Gʼn berusting, geen vrede ná man se ontvoering vyf jaar gelede

Christo Bothma word sedert September 2018 vermis.

“Vrede gaan ek nooit vind voordat ek nie weer aan hom kan vat nie.

“Ek hou steeds aan die greintjie hoop vas dat my man nog lewe. My kop sê hy is dood, maar my hart wil nie ophou glo dat hy lewe nie.”

Amanda Bothma (54) se lewe is tot stilstand geruk ná haar man, Christo, meer as vyf jaar gelede vermoedelik in Burkina Faso in Wes-Afrika ontvoer en as gyselaar geneem is. Twee betroubare tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, het vier jaar gelede onafhanklik van mekaar aan die noodledigingsgroep Gift of the Givers bevestig dat Christo reeds op 19 Junie 2019 dood is.

Maar Gerco van Deventer se vrylating ná meer as ses jaar in aanhouding deur terroriste in Mali het die greintjie hoop waaraan Amanda nou al jare lank vasklou, opnuut aangewakker. Dalk leef haar Christo tog?

“Ek is oorstelp van vreugde vir die Van Deventer-familie, ek hoop Gerco sal betyds vir Kersfees by die huis wees,” sê Amanda in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Sy besef egter dat haar man waarskynlik nooit weer “betyds” vir Kersfees by haar sal wees nie.

“Dit is net jammer dat dit te laat was vir Christo …”

Maroela Media het vroeër berig Bothma, toe 52 jaar oud, is op 23 September 2018 saam met Kimar Akoliya, seun van die Indiese goudmynbaas Akoliya Patel, ontvoer. Christo het vir Akoliya se pa as instandhoudingsbestuurder by ʼn myn gewerk.

Sy familie het hom nooit weer gesien nie.

Christo en Amanda Bothma. (Foto: Facebook)

Gift of the Givers het Amanda sedert Christo se verdwyning probeer help met die proses om haar man, of selfs dan net sy oorskot, te probeer opspoor.

“Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers het ons, van die oomblik dat ek hom gebel het, geglo en gelei. Hy het alles in sy vermoë gedoen om ons te help.

“Hy het mense gestuur om uit te vind in watter land Christo aangehou word en alles gedoen om die ontvoerders op te spoor en om Christo vry te laat. Ek het hom dag en nag met vrae gepla en hy het my altyd geantwoord as hy kon.”

Amanda het enkele weke gelede ook ʼn aansoek by die hooggeregshof in Mahikeng ingedien om Christo dood te laat verklaar. Dit was hel om op daardie punt te kom; ʼn besluit wat ʼn ongelooflike emosionele tol op haar geëis het en een wat sy noodgedwonge moes neem.

“Ek sal hom nooit dood laat verklaar as dit nie nodig is nie, want dit beteken dat ek ons huwelik van 28 jaar ook nietig moet verklaar, en dit voel dan vir my of ons nooit getroud was nie … ek wens dit was nie nodig nie,” het ʼn emosionele Amanda gesê.

“Ek worstel daagliks met skuldgevoelens hieroor, my kinders was ook geensins gelukkig oor die besluit nie, maar dit is ongelukkig wat ek nou móét doen.

“Die bank staan en klop aan my deur, hulle soek ons huis. Ek en Christo is binne gemeenskap van goedere getroud, ek kan nie meer ons huis op my eie bekostig nie. Ek kan niks doen nie, dit is al waaroor dit gaan,” vertel sy.

Sy sê hoewel Gift of the Givers doodseker is dat haar man nie meer lewe nie, klou sy nog steeds vas aan die hoop dat hy dalk tog eendag huis toe sal kom.

Amanda en Christo Bothma.

“Wat is vrede? Ek het geen vrede sonder hom nie, ek sal nooit vrede hê sonder ʼn amptelike bevestiging nie. Dit is moeilik om ʼn groep te moet glo wat mense vir geld ontvoer …

“Watse hoop is daar vir die toekoms? Ek het net nie meer antwoorde nie. Daar is seker ʼn lig aan die einde van hierdie donker tonnel, maar dit is ʼn lang en ongelooflike donker tonnel,” sê Amanda.

“ʼn Mens kan nie net altyd stilstaan op een plek nie, maar ek weet nie of ek ooit sal kan aangaan nie.

“Ons praat steeds van Christo asof hy nog hier is en enige oomblik by die deur kan instap. Ons maak gereeld sy gunstelingdisse, dan gesels ons oor sy gewoontetjies en maniere van dinge doen.

“Hy is nog heeltyd in ons lewens en in ons harte, ek weet ons sal hom wel weer eendag sien,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.