Goeie nuus vir huiskopers

(Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Nadat rentekoerse sedert November 2021 deurlopend bly styg het, is daar nou al hoe meer aanduidings dat inflasie – plaaslik en in die buiteland – ʼn kruin begin bereik. Kenners en ekonome is toenemend optimisties dat rentekoerse voortaan minder skerp sal styg en later vanjaar selfs kan begin daal.

Dit is goeie nuus vir verbruikers sowel as voornemende huiskopers en bestaande huiseienaars wat ʼn verband afbetaal.

“Dit is belangrik dat die Reserwebank inflasie in bedwang moet bring en een van die sy grootste hefbome is die rentekoers. Ons verstaan dus waarom dié koerse geklim het,’ sê Carl Coetzee, uitvoerende hoof van BetterBond.

“Maar dit beïnvloed natuurlik bekostigbaarheid vir huiskopers en hulle moes meer noukeurig begroot. Die residensiële eiendomsmark het egter deurgaans sterk vertoon en veral sekere marksegmente het aangenaam verras.”

Data van BetterBond toon dat die aantal huisleningsregistrasies bestendig gebly het en deurlopend hoër was as die vlakke van voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie in 2020. Coetzee sê verbandgoedkeuringsvlakke was in November boonop 2% hoër as ʼn jaar tevore. Vir nuwelinge in die huismark was verbandgoedkeuringsvlakke 1,44% hoër.

Carl Coetzee, uitvoerende hoof van BetterBond. (Foto: Verskaf)

“Ons verwag dat huispryse vanjaar effens kan daal, totdat die huidige rentekoerssiklus ʼn toppunt bereik. BetterBond sien egter steeds ʼn gesonde aanvraag na huislenings in alle prysklasse van die mark en streke van ons land. Dit sê vir ons dat eiendom steeds beskou word as ʼn goeie belegging, veral in onseker tye.”

Verskeie neigings kan vanjaar ʼn uitwerking op die plaaslike eiendomsmark hê. Semigrasie is een daarvan.

Semigrasie-syfers het die afgelope jaar met 35% toegeneem, met diegene wat hervestig gemiddeld tussen 49 en 64 jaar oud. Data wys ook dat ʼn beduidende aantal huiskopers – ouer as 46  en wat kan bekostig om hulle in ʼn ander deel van die land te hervestig – die Wes-Kaap as een van die beste opsies beskou.

Huiskopers in die ouderdomsgroep 36 tot 49 jaar doen ook tans noemenswaardige leefstylkeuses in terme van hervestiging. “Ongeveer 20% van die kopers wat Wes-Kaap toe verhuis, sal ʼn eiendom aanskaf wat groter is as waarin hulle voorheen gewoon het, maar laer is in waarde,” sê Coetzee.

Nóg neigings wat vanjaar verwag kan word

Silwer semigrasie: Ouer huiskopers wat besluit om te hervestig, byvoorbeeld deur na kleiner dorpies te verhuis.

Deeltitel-eiendom bly gewild: Deeltitel maak die afgelope paar jaar tussen 37% en 44% van eiendomsvoorraad uit. Coetzee sê dit is ʼn uitstekende manier om ʼn eerste eiendom aan te skaf en die eiendomsmark te betree.

Volhoubaarheid word belangrik: Kopers is op die uitkyk vir gerieflike en veilige blyplekke, maar soek ook na eiendomme wat volhoubare elemente insluit. Die gewildheid van slimtoestelle vir gebruik tuis het sedert 2019 wêreldwyd met 41% toegeneem en outomatisering maak die moderne lewe (ge)makliker, sê Coetzee. “Beurtkrag en die stygende koste van brandstof en elektrisiteit, asook die skaarsheid van kosbare hulpbronne soos water, beteken dat meer volhoubare opsies – soos ʼn boorgat, sonpanele en omskakelaar – hoog op die lys is vir Suid-Afrikaanse huiskopers, asook ruimte vir ʼn kantoor en goeie konnektiwiteit sodat hulle tuis kan werk.” Dit verhoog ook ʼn eiendom se waarde.

Leefstyl-landgoedere hier om te bly: Aanvraag na dié soort eiendom sal aanhou toeneem namate veiligheid en sekuriteit belangriker word.

Mikroleefstyl: Dit is veral gewild onder stedelinge wat eenvoud verkies. “Jy sal gewoonlik mikro-wooneenhede aantref in geboue waar daar ook geriewe soos restaurante, koffiewinkels, gemeenskaplike werk‑ en oefenruimtes is – alles in een gebou” sê Coetzee.

ʼn Multi-generasie-leefstyl: Mense deel hulpbronne en kan sodoende hul lewenskoste afbring. “Groter eiendomme maak dit moontlik vir twee of drie generasies om in harmonie saam te woon omdat daar voldoende ruimte vir almal is. Ma en pa kry hulp met kindersorg, oupa en ouma kan hulle kleinkinders sien grootword en hulle voel dat hulle waardeer word wanneer vaardighede soos tuinmaak, kook, bak of handwerk met jonger lede van die gesin gedeel word – almal kry iets uit die reëling.”

Eiendomstegnologie (proptech): Wêreldwyd het beleggings in eiendomstegnologie sedert 2020 met 28% toegeneem terwyl al hoe meer verbruikers verkies om aanlyn sake te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carina ·

Ek wens banke kan hul strategie verander en diegene wat reeds bestaande verbande het, se rentekoers vasmaak oor die totale periode. Nuwe aansoekers word dan die heersende rentekoers gevra. Die aanhoudende stygings maak mens dood, veral as jy kommersiële eiendom gekoop het. Die paaiement styg sommer met ‘n paar duisend op ‘n slag, waar moet dit vandaan kom??

Ek kan ·

Gaan jy steeds hiervoor wens as die rentekoers laer daal as wat dit was toe jy gekoop het?

Koen ·

Jy moet mos beplan. Moenie iets koop wat jy nie more sal kan beskostig nie. Eenvoudig.

Sandra ·

As jy op ‘n vaste koers teken, is dit
‘n hoër koers en nie baie mense val daarvoor n ie, Jy wil tog nie meer betaal as wat jy hoef nie

Stephen ·

Niksseggende berig. Dit het nog nie gebeur nie. Gee net die mense vals hoop. Goedkoop sensasie. Wereldwye resessie verwag in 2023.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.