
Al drie is in ʼn stabiele toestand met ambulanse na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Niemand anders het oor simptome gekla nie.