Grondonteiening: ‘Dit sal ekonomiese selfmoord wees’

Argieffoto

Verskeie organisasies het Donderdag hul skok en woede uitgespreek oor die ANC se aankondiging dat dié party artikel 25 van die Grondwet wil wysig om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Agri SA meen daar is geen rasionele gronde vir dié besluit nie. “As dié artikel gewysig word om [grondonteiening sonder vergoeding] toe te laat, sal dit ekonomiese selfmoord wees. Die finansiële markte sal ongetwyfeld onttrek uit Suid-Afrika en beleggingsvertroue sal aan skerwe spat,” sê Agri SA in ʼn verklaring.

Die landbousektor het die beste gevaar in die eerste drie kwartale van 2017 en was die grootste bydraer tot die 2%-groei in die bruto binnelandse produk (BBP) in die derde kwartaal.

Dan Kriek, president van Agri SA, het gesê hulle vra deurlopend vir verblyfregsekuriteit en eiendomsregte vir afgeleë gemeenskappe en dit is tyd dat die ANC dit as ʼn geleentheid sien om nuwelinge in die landbousektor te bemagtig en befondsingsmeganismes te ontsluit.

Kriek het gesê Agri SA daag die ANC uit om te verduidelik hoe dié voorgestelde wysiging produksie of suksesvolle ontwikkeling van nuwe boere gaan bevorder. “Ons sal dit graag met Ramaphosa en ander leiers wil bespreek.”

Die VF Plus het intussen gesê die besluit dat die land se Grondwet gewysig moet word om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat, is gevaarlik en bedreig die landbousektor, private grondbesit en die ekonomie. “Die besluit bedreig in wese alle private grondbesit en baan die weg om later grond in Suid-Afrika te nasionaliseer,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“Diegene wat glo dat die voorwaardes van die besluit dat voedselsekerheid en die ekonomie nie benadeel mag word nie, effektief die onteiening nie moontlik maak nie, word mislei deur mooi woorde. Cyril Ramaphosa is ʼn meester om klem te lê op die aspekte wat mense gemoedsrus gee, maar die interpretasie van die voorwaardes sal ‘n ANC-interpretasie wees.

“Indien die Grondwet eers gewysig is, sal die interpretasie van voedselsekerheid so wyd geïnterpreteer word dat landbougrond onteien sal kan word sonder vergoeding,” het hy gesê.

“Ramaphosa het geen keuse as om die wil van die ANC uit te voer nie en hy as individu se magte is beperk. Indien die Grondwet eers gewysig is, is dit neusie verby vir private grondbesit op die langtermyn. Die Vryheidsfront Plus sal alles in sy vermoë doen om hierdie wysiging van die Grondwet te verhinder.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het gesê die ANC se besluit kom neer op ’n besluit “om diefstal te pleeg en die land op dieselfde vernietigingspad te plaas as wat deur Zimbabwe gevolg is met die ondermyning van eiendomsreg”.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is respek vir eiendomsreg ’n kernvereiste vir ’n suksesvolle ekonomie. “Lande wat eiendomsreg skend, word gekenmerk deur werkloosheid, armoede en ekonomiese agteruitgang. Die ANC se besluit om eiendomsreg te skend, sal dus almal in die land benadeel, behalwe die klein groepie elite wat voordeel uit die ANC se diefstalplan sal trek,” het Kriel gesê.

Kriel wys daarop dat die ANC se plan om eiendomsreg te skend ’n verdere aanduiding is dat die ANC nie die ooreenkomste wat tydens die onderhandelde oorgang van 1994 bereik is, as bindend beskou nie. “Minderhede en ander wat gaan deurloop onder die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms kan dus nie hulle hoop op enige ANC-leier plaas nie en sal self stappe moet neem om na hulle eie belange en eiendom om te sien,” voeg Kriel by.

Kriel meen AfriForum, sy lede en ander “wat ook hard gewerk het vir wat hulle het, sal nie net terugsit en toekyk hoe hulle eiendom gesteel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
bgj van der westhuizen

wel as daar die wet deur kom wil ek weet gaan hulle ook die bank betaal wat geld geskuld word

Eish

Wel, wel, wel, al wat die meerderheidsregering met sy konferensie regkry het, is om n nuwe gesig aan sy minderheidsvervreemdingsbeleid te verskaf. Met die volgende algemene verkiesing binne roepafstand, kan ons, onself staal vir n populisties gedrewe beleid en optrede deur die praatpatriotte ten einde die wegblyers en die apatiese oud ondersteuners in hul hordes terug te bring. Ongekende verbeterde dienslewering, noue skakeling met kiesers, witmansbelasting, biljoene leë beloftes en n paar ander foefies om te verseker hul sit die volgende 5 jaar die stoele van mag warm. Om die wysiging deur die parlement te kry, gaan ook nie n… Lees meer »

Cherokee

Wat het geword van die stil groepie (menende de klerk, meyer, botha, van schalkwyk & kie?) Dit is opmerklik dat hulle geen woord sprak. Sommige van hulle is sover my kennis strek, lede van die anc.

pieter

EN HY PRAAT NOG STEEDS ONS TAAL. CYRIL SOEK STEMME

Boervrou

Kan nie sien hoe enige boer net gaan terugsit en kyk as hul jou grond wil vat nie. Dit kos baie sweet trane en deursettings vermoë om te boer. Niemand het grond verniet gekry nie.