Goud-Geel: Leandri laat rekords tuimel

Leandri Geel het reeds twee keer vanjaar die nasionale hamergooirekord verbeter. (Foto: Photo/Foto)

Jy kon waarskynlik vir Leandri Geel met ʼn veertjie omtik toe sy Woensdag in Germiston die nasionale hamergooirekord vir die tweede keer in net ʼn paar weke verbeter het.

Haar uitstekende poging van 66,11 m het nie net haar vorige rekord van 65,18 m (wat sy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap op Potchefstroom opgestel het) in die stof laat byt nie, maar dit is ook die eerste keer dat sy die 66 m-kerf bereik.

In byeenkomste óf op die oefenveld.

“Ja, ek is definitief nog trots,” het sy vandeesweek gesê.

“Ek is eintlik nog so ʼn bietjie verslae want ek het eerlikwaar nie gedink dat ek verder as 66 m sou gooi nie. Dit het my beslis onkant betrap en ek doen my bes om deur al my emosies te werk.”

Sy het omtrent kop en skouers bo haar teenstanders uitgestaan: Zahra Tatar van Algerië was tweede met haar poging van 63,05 m, terwyl Marga Cumming ook op die podium met ʼn gooi van 61,92 m gestaan het.

Cumming het natuurlik vantevore met die Suid-Afrikaanse rekord (64,31 m) agter haar naam gespog.

(Foto: Verskaf)

Volgens Geel kan plaaslike atletiekliefhebbers gerus vir Chris Harmse ʼn klop op die skouer gee; dit is immers te danke aan die voormalige Statebondkampioen se insette dat sy nou ʼn bobaas hamergooi-atleet is.

“Ek het destyds as ʼn diskusgooier aan ʼn paar senior nasionale kampioenskappe deelgeneem. Op ʼn dag het Chris egter met my kom gesels en gesê dat ek ʼn baie goeie hamergooier kan word.”

Hoewel sy aanvanklik skepties oor sy raad was, kyk sy nou nie vir een oomblik terug nie.

“Ek het in 2018 besluit om die skuif na hamergooi te maak en ek is glad nie spyt oor die besluit nie. In Mei sal ek my vyfde jaar as ʼn hamergooi-atleet vier.”

Die 25-jarige oudleerling van Hoërskool Monument in Krugersdorp vertel dat sy vir vyf dae per week aan haar vaardighede skaaf.

Sy wissel dit normaalweg tussen vyf oefenveld- en vier gimnasiumsessies af, maar wanneer sy vir ʼn groot byeenkoms voorberei, spandeer sy aansienlik meer tyd in die buitelug op die atletiekveld.

Is sy nog op haar senuwees voor ʼn belangrike gooi?

“Beslis! Maar darem so ʼn bietjie minder as vantevore. In die beginjare het my bene lekker lam geword sodra ek begin beweeg en ek het eintlik net gehoop en gebid dat die hamer in die regte rigting sal trek!”

Sy vertel dat die eerste gooi dikwels nog ʼn uitdaging is, maar die senuwees verdwyn namate sy al draaiend met meer selfvertroue in die hamergooisirkel dans.

“Ek wil bitter graag in my item onder die toptienatlete in die wêreld tel. Jy staan dan ʼn groter kans om ʼn medalje by die Wêreldkampioenskap of Olimpiese Spele in te oes. Enigiets kan dan gebeur en jy moet bereid wees om hard te baklei vir daardie goue medalje.”

En danksy die ondersteuning van haar familie, verloofde en vriende is Geel beslis bereid om vir elke liewe meter te baklei.

  • Geel se topdriepogings:

19 April 2023: 66,11 m in Germiston

1 April 2023: 65,18 m in Potchefstroom

18 Februarie 2023: 63,14 m in Germiston

Bron: https://worldathletics.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.