‘Grondhof nie oplossing’ – AfriForum, Saai

Argieffoto: Pixabay

Die organisasies AfriForum en Saai sê die Wetsontwerp op die Grondhof is nie ’n volhoubare oplossing vir die probleme rakende die grondhervormingswetgewing nie. Dié wetsontwerp is Maandag deur Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, en Ronald Lamola, minister van justisie, bekendgestel is.

Maroela Media het vroeër berig Didiza en Lamola meen die Wetsontwerp op die Grondhof sal sistemiese uitdagings soos ervaar deur die grondeisehof, oorkom. Onder meer sal permanente regters in die grondhof aangestel word.

Volgens Didiza is die doelwit om dispute oor grond vinniger op te los. Sy het bygevoeg dat meer geld ook aan die Regshulpraad toebedeel sal word, wat toegang tot grond sal versnel.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, voer aan dat ’n nuwe hof nie die probleme rakende grondhervorming gaan oplos nie en belastingbetalers bloot net meer geld uit die sak gaan jaag.

“Ons het reeds genoeg howe en wette wat sake rakende grondhervorming kan hanteer. Om ’n nuwe hof te stig, gaan nie ’n oplossing vir ons probleme wees nie,” sê Roets.

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, beaam Roets se stelling en sê die bestaande howe, wetgewing en beleid moet bloot rég deur amptenare toegepas word.

“Hierdie amptenare skep ʼn groter probleem in die toepassing van die grondhervormingswetgewing as wat hulle daartoe meewerk om goeie uitkomste te kry,” sê De Jager. “Daar sal amptenare aangestel moet word wat aan die inhoud van Suid-Afrika se beleid en wetgewing rakende grondhervorming beslag kan gee.”

Volgens Roets en De Jager is dit reeds duidelik dat korrupsie, bedrog, nepotisme en die onvermoë en oneerlikheid in die betrokke departement die grootste probleem vir die tekort aan grondhervorming en restitusie is.

Roets sê daarmee saam het die regering erken dat meer as 90% van die grondhervormingsprojekte reeds misluk het. Hy sê die departement het reeds oor die jare klomp geld aan grondhervorming spandeer wat eerder gebruik kon word om grond in die mark aan te koop. De Jager voeg by dat die mislukking van grondhervorming tot dusver voor die deur van kaderontplooiing, selfverryking en staatskaping gelê moet word.

Verder heers daar steeds onsekerheid rondom onteiening sonder vergoeding. Die Grondwet is nog nie gewysig nie, maar daar is al prosesse en bepaalde hofsake in hierdie verband aan die gang.

Die onteieningswetsontwerp is oop vir bespreking – waarop daar geweldige kritiek deur die burgerlike samelewing oor die inhoud daarvan ingedien is. Talle Suid-Afrikaners is van mening dit sal ongrondwetlik wees om dié wetsontwerp deur te voer.

Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, het verlede week altesaam 85 000 besware teen die onteieningswetsontwerp by die parlement ingehandig. Die DA en die VF Plus het mense ook aangemoedig om hul stemme teen die wetsontwerp te laat hoor, en onderneem om dit hand en tand te bestry.

Roets sê AfriForum het reeds aangedui dat indien die wetsontwerp deurgevoer word, die organisasie die saak na die Konstitusionele Hof sal neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Om grond te wil vat vir mahala is ook nie die oplossing nie!!! Tsek man gaan werk vir julle goed soos ons elke dag doen!

Pieter ·

So gaan dit as jy met kommuniste en terroriste probeer onderhandel. Pleks neem julle standpunt in en kry klaar.

Dup ·

Dit is soos om heeltyd nuwe en groter tronke te bou maar nie die misdaadprobleme aan te spreek nie.
Net nog ñ nuwe hof wat gebruik word om die tekortkominge en mislukkings in hulle grondhervormingbeleid mee toe te pleister.

Suzette ·

Hulle sal nie luister nie, want hulle weet beter al is alle bewyse tot die teendeel!

Hennie J ·

Net nog n “dumping ground” vir anti wit regters. Ons ken hulle al en weet wat die uitkoms van n saak sal wees as hulle voorsit EN beslis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.