Groot opgewondenheid oor skaars wilde bye in Engeland

‘n Heuningby keer terug na ‘n kolonie in ‘n eikeboom op die Blenheim-landgoed in Engeland. Die ontdekking van die wilde bye in die ongerepte woude veroorsaak groot opgewondenheid. (Foto: Joe Jackson/AFP)

Waar hy teen die stam van ʼn stokou eikeboom hang en inloer by ʼn klein, donker gaatjie wat wemel van bye, kan Filipe Salbany beswaarlik sy opgewondenheid beteuel.

“Verstommend – die koningin lê eiers,” roep die 55-jarige natuurbewaarder terwyl hy 15 meter bo die grond aan ʼn tou hang.

“Dit is soos ʼn klaskamer. Dit is fantasties. Ongelooflik!”

Die Suid-Afrikaanse omgewingsbewaarder het die woude op ʼn landgoed naby Oxford in die suide van Engeland die afgelope 18 maande deurkruis op soek na byekorwe.

Sy ongebreidelde entoesiasme spruit uit die geloof dat hierdie geen gewone bye is nie.

Salbany het dit geïdentifiseer as ʼn skaars eko-soort – ʼn spesifieke spesie wat ʼn spesifieke habitat bewoon – met ʼn oorsprong wat vermoedelik eeue oud is en hier in die Oxfordshire-platteland ʼn veilige hawe gevind het.

DNS-toetse word nou gedoen om die bevinding te staaf, maar die moontlike ontdekking van wilde afstammelinge van sogenaamde inheemse bye het Blenheim, waar die ontdekking gemaak is, en talle ander kenners, uiters opgewonde.

Daar is vroeër vermoed bevolkings soos dié het weens siektes, die gebruik van insekdoders en mededinging met uitheemse bye, grootliks verdwyn. Salbany glo egter hulle voortgesette bestaan het ʼn wêreldwye uitwerking.

“As ons dit in meer stokou woude, in verskillende lande kan doen, as ons plaaslike subspesies van bye kan vind, kan ons soveel meer van die omgewing leer en landboustelsels verbeter,” sê Salbany.

“Of dit nou Roemenië, Bulgarye of Frankryk is – ons moet kyk na die spesies wat oorleef en begryp watter faktore die bye raak, of dit nou chemikalieë, insekdoder of menslike ingryping is.

“Ons kan ophou om die verskillende geslagte bye te meng en minder vrektes kry. Sodra daar minder vrektes is, kan ons bestuiwingsvlakke op goeie vlakke handhaaf.”

Verwagtinge oortref

Heuningbye in een van die kolonies wat op die landgoed in Engeland ontdek is. (Foto: Joe Jackson/AFP)

Bye is ʼn onontbeerlike deel van die natuurlike omgewing en bestuif die meeste van die kos wat mense eet.

Salbany voer egter aan dat bestuurde heuningbybevolkings uitermate gekoloniseer is om aan die behoeftes van mense te voldoen.

Dit het ʼn negatiewe uitwerking op die omgewing en veroorsaak onder meer stres vir die bye.

“Die heuningby het heldestatus bereik, maar ons het iets gekommersialiseer wat nie gekommersialiseer moet wees nie,” sê hy.

Intussen is al hoe meer inheemse bybevolkings wêreldwyd in die gevaar.

In Engeland, waar die meeste bye ingevoer word en in bestuurde korwe gehou word, het sowat ʼn derde van die wilde bevolking na raming oor die afgelope paar dekades verdwyn, veral weens die verwoesting wat die varroa-myt onder bybevolkings saai.

In Blenheim, waar dit lyk of die bye glad nie daardeur geraak word nie, vermoed Salbany die bye het onder meer aangepas om saam met die parasiet te leef.

Blenheim is die tuiste van ʼn Wêrelderfenisterrein en spog met die grootste versameling antieke eikebome in Europa in die hoofsaaklik ongerepte woude wat duisende hektaar beslaan. Groot gedeeltes van die woude is verbode vir die publiek en geen bestuurde korwe of landbouproduksie waar insekdoders gebruik word, word toegelaat nie.

Dit het die perfekte habitat vir die bye geskep.

Salbany, ʼn fisioloog en voormalige internasionale fietsryer wat elite-ryers afrig as hy nie op die spoor van bye is nie, het sy navorsing in Blenheim sonder enige groot verwagting begin.

Verbasend genoeg het hy reeds byna 50 korwe in bome opgespoor en hy meen tot soveel as 500 kan in Blenheim se woude aangetref word.

“Dit het verreweg my verwagtinge oortref,” sê hy oor die ontdekking in die woude wat eikebome huisves wat tot 600 jaar oud is en die tuiste is van byneste wat twee eeue terugdateer.

“Ongelukkig is daar nie meer baie plekke soos hierdie oor nie.”

Unieke bye

Navorser Filipe Salbany in een van die reuse-eikebome op die landgoed, op soek na nog wilde bye. (Foto: Joe Jackson/AFP)

Die Blenheim-bye is kleiner, wolleriger en donkerder as die bye wat gewoonlik in Britse korwe aangetref word en leef ʼn grootliks ongesteurde lewe.

“Dit is ʼn by sonder die stres van gif, chemikalieë of die stryd om oorlewing.

“Die bye het oor ʼn lang tydperk in hul natuurlike omgewing oorleef – en dit is wat belangrik is.”

Salbany wag nou vir die uitslae van DNS-toetse om die presiese oorsprong van die Blenheim-bye te bepaal, terwyl Rob Stoneman, verbonde aan die Wildlewetrust, die ontdekking reeds as “merkwaardig” bestempel het.

“Dit dui op die waarde en kompleksiteit van ons antieke woude en die behoefte om hierdie unieke habitatte vir ewig te beskerm,” sê Stoneman.

Hy sê dit benadruk ook die belang om meer ongerepte gebiede te skep sodat ontdekkings soos dié later algemeen word en ʼn geskenk vir toekomstige geslagte sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.