Groep oorval gesin op plaas

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Uitgebreide soektog is volgens die polisie van stapel gestuur na ʼn groep van minstens nege verdagtes wat Sondagoggend op ʼn plaas in Tinmyne buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo toegeslaan het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die verdagtes met geld en ander items ter waarde van nagenoeg R500 000 op die vlug geslaan.

Die boer was glo besig om voer vir sy vee voor te berei toe hy deur die groep verdagtes oorval is. “Hulle het hom vasgebind en in sy Toyota Hilux-bakkie geprop.” Die verdagtes het toe met die voertuig na die plaashuis gery waar hulle die boer se vrou en dogter vasgebind het.

Die verdagtes het die slagoffers glo gedwing om die kode vir die kluis te verskaf waarna hulle kontant, vier selfone, ʼn tabletrekenaar, twee pistole, drie jaggewere en juweliersware gesteel en in die boer se bakkie daarmee op die vlug geslaan het.

“Die voertuig is later verlate in ʼn veld naby Sepharane gekry,” het Mojapelo gesê. “Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.”

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het gesê hulle is dankbaar dat niemand noodlottig beseer is tydens die aanval nie.

Sy het egter daarop gewys dat mense kwesbaar is vir inbrake en aanvalle op dorpe en plase weens buurt- en plaaswagte wat nie mag patrolleer ten tyde die landwye afsondering nie.

“Die regering moet nou regtig ʼn plan maak dat die mense terug op hul poste kan kom om ons omgewings te beveilig. Ek is baie bekommerd hieroor en ons het al provinsiaal en nasionaal na die regering uitgereik hieroor en hulle wil steeds nie gehoor gee nie.”

Volgens Maritz sal haar party die week verdere vertoë tot die tersaaklike owerhede in die verband rig.

Enigiemand met inligting oor die voorval of die verdagtes word versoek om kol. Mmapitsi Sekotlong te kontak op 082 565 8426 of Stop Misdaad by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jakes ·

Waar mad hatter en sy mense nou…….daar is mos nog n aandklok reel veval eers 1Jun.
O ja dit is mos n regte misdaad…….

ES ·

Baie bly dat die mense ongeskonde is! Ek kan nie verstaan hoekom daar nie buurt- en plaaswagte mag wees nie. Mense wat ver buite dorpe gelee is, is die kwesbaarste tydens die afsondering.

Kobus2 ·

Met dié dat daar nie patrollies of buurtwagte mag wees nie, is dit ‘n geval van “more than what the eye can see?”

Claudette ·

Maak my siek al die plaasaanvalle, dit word net onder die mat in gevee

Amanda ·

Jammer mense maar ek dink onwillekeurig aan die klomp mense wat kos skenk vir die klomp wat hierdie misdade pleeg. En dan is daar die wat enorme bedrae geld gee om te help????? Ek skenk vir diereskuilings en natuurbewaring!!! Wil almal wat kan nie asseblief vir jou naaste SPCA of ander diereskuilings kos en geld skenk nie.? Groot asseblief die diere is so onskuldig en bekruip jou nie in die nag jou jou te verniel of beroof nie.

Johan ·

Blameer Bheki Cele. Is dit nie indirekte hulp aan misdadigers deur buurtwagte te verbied nie ? Maak n saak teen hom !!

Toy ·

Daar word nog vir die misdadigers gesorg ook, is om van naar te raak. Die Here slaap nie, hul moet dit net weet.

Jurg ·

Nou raak dit tyd om die hoed hof toe te sleep vir sy dade nog een op sy kerfstok hoeveel moet ons nog vat van die korrupte spul

Frank ·

Ons VERMOED die mense is fisies ongeskonde. Sekere goed word nie in die medias oorgedra nie. Psigies natuurlik nie ongeskonde nie. Dankbaar egter hulle lewe nog.

Scalla ·

Is daar onmiddelik n 72 uur inwerkingsplan deur hoedeman se mense geaktiveer???????

Koos ·

Amanda ek stem 100% saam met jou.Jy kan in die dag kos en geld gee en in die nag moet jy wakker wees hulle kom vir jou.

Pieter ·

Doen patrollies ongeag van wetgewing, hulle doen mos net grensdraad inspeksies van hul eie plaas.

MakersMark ·

Waar is hoed se SS Nou? Baie makliker om ‘n vrou wat draf in Groenpunt in ‘n sif polisiewa deur 4 polisiemanne te boender as om regte, gewapende kriminele te konfronteer. Daarvoor is hulle te onbevoeg en bang. Spul lafaards.

Oom Hennie Pennie ·

Ek self is twee maal op my plaas oorval voordat ek dorp toe getrek het. Dis maar ‘n geval jy en jou bure moet maar self patroleer .

Ansie ·

Nou hoekom sal die ANC-regering omgee. Hulle het hoeveel veiligheidswagte wat hulle oppas op die onkoste van die einste mense wat deur kriminele geteister word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.