Groot skade toe Oos-Kaapse kerk brand

(Foto: Verskaf)

Groot skade is aangerig toe ’n brand vandeesweek in die koepel van die historiese NG-kerkgebou op Burgersdorp in die Oos-Kaap uitgebreek het.

Georg Putter, voorsitter van die kerkraad en leierouderling, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die brand het Maandag omstreeks 12:00 in die koepel in die dak van die kerk ontstaan.

Hoewel die oorsaak van die brand in dié stadium nog nie bevestig is nie, word daar vermoed dat die brand weens ’n kortsluiting in die koepel ontstaan het. “Ons het gestaan en kyk hoe dit smeul en begin brand. Daar was geen manier dat ons daar bo kon uitkom nie.”

Volgens Putter was die hulp van die gemeenskap egter verstommend.

Hy vertel dat sommige lede van die publiek hand bygesit het om van die meubels in die kerk na buite te dra terwyl boere gehelp het om die vlamme te blus. “Ek het in ’n stadium 37 bakkies met brandblussers buite die kerk getel.”

(Foto: Verskaf)

Volgens Putter is die brand ná ’n gespook teen omstreeks 18:00 geblus, maar die brand het teen weer 19:30 opgevlam. Daar is toe weer tot 23:00 gespook om die vlamme te blus.

Die koepel het heeltemal ineengestort weens die brand en groot skade is aan die kerkgebou aangerig. “Ons grootste doelwit was om die orrel en die kansel te beskerm,” het Putter gesê.

Hoewel die kerk se orrel en preekstoel nie gebrand het nie, is daar wel waterskade aangerig terwyl die vlamme geblus is.

Die NG-Kerk op Burgersdorp se orrel is meer as 200 jaar oud en het van die ou kerkgebou gekom toe die gemeente in 1912 die nuwe kerkgebou in gebruik geneem het, vertel Putter.

(Foto: Verskaf)

Jan Elsenaar, ʼn Vrystaatse orrelbouer, is vanmiddag op pad Burgersdorp toe om die skade aan die orrel te bepaal. “Daardie orrel is van historiese waarde. Dit is ’n monument,” het Elsenaar gesê.

Volgens Putter sal die kerk se sowat 700 lidmate nou in die kerksaal bymekaar moet kom terwyl die skade aan die kerk herstel word. Hy verwag egter nie dat skade van dié omvang vinnig herstel sal kan word nie.

“Ek dink emosioneel is dit nogal ’n groot slag. Dit raak ook nie net die gemeenskap nie maar ook die res van die land. Dit is verstommend hoeveel mense ’n verbintenis met die NG-kerk op Burgersdorp het. Sommige is hier gebore en gedoop, ander is hier aangeneem of getroud.

“Die realiteit is dat die kerk gebrand het, maar die Here het ’n plan daarmee. Ons is opgewonde om te sien wat sy plan is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Dis ‘n absolute ramp. Ek stel voor dat die bedrading in historiese geboue gereeld ge-inspekteer word om skades van die omvang te verhoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.