Groot uittog uit Soedan; talle SA’ners nog gestrand

Verskeie lande het die afgelope paar dae honderde mense uit Soedan na veiligheid geneem terwyl gevegte in die land voortduur. Dié groep het uit Soedan by ‘n weermagbasis in Amman, Jordanië, aangekom. (Foto: Khalil Mazraawi/AFP)

Tientalle Suid-Afrikaners bevind hulle nog in Soedan terwyl ander lande hul mense so gou moontlik uit die land help neem weens die voortslepende konflik tussen paramilitêre groepe en die weermag.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Maandagoggend gesê die regering weet van 77 Suid-Afrikaners wat tans in Soedan is en “oorweeg alle opsies” om dié landsburgers veilig uit die land te bring.

Verskeie buurlande het Suid-Afrika ook reeds om hulp genader.

“Ons werk onverpoos om ons mense uit te kry. Ons weet van lande wat hul diplomate onttrek, maar ons wil nie net diplomate onttrek nie. Ons wil alle Suid-Afrikaanse burgers in Soedan en landsburgers van ons buurlande uitkry,” sê Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco.

Suid-Afrikaners in Soedan is egter uiters gefrustreerd oor wat hulle bestempel as ʼn gebrek aan kommunikasie van die regering.

Monyela sê die grondspan in Soedan sit sonder krag, aangesien daar tans geen elektrisiteit in Khartoem is nie, en hul rugsteunbattery het reeds afgeloop. Die span kon intussen wel een foon se battery gelaai kry en het onderneem om gereelde terugvoer aan die Suid-Afrikaners in Soedan te gee.

Monyela het ook die versekering gegee dat die Suid-Afrikaners se onttrekking tans die regering se grootste prioriteit is.

Groot uittog

‘n Konvooi verlaat die naweek geweldgeteisterde Khartoem in die rigting van Port Sudan. (Foto: Abubakarr Jalloh/AFP)

Saoedi-Arabië was Saterdag die eerste land om burgers suksesvol uit Khartoem te verwyder. Die meer as 150 mense wat Saterdag tydens dié operasie uit Khartoem geneem is, het intussen veilig in hul onderskeie lande aangekom.

Dit sluit in 91 burgers van Saoedi-Arabië en 66 burgers van 12 ander lande, naamlik Koeweit, Katar, die Verenigde Arabiese Emirate, Egipte, Tunisië, Pakistan, Indië, Bulgarye, Bangladesj, die Filippyne, Kanada en Burkina Faso.

Verskeie lande het sedertdien Saoedi-Arabië se voorbeeld gevolg.

Die Amerikaanse weermag het Sondag meer as 100 troepe en drie helikopters gestuur om personeel van die Amerikaanse ambassade in Khartoem te onttrek.

Maroela Media het vroeër berig die helikopters was minder as ʼn uur in Khartoem op die grond voor hulle met minder as 100 mense uit die hoofstad gevlieg het.

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het aangekondig dat dié land sy ambassadepersoneel uit Soedan onttrek het.

Europese Unie

‘n Man hou ‘n kind vas kort nadat hulle by ‘n weermagbasis in Amman, Jordanië, aangekom het. Honderde mense vlug uit Soedan weens die hernude konflik. (Foto: Khalil Mazraawi/AFP)

Meer as 1 000 burgers van die Europese Unie (EU) is teen Maandagoggend uit Soedan na veiligheid geneem.

Twee Franse vliegtuie het Sondag in Djiboeti geland met altesame 200 mense van verskeie nasionaliteite.

Die Nederlandse minister van buitelandse sake, Wopke Hoekstra, sê ʼn “handvol” Nederlanders is met behulp van ʼn Franse vliegtuig verwyder, met ʼn ander groep Nederlanders wat Khartoem in ʼn konvooi van die Verenigde Nasies (VN) verlaat het.

Die Griekse ministerie van buitelandse sake sê ʼn groep Griekse burgers het Soedan danksy die Franse regering se hulp verlaat.

Italië het op sy beurt ongeveer 200 mense onttrek. Dit sluit in alle Italiaanse burgers wat “gevra het” om die land te verlaat, asook verteenwoordigers van die Vatikaan.

Duitsland het 300 mense, onder wie Duitsers en ander landsburgers, uit Soedan onttrek ná ʼn aanvanklike mislukte poging Woensdag.

Soedannese burgers gebruik donkiekarre om watertenks op te vul te midde van voortslepende geweld in dié Afrika-land. (Foto: AFP)

Swede se minister van verdediging het Sondag aan AFP gesê “140 tot 150” soldate is gemobiliseer om diplomate en ander Sweedse burgers na veiligheid te help neem.

Die Ierse regering gaan op sy beurt 12 weermaglede na Djiboeti ontplooi om 150 burgers in Soedan uit die land te help neem.

Geweld het op 15 April uitgebreek ná weke lange spanning tussen die weermagleier Abdel Fattah al-Burhan en sy adjunk, paramilitêre bevelvoerder Mohamed Hamdan Dagalo, oor die beplande integrasie van Dagalo se Rapid Support Forces (RSF) in die gewone weermag.

Monyela het vanoggend aan Maroela Media gesê die gevegte duur voort, terwyl die lughawe en verskeie paaie gesluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime het baie prioriteite. Wat van ‘n minister van onttrekking?

Duck ·

Ons ou planeet is darm nie meer soos dit was nie, als gaan agteruit met ‘spoed. Oral baklei en moor hul. Besig om ons self van uitwisting te verseker. Ons het net een lewe en dit word so misbruik en vermors.

Johanna ·

Suid Afrika sal laaste wees. Te bang hul moet geld uitgee

SwartBees ·

Hul maak eers hulle somme omtrent die geld wat ui gegee moet word….hulle wil eers self sien hoeveel hulle kan pocket. (En ons weet hoe is hul wiskunde…. eleventy + twentytie = blue.)

Jaco ·

Die “regte” velkleur sal natuurlik ook ‘n rol speel in besluite oor wie wanneer ontruim kan word.

Amelia ·

en so word ons buurlande weer gehelp sou hul ons gehelp het ek glo nie en weer eens sal president SA se mense ontrek as dit te laat is ai gevegte van watter aard en rede is wreed altyd soveel onskuldiges wat daar onder ly

Fran ·

Nee wat, die korrupte SA regering sal ‘n moordenaar en verkragter met ‘n private straler laat haal maar wee jou as jy ‘n burger in ‘n oorlog land is. Hulle gee GLAD nie om vir jou veiligheid nie! DIRCO is ‘n grap met ‘n grap minister.

Surfer ·

Wys jou net weereens wat is die kommunistiese regering se prioriteite, hul eie geld sakke. Nie hul (ons) mense nie. Die laaste land wat hul mense uit help. Patetiese gespuis.

GenX ·

Stuur sommer dieselfde vliegtuig wat vir TB gaan haal het. Hulle weet al dit is die goedkoopste vlug. Meer bekommerd oor n moordenaar as hul landsburgers. Siek verby.

Amelia ·

ai kommentaar verwyder kom ons probeer ander woorde vir bester was daar meer as 1miljoen
asb kry die suid afrikaner daar uit lw suid afrikaners en

Marcello ·

Dit laat ‘n mens maar net besef hoe min voel die ANC vir burgers in die buiteland. Want al die ander lande het onmiddellik gereageer, maar SA wil eers witbroodjies bak voor hulle iets doen, indien wel IETS. Dit is a.g.v die swak omstadighede in SA, wat SA se mense in die buiteland moet gaan werk, om vir ‘n gesin te kan sorg.

Anton ·

Sal eers n tender uitsit, laai met 1000%, verdeel onder mekaar en dan iets doen. Teen daai tyd is die oorlog verby en hulle is skatryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.