Grasietydperk vir rybewyse weer verleng

(Foto: Maroela Media)

Die grasietydperk om rybewyse te hernu wat voor 31 Maart verstryk het, is tot 15 April verleng. Die rede vir die verlenging van die sperdatum is omdat amper die helfte van rybewyse wat verval, weens vertragings by lisensiekantore nog nie weer hernu is nie.

Alle leerlinglisensies, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte wat tussen 26 Maart 2020 en 21 Augustus 2021 verstryk het, is dus nog tot 15 April geldig.

Die aankondiging deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, is Vrydag tydens ʼn inligtingsessie gemaak en volg ná hy aan die begin van Maart duidelik gestel het dat hy nie weer die sperdatum gaan verleng nie. Dié datum is in die afgelope twee jaar reeds twee keer verleng.

Mbalula het sy kommer uitgespreek oor die spoed waarteen die lisensies hernu word, veral met die ramptoestand se einde wat naderkruip en wat die verlenging van die grasietydperk kan beïnvloed.

“Die aanwysing in terme van die hernuwing van die rybewyse – ingevolge die Wet op Rampbestuur – sal met die opskorting van die ramptoestand ook wegval. Dit sal dan ʼn nuwe uitdaging bied in terme van hoe ver ons enige grasietydperk kan verleng,” het Mbalula gesê.

Volgens Mbalula is sowat 1,4 miljoen uit 2,8 miljoen rybewyse wat verval het, nog nie hernu nie. Teen Augustus het dié getal op 1,2 miljoen gestaan.

Mbalula sê Limpopo het die grootste getal rybewyse wat nog nie hernu is nie. Sowat 56,2% van lisensies wat in hierdie provinsie verval het, oftewel sowat 131 732 lisensies, is nog nie hernu nie.

Altesaam 185 221 (45,9%) lisensies in die Wes-Kaap moet nog hernu word, in Gauteng is dit 487 017 (49,2%), en in Noordwes moet 66 566 (49,5%) lisensies nog hernu word. Altesaam 25 902 (49,5%) is nog in die Noord-Kaap uitstaande, 69 366 (51,4%) in die Vrystaat en 234 841 (52,3%) in KwaZulu-Natal. In die Oos-Kaap moet 104 187 (53,7%) hernu word en in Mpumalanga is 119 924 (54,1%) nog agterstallig.

“Ons doen ʼn beroep op almal wat nog hul rybewyse moet hernu om nie verder uit te stel nie en voordeel te trek uit die bykomende kapasiteit wat ons verskaf het en die aanlyn dienste wat beskikbaar is. Diegene wat aansoek doen om hernuwing van hul bestuurslisensiekaarte voor die sperdatum word toegelaat om die kaart wat verval het vir ʼn tydperk van drie maande te gebruik, mits hulle die vervalde kaart en die kwitansie vir die nuwe kaart altyd in die voertuig het. Dit is ʼn bepaling wat in die Nasionale Padverkeersregulasies vervat is.”

Mbalula erken dat kapasiteit steeds die grootste uitdaging is wat die departement in die gesig staar om die toestroming van motoriste wat hul rybewyse wil hernu, die hoof te bied. “Tendense toon dat die meeste motoriste tot op die nippertjie wag om hul bestuurslisensies te hernu. Dit plaas die departement se lisensiekantore onder geweldige druk.

“Ons werk nou saam met provinsies en munisipaliteite om ons gemeenskaplike kapasiteit te laat verbeter, ten einde te verseker dat ons stelsel in staat is om op die aanvraag te reageer. Dieselfde geld vir die aanlyn dienste wat die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) ingestel het om die tyd wat motoriste in toue by die lisensiekantore deurbring, te verminder.”

Die departement het ook reëlings getref om die werksure van lisensiekantore in verskillende provinsies te verleng en oor naweke oop te hou.

Mbalula het ook aangedui dat die departement navorsing wil doen om die huidige hernuwingstydperk van vyf jaar dalk te hersien. Die navorsing sal kyk na die samehang tussen die hernuwingstydperk en veiligheid op die land se paaie en watter faktore in ag geneem moet word indien die departement die huidige vyfjaar-geldigheidstydperk wil hersien. Hierdie navorsingswerk is reeds aan die gang en sal na verwagting teen 30 April afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

marius ·

Daar is nie meer wiele wat van die wa kan afval nie , trouens , daar is nie eers meer ‘n wa nie …

Eiervrug ·

Julle maak nou net die spietkops deurmekaar. By wie mag hulle nou bribes vat, en by wie nie??. Dit is nou hoër graad hierdie…

Swerwer ·

Wat het die hernuwingstydperk met veiligheid op ons paaie te doen. Regtig……….daar is nie salf te smeer nie. Hul moet gaan kyk na 30 jaar gelede se padveiligheid/sterftes op ons paaie teen die huidige tendens want 30 jaar gelede was daar nie derduisende bestuurslisensie onwettig bekom/uitgereik nie.

domheks ·

word nie weer verlend nie! en toe sien hy sy departement kan dit NIE hanteer nie. hehehehe!!!!

boerie ·

Hy kon dit in n jaar nie regkry nie, nou wil hy dit in 15 dae doen. Wat n grap van n minister.

Cy ·

15 Dae grasie vir 1.4 miljoen lisensies .Met die huidige stelsel en stakings by die kantore sal dit nie in 150 dae gedoen word nie …Vlieg hoog en val baie hard in julle droomwêreld….

Frank ·

Maroela Media het die reg om te sorg dat hulle kommentaar aanbiedinge reg werk.

Frans ·

Was ‘n reuse gesukkel om geregistreer te word.Bel uit moedeloosheid en kry ‘n wonder bo wonder ‘n behulpsame beampte en toe kom omikron en vertraag dit met stukkende kaartmasjien dit verder,

Hennie ·

Smaak my hy rook iets goedkoops …. myne het lankal verval …. se ook so vir speedkop by padblokade … dan lag hy net … hy weet ook dis grapperag.

Strandloper ·

Wat van motor linensies…net so onbegone taak! Ekt iets oor die radio gehoor dit is ook ingesluit met die grasie tydperk. Wie kan bevestig? Help aab.

Pieter9 ·

Hier is nog ‘n hanswors aan die bestuur van sake… As die implikasie van onbekwaamheid nie so verreikend was nie, kon ‘ n mens maar net lag oor hoe die ANC sirkus Lalaland Bestuur.

SjN ·

Benoude katte maak benoude spronge, ou Frikkie, erken maar dat jul nie opgewasse is vir die taak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.