Goliat van Gat soek die grootste pampoene

Foto: Verskaf

Die tyd het aangebreek vir vanjaar se Goliat van Gat-pampoenkompetisie wat deur die Cullinan Boere-unie, wat by TLU SA geaffilieer is, aangebied word. Vanjaar sal dit weer op die Pretoria Boeremark se terrein in Silverton plaasvind.

Dié kompetisie vind Saterdag 11 Maart plaas en daar sal pryse wees vir die swaarste, mooiste en lelikste pampoene.

“Die swaarste pampoen wat die kompetisie tot dusver opgelewer het, het 846 kg geweeg en ons hoop om hierdie allemintige rekord vanjaar te verbeter,” sê Henri Combrink, TLU SA se voorsitter in die Sentraalstreek. “Jy kan ook onder meer kom kyk hoe ver jy ʼn pampoenpit kan spoeg en raai wat die pampoene weeg. Daar sal stalletjies en allerhande vermaak vir oud en jonk wees.

“Toe ons 19 jaar gelede op ʼn naam vir die kompetisie moes besluit, het ons na ʼn naam gesoek wat eerstens na die grootte van die pampoene verwys, asook na iets eie aan Cullinan. ‘Goliat’ dui aan dat ons hier met groot pampoene te doen het, en ‘Gat’ verwys na Cullinan se groot diamantgat. Toevallig lees ons ook in 1 Samuel 17:4 dat Goliat uit die dorpie Gat kom,” vertel Combrink.

As jy dus dink jy het ʼn pragtige Dawid-pampoen beet, moet jy beslis tussen 14:00 en 16:00 kom inweeg.

Die prysuitdeling vind om 17:00 plaas en alle pampoene word ná afloop van die kompetisie aan liefdadigheid geskenk.

Sou jy dalk die Goliat van Gat-pampoenkompetisie misloop, het Combrink die oplossing: “Jy kan vanaf Maandag 13 Maart by Uitkyk Vleismark in Silverton inloer om te sien watter Goliat koning gekraai het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Kan nie te moeilik wees nie….ons eie maletjie is goed bekwaam vir die titel

Amelia ·

Waar is van die pitte bekombaar sal seker 10jaar eet aan so bielie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.