Grond: ANC gebruik ‘propaganda, stigmatisering’ vir doel

dr-anthea-jeffery-en-jaco-schoeman

Dr. Anthea Jeffery van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en Jaco Schoeman, die sameroeper van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte tydens die groep se beraad in Silverton, Pretoria op Donderdag. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Geteikende groepe binne die mynbou- en landboubedryf, dink hulle sal beter daaraan toe wees as hulle met die ANC onderhandel of die regerende party help.

Dit is seker goed en daar is ook plek hiervoor, maar die groepe moet net besef dit plaas hulle ook op die agtervoet en hulle is besig om volgens die ANC se voorwaardes te onderhandel.

Só meen dr. Anthea Jeffrey, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding, wat Donderdag die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte by die TLU se kantoor in Silverton, Pretoria toegespreek het.

Die groep bestaan uit ʼn aantal burgerlike organisasies en politieke partye oor ʼn wye spektrum wat kragte saamgesnoer het teen grondonteiening sonder vergoeding en die beoogde wysiging aan artikel 25 van die Grondwet.

Die algemene konsensus van die groep organisasies is dat dit negatiewe implikasies inhou vir die ekonomie, voedselsekerheid, besigheidsvertroue en eiendomsreg oor die algemeen.

Verder is die groep se lede van mening dat die aandrang op die wysiging aan die Grondwet gegrond word op die aanname dat eiendom onregmatig bekom is. Hulle voel die onverantwoordelike aanslag op eiendomsreg deur opportunistiese politieke partye, organisasies en individue, wat op ʼn leuen geskoei is, is besig om die pilare van stabiliteit in Suid-Afrika erg te skud.

Jaco Schoeman, gesprekleier en sameroeper van die ad hoc-groep, het op die geleentheid gesê sy ervaring tydens die voorleggings Woensdag aan die parlement in Kaapstad oor die wysiging van artikel 25, was dat die revolusionêres mekaar persentasiegewys probeer verbysteek.

“Met hierdie voorgestelde wysiging is ʼn geweldige wilde perd opgesaal en ek is nie seker of almal bo-op hierdie perd gaan bly nie. Dit is selfs ʼn politieke bedreiging vir die voortbestaan van die parlement.

“Ek is egter oortuig ons oplossings is nie by die politiek nie. Die oplossing vir hoe om hierdie situasie te hanteer, lê by burgerlike instellings,” het Schoeman gesê.

Jeffery het die beraad gelei deur die ANC se talle pogings tot so onlangs as 2017 om beleide in te stel wat, onder meer, die eienaarskap vir swart boere inperk deur ʼn verhuringstelsel te verkies bo die uitreiking van titelaktes, asook om plafonne op die besit van grond te plaas en wit boere as buitelandse kolonialiseerders te definieer.

Volgens haar is dit alles gedoen teen die agtergrond van die ANC se volgehoue en herhaaldelike verbintenis om die nasionale demokratiese revolusie (NDR) deur te voer. Iets wat Jeffery sê altyd sal uitloop op sosialisme.

“Die ANC se strategie was nog altyd om propaganda en stigmatisering te gebruik om sy doel te bereik. Dit kan ook gesien word in die beeld wat geskets word – dat boere eintlik voor die voet rassisties en barbaarse onderdrukkers is.

“Ek glo ook vas die mislukking van grondhervorming is eintlik die ANC se skuld. Hulle wil nie hê dit moet slaag nie, want ʼn onafhanklike, suksesvolle swart middelklas en swart boeregemeenskap sal nie die party se doele ondersteun nie.”

Jeffery het ook haar kommer uitgespreek dat die publiek, media en kommentators die NDR deurentyd ignoreer.

“Dit is amper of mense nie kan glo die ANC sal landbou en die mynboubedryf vernietig bloot net om hul eie ideologiese doelwitte te bereik nie. Boonop verstaan mense ook nie werklik die NDR en sy implikasies nie – daar is baie min mense selfs binne die ANC wat dit werklik verstaan.

“Die geteikende groepe verbind nie die kolletjies wat hulle sal help om die kruipende sosialisme teen hulle te sien nie en werk ook nie saam om dit te oorkom nie.

“Verder is hulle ook nou ook al so gestigmatiseer dat ander groepe nie werklik met hulle geassosieer wil word nie.

“Sekere partye het ook suksesvol daarin geslaag om sekere gesprekspunte van die tafel af te vee. Kyk maar byvoorbeeld na Helen Zille se twiet oor die impak van kolonialisme of die idee van kolonialiste van ʼn spesiale soort. Hierdie idees moet bevraagteken word, maar in stede daarvan word dit eenvoudig net aanvaar.”

Jeffery het gesê die enigste manier waarop die NDR se agenda in Suid-Afrika teengewerk kan word, is om meer werkgeleenthede en behuising vir mense in die stede te skep – waar hulle eintlik wil wees.

“Dit is belangrik om eiendomsbesit en eiendomsreg vir mense te bewerkstellig terwyl ons bewus is van die ANC se regte dryfveer wat ʼn mengsel is van ideologie, gierigheid en die strewe om sy mag te behou.

“Ons moet mense bewusmaak van die NDR-agenda en die verskillende groepe (wat kiesers insluit) help om die groter prentjie van sosialisme te verstaan.

“Stigmas moet uitgedaag word en ons moet die publiek se ondersteuning werf vir die talle beter alternatiewe vir grondhervorming.”

  • Lees ook op Maroela Media wat dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, gesê het op die geleentheid oor eiendomsregte.
  • Lees ook op Maroela Media wat oudregter William de Villiers gesê het oor juridiese alternatiewe vir landbou en ander bekommerde organisasies op die geleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Staan saam ·

JA ONS WEET maar blykbaar gee die politici nie om vir julle menings nie en wil niemand steun aan AFRIFORUM Gee wat die WAARHEID praat nie.

honourable member ·

Sit soos beskaafde mense om n tafel en bespreek alles. Moenie net busvragte vol van die goed op plase kom aflaai en grond onwettig beset nie. Wys vir ons julle kan. Dis nie so moeilik nie.

Jerry ·

Wit en alle swart mense is bewus van NDR, maar net n paar van ons verstaan die NDR, soos onder andere, Anthea. Die punt egter, is om juis gesprek te voer omdat jy verstaan. Belange word beskerm deur gesprekvoering om kompromiee te bereik en waar kompromiee nie bereik word nie, word weerstand gebied. Dit is n fout om jouself uit te sluit uit gesprekvoering en om net weerstand te bied. Hoe dit ookal sy, wanneer jy al hierdie dinge weet het jy soveel meer rede om gesprek te voer. Deur gesprekvoering bereik jy meer as jy n sterk saak het, julle het dalk nie so n sterk saak soos wat julle probeer voorgee nie! Feite wat nie weerle kan word nie kan nie van die tafel afgevee word nie, tensy daar kompromiee bereik word. Hier sit Anthea en voer in elk geval gesprek deur die media met die ANC! Julle het die pad iewers lelik byster geraak! Alle ander groepe is verkeerd behalwe julle. Gister in die parlement was alle groepe teen julle, en nie oor die feite nie, maar oor die onversetlike benadering en daarmee saam die gepaardgaande beledigings. Julle soek vir iets wat julle gaan kry, dis Virseker! Wanneer alle groepe en selfs jou eie mense teen jou draai omrede jy jou medemens nie respekteer nie, niks gun nie en soos iets minder as menswaardig behandel, dan raak dit tyd vir ernstige selfondersoek!

Dawie ·

Wyse woorde. Respek en nugtere denke word benodig, al word jy nie dieselfde behandel nie. Emosies kan nie toegelaat word om jou standpunt te benadeel nie.

Nienie ·

Ernst Roets het niks gese wat nie alreeds in d openbare domein is nie. Ek was teleurgesteld in mense soos mnr Steve Swart. Malema kan maar grondbesetters aanhits sonder dat hy n wenkbrou lig.

Cornelia ·

Dankie vir u volgehoue bewusmaking van die aanslag teen waarheid, werklikheid. Dit help om die vyandelike magte op horisontale vlak, altyd een en meer vooruit te blokkeer. En soos dit hoort, sal die oorwinning in die geloof in ons Here en God se Rigterskap en Genade, vyandelike vestings neerwerp en by dit alles ‘n Koninkryks oes vir Sy Koninkryk insamel. Want Hy is die Lig op ons pad en die Lamp vir ons voet.

Manie ·

Daardie persoon wat so graag wil hê Afriforum moet Australië toe emigreer. Jy gaan nog self die see in gejaag word maar gewoonlik het hierdie liberalis al lankal n plan van A tot Z uitgewerk om weg te hardloop as dit te warm word.

Eish ·

Weereens die waarheid onverdun en op volle sterkte.
“… hul is besig om volgens die ANC se voorwaardes te onderhandel.”
Die IRV beïndruk my by die dag meer.
Die parlementêre beswyming was baie duidelik met Roetsrots se aanbieding gister.
Burgerlike aktivisme is die antwoord.

Anti-Kommunis. ·

Jerry, sê vir my, GROOT ASSEBLIEF, waar in die wêreld het kompromieë en gesprekvoering met ‘n kommunistiese diktatuur geslaag??? Kom my ou maat, gee vir my één voorbeeld. Al wat hulle in belangstel is mag, wat hulle met hul ‘National Democratic Revolution’ sal/wil bereik. Kyk maar wat is die bepalings/doelwitte van die ANC se 1955 ‘Freedom Charter’. Weereens, as ek die voor die handliggende mag sê: In die letters NDR staan die ‘D’ vir ‘democratic’ en dis ‘n leuen! Netso is die woord ‘freedom’ in ‘Freedom Charter’, ‘n leuen. Daar bestaan geen demokrasie en vryheid in ‘n kommunistiese bestel nie!! So lieg die ANC al die afgelope 24 jaar (en langer) vir sy mense en die res van ons. Jy moet sekerlik bewus wees van CR se stelling dat ons ‘n klomp paddas in ‘n stadig verhitte pot is: Hulle implementeer hul NDR op so ‘n wyse dat meeste mense nie eers bewus is daarvan nie. Lees maar weer Anthea se uitlatings plus haar baie insiggewende boek ‘People’s War’. Dit mag moontlik groter insae vir jou gee in die modus operandi van die kommunis. Dit is skrikwekkende goed dié, my ou maat. Mooi praat met dié mense help nie……..

Erika Ochse ·

Ek is ook teleurgesteld in Steve Swart se respons op AfriForum se inset oor grondonteiening. Ek herinner Swart graag daaraan dat RW Johnson gesê het Suid-Afrika kan net ‘n moderne industriele ekonomie hê of ‘n ANC regering. Ons weet die ANC verkies om die nugtere ekonomiese beginsels te ignoreer ter wille van hulle bewese mislukte ideologie (toe AfriForum die ANC se ideologiese beheptheid uitwys, toe is dit ‘n belediging, mnr Swart?) Net as jy ‘n opportunis of populis is, glo jy dat die ANC die land kan red. Mbeki het gevra vertrou die ANC nog eenkeer en dis gevolg die fiasko van die Zuma-era. Het hulle geluide dat ongeag ekonomiese welvaart (wat met die Rand ge beur) ANC heerskappy moet geld, by mnr Swart verbygegaan? Kyk na die teleurgesteldes buite die mure van die gebou waar daar gepraat word. Voorts was Swart nie minder beledigend nie. Toe AfriForum van die ANC en ander deelnemers verskil, toe is hulle wit rassiste. Maar, dalk verstaan hulle iets van gesonde ekonomie en welvaart?

Erika Ochse ·

Ek is ook te leurgesteld in Steve Swart. Hy het vergeet dat die ANC dit nouliks verbloem dat sy beheer belangriker is as ekonomiese welvaart en wat met die Rand gebeur. Hy ignoreer die feit dat Mbeki se versoek destyds om die ANC nog een keer te vertrou gevolg is deur die fiasko van die Zuma-era. Hy was ook beledigend deur na AfriForum as wit rassiste te verwys. Hulle verstaan dalk net iets van gesonde ekonomiese beginsels en welvaart. Hy moet buite die mure van die gebou waar die gesprek plaasvind kyk as hy teleurgesteldes wil sien

Jerry ·

Anti-Kommunis jy vra so GROOT ASSEBLIEF dat ek nie kan weier nie. Gesprekvoering en kompromiee het nerens in die wereld geslaag teen kommunisme nie, so ook nie weerstand nie. Hoekom ek gesprekvoering verkies is omdat dit minder pynlik is as weerstand. Weerstand word deur die kommuniste met intimidasie, viktimisasie, vervolging en geweld onderdruk en dit is redelik pynlik met n geween en gekners van tande as jy vreedsaam of op n lae militante skaal weerstand bied. Dit is hoekom n kombinasie van beide gesprekvoering en weerstand bepleit word. Jy kan nie gesprekvoer en nie weerstand bied nie en visa versa. Jy moet beide beoefen, daarom moet die forum hande vat met mede Afrikaners wat die praatwerk doen en terwyl ons dit doen koop ons tyd om ons voor te berei vir die slegste scenario, die een waarteen nie gesprekvoering of weerstand sal werk nie. So ja, wat kan ek se behalwe dat harde werk hef aan voor le en hoe gouer die forum dit besef hoe gouer kan ons begin voorberei vir die onvermydellike. My cut feeling se egter vir my dat die forum geensins sal voorberei vir die worstcase scenario nie omrede dit meer en meer duidellik raak dat die bou van n sakeryk eintlik die prioriteit is! Nou, as dit die geval is dan voer ons eerder maar gesprek op n versoenende manier!

Anti-Kommunis. ·

Jerry, dit blyk uit jou laaste skrywe dat jy en ek eintlik dieselfde doel nastrewe. Goedso! Ons verskil slegs op strategie en dus sal ons maar moet ‘agree to disagree’. Nietemin ek kry soms die gevoel dat daar soveel haat teenoor die witman is, dat die woord ‘versoenend’ geensins ‘n opsie vir hulle is nie. Dankie vir jou insette! Hoop en vertrou dinge werk uit vir SA se minderheids groepe en dat daar nie ‘n gewapende konflik sal wees nie. Almal is dan verloorders………

Basjan ·

Iemand het tydens ‘n ander berig gesê dat die ANC en sy melopers geskrik het toe Ernst die spiël voor hulle gehou het. Een van die beste kommentare wat ek nog gelees het!

Jerry ·

Stem saam. Daarom moet ons nie te veel op ander groepe fokus nie, maar op onsself, ons eie heil uitwerk sodat dit vir ons as n groep die beste uitwerk met die minste van verloor verloor gevolge. Ons moet begin om ons mense hoop te gee en om dit reg te kry moet ons sake vir beskerming van ons regte wen. Ons moet nie domastrant en volgens standpunt ons laat intrek in sake wat ons weet ons kan nie wen nie, dit skep onsekerheid en bring wanhoop, moedeloosheid, woede en haat. Ons mense is ons grootste bate, hulle en hulle belange en geleenthede moet eerste gestel word. Die teiken op ons mense moet versag word, dit kan nie verder verhard word nie. Veiligheid vir ons mense moet bo ideale gestel word. N goeie stuurman weet wanneer dit tyd is om rigting te verander! Terwyl ons al hierdie goeie dinge doen, hou ons ons oog op die slegste scenario sodat ons nie met ons broek om ons enkels gevang word nie en met die wete dat ons nie n eie polisiemag of weermag het nie. Ons uitkyk moet dus wees, leef en laat leef en oorleef deur eenheid in strewe na oorlewing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.